Groot deurbraak jaar ná Centurion-seun se dood

Anita by haar seun Ruan.

ʼn Gautengse man gaan in Augustus vanjaar in die Pretoria-landdroshof verskyn in verband met die ongeluk langs die N14-snelweg wat net meer as ʼn jaar gelede die lewe van die 18-jarige Ruan Viljoen van Centurion geëis het.

Viljoen, wat in 2016 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer het, se liggaam is in Maart verlede jaar in die vroeë oggendure ʼn paar honderd meter van sy motor langs die snelweg gevind.

Anita Greyvenstein, Viljoen se ma, het voorheen aan Maroela Media vertel haar seun het vermoedelik beheer oor sy motor verloor waarna die motor oor die middelman en die teenoorgestelde bane gery het voordat dit aan die ander kant van die pad teen ʼn boom tot stilstand gekom het. Die 18-jarige was in staat om uit die motor te klim en het sy selfoon gevat, die motor gesluit en was vermoedelik op pad na ʼn nabygeleë vulstasie om sy ouers te bel toe hy deur ʼn motor doodgery is.

Die skuldige in die ander motor het van die toneel af weggejaag en Greyvenstein het ná die ongeluk onderneem om nié te rus tot die skuldige vasgetrek word nie.

Greyvenstein sê Woensdag aan Maroela Media sy is verlig dat daar uiteindelik meer vordering in dié saak is. Die man wat in die hof gaan verskyn is volgens haar die wettige eienaar van die voertuig waarvan parte op die toneel gevind is en wat vermoedelik in die botsing betrokke was wat Ruan se lewe geëis het.

Die polisie het volgens haar dié week ʼn dagvaarding aan die man gestuur om op 2 Augustus in die hof te verskyn. “Ons is baie verlig en baie dankbaar. Dit het ongelooflike deursettingsvermoë geverg om tot op hierdie punt te kom. Ons moes deur ongelooflike diep waters gaan om te bewys dat die man se voertuig wel dié einste voertuig is wat se onderdele op die toneel gevind is. Daar was sowat 17 bloedmonsters en twee stelle forensiese toetse by die ondersoek betrokke – en nou gaan iemand eindelik in die hof verskyn.”

Ruan (Foto: Facebook)

Greyvenstein sê hoewel sy nog nie kontak met die man gehad het nie, het sy hom glo op sosiale media opgesoek. Volgens haar toon sy inskrywings dat hy geen berou het oor dié voorval waarby hy na bewering betrokke was nie. “Hy het die dag ná my seun se dood ʼn inskrywing op sosiale media gemaak oor hoe lekker hy saam met sy familie ontspan. Hy het net aanhou oefen en kuier asof niks gebeur het nie. Hy het geen gewete nie en hy toon geen berou nie; ons hoop die hof sien dit.”

Sy sê dit sal tog ʼn mate van berusting bring indien die skuldige in die voorval eindelik boet. “Ons hoop natuurlik dat die skuldige gestraf gaan word, maar dit gaan nooit my kind terugbring nie. Maar in ʼn mate sal dit seker berusting bring. Dit maak ʼn mens klaar om nie te weet wie verantwoordelik is vir hierdie seer nie. Maar ons wou antwoorde hê. Hoe kan ʼn ma so iets net los? Jy kan nie. Ek sou nooit nie. Al sou dit my 20 jaar geneem het of selfs tot die dag dat ek my kop neerlê, ek sou aanhou baklei het; ek is dit aan Ruan verskuldig.”

Greyvenstein sê sy het reeds die burgerregte-organisasie AfriForum genader om betrokke te raak indien die man nié ʼn gepaste vonnis opgelê word nie.

Kapt. Agnes Huma, woordvoerder van die polisie, het bevestig dat ʼn dagvaarding aan ʼn man uitgereik is wat vermoedelik met die voorval verbind kan word.

Huma sê die polisie wil uit vrees om die saak in gedrang te stel nié meer inligting bekend maak nie. Sy sê die polisie sal dienooreenkomstig optree indien die man nié vir sy hofverskyning opdaag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

AZ ·

Ja Ruan, ry amper daagliks verby jou kruis :(
Bly so baie hartseer…

Koos de Meyer. ·

Hoekom moes sy ouers ‘n privaat speurder kry om uiteindelik die persoon op te spoor wat nie stil gehou het na die ongeluk. Hoop hy kry wat hom toe kom. Hoe leef ‘n mens met jou gewete saam wanneer jy so iets doen.

