Deurbraak in soektog na Manenberg-katslagter

Een van die katte wat deur die vermeende katslagter geslag is (Foto: Verskaf)

Die Dierewelsynsvereniging se Philippi-tak in Kaapstad het Dinsdag twee honde gevang wat moontlik by die katslagtings in Manenberg betrokke was. Daar is al sedert 15 Julie altesaam 42 katslagtings in dié nedersetting aangemeld.

Dié honde –  ʼn Amerikaanse veghond-kruising en ʼn korthaarterriër-kruising – is op kringtelevisiemateriaal vasgevang waar hulle glo op die katte afstorm en hulle aanval. Volgens Allan Perrins, woordvoerder van dié organisasie, word die moontlikheid dat die honde deur iemand uitgelok is om dit te doen, ondersoek.

Daar word nou vermoed dat die honde deur hul eienaars gebruik word om die katte te vang, waarna die eienaars dan voortgaan om die katte dood te maak, oop te sny en hul ingewande te verwyder.

Maroela Media het vroeër berig al die dooie katte wat tot dusver gevind is, se mae is oopgesny en die ingewande is netjies langs die oorskot geplaas. Die katte is van kop tot stert oopgesny. Wat veral vreemd is, is die kwessie dat daar op al die tonele nie ʼn druppel bloed gevind is nie. So asof die kat eers skoongewas is.

Uit die nadoodse ondersoeke blyk dit nou dat die katte met ʼn skerp lem oopgesny is, waarna hul harte en longe onder meer verwyder is.

Perrins sê beeldmateriaal wys hoe die niksvermoedende katte rustig sit voordat die honde op hulle afstorm. “Wat vreemd is, is hoe die honde rustig in die straat ronddwaal en dan binne ʼn breukdeel van ʼn sekonde na die katte hardloop en hulle aanval, so asof hulle uitgelok word,” het Perrins gesê.

Daar word nou vermoed dat die honde deur hul eienaars gebruik word om die katte te vang, waarna die eienaars dan voortgaan om die katte dood te maak, oop te sny en hul ingewande te verwyder (Foto: Verskaf)

Die honde wat op die beeldmateriaal vasgevang is, is Dinsdagoggend op ʼn erf in ʼn gevaarlike gebied in Manenberg opgespoor.

“Ons het in die nedersetting rondgery en die terriër op die sypaadjie by die erf sien lê. Die veghond (pit bull) is binne die erf gevind.

“Dit is ʼn wonderwerk dat ons die honde opgespoor het. Dit was soos om ʼn naald in ʼn hooimied te soek.”

Volgens Perrins het die erf soos ʼn skrootwerf gelyk. Afgesien van die huis, is daar ʼn klomp rommel en talle klein geslote kamers op die erf. Hy sê dit lyk asof daar meer as een inwoner op die erf woon.

Dié honde –  ʼn Amerikaanse veghond-kruising en ʼn korthaarterriër-kruising – is op kringtelevisiemateriaal vasgevang waar hulle glo op die katte afstorm en hulle aanval (Foto: Verskaf)

“Daar is ʼn moontlikheid dat die honde se eienaar(s) op die erf woon en dalk by die slagtings betrokke kan wees. In hierdie stadium kan dit nog glad nie bevestig word nie. Wat egter verdag was, is die feit dat die mense op die erf baie vinnig ontken het dat dit hul honde is.”

Perrins sê van die inwoners in die gebied het gesê die honde is aggressief en het voorheen al mense gebyt.

Volgens Perrins het albei honde skrape aan hul gesigte. Hy sê die skrape lyk asof dit deur ʼn kat se kloue veroorsaak is. Die veearts moet dit egter nog bevestig.

ʼn Professionele gedragskundige gaan ook die honde assesseer om te bepaal of hulle wel die vermoë het om katte vanself aan te val en dood te maak.

Perrins gaan Vrydag met die polisie byeenkom en die nuwe inligting rakende die saak aan hulle deurgee. Die polisie sal dan voortgaan met die ondersoek van die saak.

Hoewel ʼn deurbraak in die saak gemaak is, is die oorskot van nóg twee katte Dinsdagmiddag in Renoster Walk in Manenberg gevind. Perrins sê dis egter in ʼn ander gebied as waar die vorige katte gevind is.

