Deurbraak in ondersoek na Senzo Meyiwa-moord

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Presies ses jaar nadat die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa by sy vriendin se huis in Vosloorus in Ekurhuleni doodgeskiet is, is vyf mense in verband met sy moord aangekeer.

Bheki Cele, minister van polisie, het Maandag gesê die vyf mense is vanoggend in onderskeidelik Gauteng en KwaZulu-Natal aangekeer. ʼn Vuurwapen wat reeds positief met die moordtoneel verbind is, ook gevind.

Die opspraakwekkende moord het groot kritiek ontlok weens die polisie oënskynlike onvermoë om ʼn beduidende deurbraak te maak. Daar was die afgelope paar maande boonop hernieude bespiegeling oor wie vir die moord verantwoordelik is.

Cele het gesê die ondersoek is oorhandig aan die polisie se eenheid wat spesifiek op onopgeloste sake (cold cases) konsentreer, wat sedertdien nou saam met die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gewerk het om ʼn behoorlike saak saam te stel.

“Die polisie en die vervolgingspan is vol vertroue dat ons ʼn waterdigte saak teen al vyf verdagtes het,” het Cele gesê.

Volgens die polisie is nog inhegtenisnemings op hande. Een van die persone wat in hegtenis geneem is, het vermoedelik die sneller getrek van die wapen wat gebruik is om Meyiwa te vermoor.

Aanhangers bring destdys hulde aan die vermoord Bafana-kaptein, Senzo Meyiwa. (Argieffoto: Giordano Stolley/SAPA)

Cele het die inligting wat die afgelope ruk oor die ondersoek aan die media uitgelek is, ten sterkste veroordeel en sê dit benadeel die ondersoek. Die minister wou hom verlede week onder meer nie uitlaat oor bewerings dat die moordwapen gevind is nie en het vandag gesê stappe sal gedoen word om diegene verantwoordelik vir die uitlek van inligting voor stok te kry.

“Inligting neem ons nie hof toe nie; wat ons hof toe neem, is bewyse,” het die minister gesê.

Hy het ook gesê hoewel dit eindelik ses jaar geneem het om ʼn behoorlike deurbraak in die saak te maak, was hy deurlopend vol vertroue dat die regte verdagtes opgespoor sou word.

Die minister het gesê omdat inligting so gereeld uitgelek het, is Meyiwa se familie nie voor die aankondiging oor die inhegtenisnemings ingelig nie. Die polisie sal later vandag wel met sy familie daaroor vergader.

“Hoewel ses jaar verloop het, bly ons vol vertroue dat die inhegtenisnemings die eerste stap is om berusting vir Senzo Meyiwa se familie, vriende en aanhangers, asook miljoene Suid-Afrikaners, te bring,” het Cele gesê.

Die minister het ook sy dankbaarheid teenoor die NVG te kenne gegee wat nou by die ondersoek betrokke is.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, het gesê drie van die verdagtes “was nie noodwendig in die huis” waar Meyiwa in Oktober 2014 doodgeskiet is nie.

Volgens hom sal die verloop van die ondersoek ook bepaal of die aanval op Meyiwa ʼn sluipmoord of ʼn goed beplande moord was.

Cele het gesê dit is bloot toevallig dat die inhegtenisneming presies saamval met die dag van Meyiwa se dood.

Die vyf verdagtes verskyn Dinsdag in die Boksburg-landdroshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

tweeling ·

Inligting en bewyse loop hand aan hand Hoedman. As ‘n getuie inligting in die hof verskaf is kan dit as bewyse tel.

Johanncb ·

Hopelik sal plaasmoorde in die toekoms dieselfde aandag en deeglikheid geniet!

Cherokee ·

Dink ‘n sluipmoord en goed beplande moord, is dieselfde. Miskien word ‘vooraf beplanning’ bedoel.

Cecilia ·

So hoe gaan d SAPS 6 jr ltr bewys wie het d sneller getrek? Gun shot residue bewyse is lankal afgewas?
Cele kan nou vinnig kommentaar lewer maar met plaasaanvalle is sy mond gesnoer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.