Deurbraak in soektog na vermiste polisieman, twee ander

Foto: SAPD

ʼn Deurbraak is gemaak in die soektog na AO Arnesh “Jakes” Juggan, ʼn polisiebeampte van Dundee in KwaZulu-Natal, wat op 23 Maart saam met sy vrou en ʼn vriend spoorloos verdwyn het.

Maroela Media het vroeër berig Juggan is op 23 Maart om 19:00 die laaste keer gesien toe hy uit Peaceville weg is saam met sy vrou, Molly (54), en vriend, Ashok Rajoo (53), in ʼn gemerkte, amptelike polisievoertuig. ʼn Soektog is van stapel gestuur toe Juggan se seun owerhede in kennis gestel het dat sy ouers nie teruggekeer het huis toe nie.

Volgens ʼn verklaring van Arrive Alive het ʼn beampte verbonde aan die SAPD in Vryheid Sondagoggend opgemerk dat die dak van ʼn wit Nissan Navara-polisievoertuig by die watervlak van die Sandrivier naby Dundee uitsteek. Luidens die verklaring is die voertuig ongeveer 100 m van die Landmansdrift-laagwaterbrug opgemerk.

Foto: SAPD

“ʼn Oproep is na die provinsiale operasiekamer gemaak en die nodige rolspelers ontplooi. Polisieduikers van Durban en Pietermaritzburg, asook die honde-eenheid van Pietermaritzburg het na die toneel naby Dundee gegaan,” lui die verklaring.

“ʼn Duikoperasie is in die vinnig vloeiende rivier gedoen. Die ontbinde liggaam van ʼn vrou is in die voertuig gevind en uit die water gebring.”

Die SAPD het die oorledene in ʼn verklaring as Shumane (Molly) Juggan geïdentifiseer. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Die soektog na AO Juggan en Rajoo duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vraagteken ·

Hoekom was sy vrou en vriend in amptelike ,gemerkte (Polisie) motor vervoer in die eerste plek?
Het ek iets misgelees?

Lee ·

Ek haal my hoed af vir die polisie lede wat in daai water na die oorledendes moet soek. Die prentjie wat op hulle wag in daai watergraf kan nie lekker wees nie..

kas ·

Vraagteken,jy sal met my saamstem dat iets snaaks aan die gang is.Hoekom die twee passassiers in die voertiuig en hoekom is die vrou in die voertuig gevind.Is die voertuig van ‘n brug af en hoe ver van die plek af is die voertuig gevind Kan dit wees dat haar man van haar ontslae wou raak en die twee mans nie in die voertuig was toe dit in die water beland het nie.Weet iemand dalk iets meer.Deel met ons asseblief.

KAS ·

Dit blyk dat die voertuig deur vloedwater meegesleur is as dit naby ‘n laagwaterbrug gekry is.My vermoede van gemene spelis dus ongegrond.Dit kan dan wees dat die twee mans moontlik onder takke ingespoel het en vashaak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.