Deurbraak in rooftog by Fidelity

(Foto: Fidelity Services Group)

Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die onlangse gewapende rooftog by Fidelity Services Group se fasiliteit in Pretoria.

ʼn Groep gewapende rowers geklee in klapmusse en uitrustings wat lyk soos Fidelity-uniforms, het net meer as ’n week gelede veiligheidswagte by die veiligheidsmaatskappy se fasiliteit in Hermanstad, Hercules, met vuurwapens aangehou en van hulle aangerand voordat hulle die fasiliteit van ʼn onbekende bedrag geld beroof het.

Kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het Maandag gesê twee verdagtes is onderskeidelik in Protea Glen en Braamfischerville in Johannesburg in hegtenis geneem in verband met die rooftog. Die polisie het ook ’n onbekende bedrag geld van die verdagtes verhaal.

Die verdagtes, 45 en 49 jaar oud, sal na verwagting Woensdag in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklag van sakeroof.

Die ondersoek duur voort en die owerhede is op die spoor van die verdagtes se makkers wat in dié stadium nog op vrye voet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Coolbanana

Hierdie regering het mos die voorbeeld gestel…… Die Howe se strawwe is te lig