Deurbraak in restaurant-eienaar se moord

Ben Tuzee is ‘n week gelede in Browns Farm vermoor. (Foto: Debbie Tuzee/Facebook)

Drie verdagtes, onder wie ʼn tienerseun, is Maandag in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by die moord van die restauranteienaar Ben Tuzee (51) in Browns Farm in Kaapstad.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê die polisie se ondersoek na Tuzee se moord het hulle na drie verdagtes, onderskeidelik 23, 18 en 16 jaar oud, gelei.

Die verdagtes sal na verwagting in die Athlone-landdroshof verskyn sodra hulle formeel van moord en kaping aangekla is.

Tuzee was verlede week saam met sy susterskind op pad om ʼn televisiestel, wat hy op sosiale media geadverteer het, te verkoop toe hy aangeval is.

Die slagoffers het Dinsdag om 09:45 in Msengestraat in Philippi stilgehou toe drie verdagtes hulle oorrompel het. Tuzee het verskeie steekwonde aan sy lyf opgedoen en is later dood verklaar. Sy susterskind het egter ongedeerd van die voorval afgekom.

Volgens Traut het die polisie later ʼn kort afstand van waar die aanval gebeur het op Tuzee se gekaapte motor afgekom.

Sedert Tuzee se moord het ander slagoffers ook onder soortgelyke omstandighede in vermoedelik dieselfde gebied deurgeloop. Jacques Bruwer en sy seun het aan Maroela Media vertel dat hulle twee weke voor Tuzee se dood ook aangeval en beroof is.

“Ben Tuzee se moord word nie as ʼn geïsoleerde voorval beskou nie,” sê Traut.

“Ons is bewus van nog voorvalle waarin mense van sosialemediaplatforms gebruik gemaak het om items te adverteer en dan aangeval is nadat hulle versoek is om die items in Nyanga in gebiede soos Browns Farm en Crossroads af te lewer.”

Die polisie vermoed dat die betrokke verdagtes, en ander misdadigers, hul belangstelling in ʼn geadverteerde item op sosialemediaplatforms, soos Facebook Market Place, gebruik om mense in ʼn lokval te lei. Slagoffers word dan beroof, ernstig beseer of selfs vermoor.

Traut het lede van die publiek gemaan om waaksaam te wees wanneer hulle wel items wil verkoop.

“Hierdie modus operandi kan vermy word deur eerder die potensiële koper by ʼn openbare plek te ontmoet.”

Maroela Media het intussen van nog só ʼn voorval bewus geraak. Hou Maroela Media dop vir verdere inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Althes ·

My innige simpatie aan die oorledene se familie. Jongmense wat so gewelddadig is – danksy ANC dat morele verval so stink.

AmY ·

Waarom ontmoet die mense mekaar nie in ‘n openbare plek soos by ‘n besige winkelsentrum nie?
Dis tog die logiese ding om te doen.

ES ·

Klim net in in ‘n ongemerkte bussie, groep van so 6 gewapende individue, en dan wag jy dat die klomp op jou afstorm en dan genees jy hulle van hul boosheid…

Elize ·

Dit laat my dink aan Tania Oosthuizen n haar bende in die 2000’s wat mense beroof het wat advertensies op Junkmail geplaas het. Kriminele gedrag het geen limiet in die land nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.