Deurbraak in soektog na vermiste Kaapstad-egpaar

Nick Bailey saam met Rodney (73) en Rachel Saunders (64) (Foto: Twitter via @nickbailey365)

Die soektog na Rodney (73) en Rachel (64) Saunders, ʼn egpaar van Kaapstad wat op 8 Februarie vermis geraak het, het ʼn tragiese verloop geneem toe ʼn liggaam wat gevind is as dié van Rodney geïdentifiseer is.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het gesê dié deurbraak beteken dat die “raaisel rondom die egpaar se verdwyning nou nader aan afsluiting is”.

Volgens Ramovha is Rodney se liggaam reeds op 17 Februarie deur ʼn visserman gevind suid van die Tugela-rivier in KwaZulu-Natal. Die uitslae van die forensiese toetse wat die liggaam as dié van Rodney geïdentifiseer het, is vandag bekendgemaak.

“ʼn Toegewyde span is steeds besig met die soektog na Rachel. Die fokus sluit lykshuise in waar DNS-toetse tans gedoen word op ongeïdentifiseerde liggame wat gevind is in die tydperk sedert die egpaar vermis geraak het,” het Ramovha gesê.

Maroela Media het vroeër berig die Saunders-egpaar wat ten tyde van hul verdwyning in Kaapstad gewoon het maar ook burgerskap in die Verenigde Koninkryk het, het vermis geraak terwyl hulle besig was om ʼn natuurprogram vir die BBC saam met die televisieaanbieder Nick Bailey te verfilm. Hulle is vermoedelik in Vryheid in KwaZulu-Natal ontvoer. Die egpaar se voertuig, ʼn Land Cruiser, is later in Durban opgespoor, sowat 300 km van waar hulle vermis geraak het.

Sayefudeen del Vecchio buite die Verulam-landdroshof. Foto: ANA

Sayfydeen Aslam del Vecchio (37) en Fatima Patel (27), wat onder Islamitiese wetgewing getroud is en glo bande het met die Islamitiese Staat (Isis), Thembamandla Xulu (19), en Ahmad Mussa (36) is sedertdien in verband met die egpaar se verdwyning in hegtenis geneem.

Die egpaar se selfone is in Xulu se besit gevind ten tyde van sy inhegtenisneming.

Die vier verdagtes staan tans tereg op twee aanklagte van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en besit van gesteelde goedere. Del Vecchio en Patel word ook aangekla van brandstigting en die besit van ʼn terreurgroep-vlag.

Xulu het reeds om borgtog aansoek gedoen, maar die borgtog is geweier. Del Vecchio en Patel het vroeër hul borgtogaansoeke laat vaar, maar sal na verwagting vandeesweek weer om borgtog aansoek doen. Die staat staan die borgtogaansoeke teen weens die ernstige aard van die aanklagte teen die beskuldigdes.

Lees alle vorige berigte oor Rodney en Rachel Saunders op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Versprei via BBC ·

Ek hoop BBC en ander britse media versprei die storie dat hulle besel wat die regering toelaat, wat met bejaardes onder die ANC gedoen word.

Sharia ·

Wat sê die Britte nou? Hulle kon nie vinnig genoeg miljoene in Ramaphosa se hande instop nie ..nog ‘n land wat met ‘n ‘bang’ gaan wakkerskrik .. as dit te laat is ..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.