“Dit lyk asof dié katte met ʼn swaar voorwerp, soos ʼn baksteen, geslaan is. Dié katte is op ʼn heel ander wyse as die vorige katte doodgemaak.”

Die DBV het sy beloning van R7 000 tot R10 000 verhoog. Dié beloning is vir enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die vermeende katslagter kan lei. Enigiemand met meer inligting kan die vereniging by 021 692 2626 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

RS ·

Maak nie sin nie…vorige berigte word gese dat daar nie tekens is dat die katte deur ander diere aangeval is nie en nou word daar eweskielik beslag gele op honde. Ook word gese dat die katte deur n voorwerp soos n baksteen geslaan is??

Pierre ·

Die baksteen is nuwe vorvalle “copy cat” maar ek stem 100% saam vorige berigte het gelei die katte is nie deer ander diere gebyt nie.

Helene ·

Die mens is regtig n vieslike spesie. Die wereld se grootste vyand!

Feite ·

Stem 150% saam! Hierdie planeet kan ook nie meer die mishandeling en aanteling van die mesndom hanteer nie. En nie te praat van die gruwel mense wat onder die gewaad van humans tussen ons bly nie.

pokkel ·

Hier by ons is dit die boertjies wat die katte dood maak, en die duiwe, en die aardwolwe, en enige iets wat beweeg waarvoor hul nie tronk toe sal gaan

Charl ·

Pokkel, waar is ”hier by ons” ? As niemand dit rapporteer nie sal niks daaraan gedoen word nie.

Linx ·

Dalk is d Fotos van d honde op n slegte angle geneem maar nie een van hierdie honde lyk soos n pitbull nie,dis berigte soos hierie of 2de handse informasie soos hierie wat d stigma rondom pitbulls so pomp

Sandra ·

Ek wil nou nie snaaks wees nie. Ek het die heel eerste berig gelees en nie weer nie. Ek twyfel of die honde enigiets met die storie uit te waai het. Die is die werk van ‘n siek individue, wat in my opinie, as hy of sy nie gevang word nie, moeg gaan raak om katte te slag, en dan oor te gaan op mense. Hy/sy het die guts om die dier op so ‘n grusame wyse te vermoor, hulle binnegoed uit te haal en dit langs hulle neer te sit. Dit is nie die werk van ‘n normale mens nie. En hoe weet mens of hy die katte martel voor dit nie. Die honde was net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Ek meen, soos die eerste berig se, daar was nie eens bloed nie. So die katte word op ‘n ander plek geslag. Ek dink dis ‘n onstabiele persoon of satanisme.

Johan ·

Ja die honde het heel waarskynlik niks met die katslagter te doen nie. Maar die feit bly staan. Die honde hét katte aangeval en seer gemaak.

Botterblommetjie ·

Honde jaag van nature katte, hoef nie uitgelok te word nie. Klink weer vir my na ‘n vinnige oplossing vir die walglike daad. Speurwerk mos nie meer deel van polisiëring nie. Maklike teikens en maklike oplossings vir die ligsinniges wat dit wil glo. Dit soos om iemand sonder ‘n masker op die strand te vang maar die grypdief laat wegkom… Ek sê hierdie met ‘n traan in die oog, want ons mooi land en selftrots het verval…

LD ·

Dit laat my dink aan die chane van heerden en maartens van der merwe storie (dis met opset dat hulle name nie met hoofletters is nie)….. Wie onthou nog die twee siek mense? Hulle het die onskuldige jong Van Eck vermoor! Dit het ook eers begin met die slagting van katte, daar was bewyse van klein geslagte katte in hulle huis. Dis siek verby, die persoon/e moet so gou moontlik gevang word want dit gaan beslis nie by katte bly nie! Volgende gaan dit nie meer bevredigend wees nie en gaan hulle “prooi” mense word!

Kathleen ·

Dit is ontstellend om so iets te lees , dit maak my siek , naar ! ‘n Persoon wat hierdie vieslike dade doen moet baie beslis baie siek wees in sy kop . Hoe doen mens so iets aan ‘n onskuldige dier . Ek hoop van harte dat hierdie siek persone gevang word en opgesluit word ……. vir ewig .

Dirk Mostert ·

Ek het ‘n teorie: weens bevolkingsaanwas is daar nie genoeg siele vir hersirkulasie nie. Daarom is daar nou mense sonder siele. Diere is edeler wesens as baie mense!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.