Jay ·

Ek wil net sê Anita en haar man is wie hierdie saak opgelos het. Hulle het self daai parte op die pad gaan optel met familie en vriende, hulle het uit hulle eie sakke betaal vir toetse. As ‘n ma het sy nooit opgegee nie. Die polisie moet hulle koppe laat sak in skaamte. As dit nie vir haar was nie sou hulle nie ‘n saak teen die man oopgemaak het nie en ek dink ons almal weet hoekom. Anita en haar familie weet al maande wie die man is en niks het gebeur nie. Hulle moes lewe met die wete dat die man vry is en tyd saam sy kinders spandeer terwyl hy gevoeloos haar kind van haar geneem het.

BB ·

Dit is wat alle ouers vir hulle kinder sal wil doen. Anita moet dankbaar wees hulle het die krag gekry om staande te bly sodat hulle self tot hierdie punt gekom het. Dit is duidelik dat hulle self alles gedoen het en vooruit gedink het op wat nodig is om te doen.

Ck ·

Ek kan nie eers n duif raaakry sonder om te huil nie. Hoe ry jy n mens dood en lewe met jouself saam?

Piet Pompies ·

Geregtigheid sal altyd seevier. Ek haal my hoed af vir die ma, familie en vriende van Ruan. Mens hoef nie oor ‘n goeie geheue te beskik as jy die waarheid praat. Sterkte.

Alwyna ·

Sterkte. Ek hoop uit my hart dat daar n gepaste vonnis gaan wees…en dit moet niks anders as tronkstraf wees nie. Geen opgeskorte vonnis.
Die meneer moet n les geleer word

kas ·

Alwyne,my hart gaan uit na hierdie gebroke familie maar ons was nie daar nie.Natuurlik het hy die ongelukstoneel verlaat en nie aan Ruan hulp gebied nie,Dit opsigself is ‘n misdryf maar kom ons los die vonnis vir die voorsittende beampte.Daar is geen vonnis vir strafbare manslag nie.

Wonner ·

Ek wonder hoekom het hy nie in sy motor gebly en sy ouers geskakel nie, hoekom sou hy na die vulstasie wou stap as hy sy selfoon by hom gehad het? Pleks hy dit maar eerder gedoen, kry sy ouers so jammer.

Sterkte ·

Ek is ontsettend bly daar is vordering met die saak. Ek is egter ongelukkig met die manier waarop die polisie en die vervolgingseenheid hierdie saak hanteer het. HOEKOM moes die arme ma alles uit haar eie sak betaal het en op haar eie die saak opvolg en bewyse kry? WAT WIL DIE POLISIE DOEN? Hoekom het die saak so min aandag geniet? EK IS baie dankbaar dat iemand geidentifiseer is en ek hoop regtig die reg gaan seevier, indien nie, sit Afriforum se privaatvervolgingseenheid op hom sodat hy die gepaste straf kry . dit is onaanvaarbaar dat iemand so ‘n pragtige seun moet verloor en niemand behalwe die ma self veg om die saak op te volg en lewendig te hou nie. Ek admireer jou. En alhoewel jou mooi seun nooit weer terug sal kom nie MOET die mense wat verantwoordelik daarvoor is gestraf word . ‘n ongeluk is een ding maar om dit WEG te steek is heeltemal iets anders. Regsverydeling, mansslag .. hy moet verseker tronk toe gaan.

Amanda van der Merwe ·

My kind is ook dood gery…niemand boet nie…

Willie ·

Die SAPD is tans die mees onbevoegde luiaarts in SA… Hulle sal, wil nie en kannie so n saak oplos nie…

Verkeerd ·

Dit is soooo verkeerd, daar is nog baie SAPD lede wat daar is met ‘n passie vir die beroep om reg en geregtigheid te laat seevier in alle nasies, dan is daar die lui mense en mense net vir die pay. Werklik almal kan nie onder een kam geskeer word nie. Ek lees gereeld alle sake & volg hofsake en kyk daardie polisie beamptes doen hul deel vir reg en geregtigheid. SAPD het die asdrom geraak vir almal wat nie werk het en mense in posisies ken.

Stem Willie ·

Willie jy moet verstaan dat daar altyd polisiemanne of hulle vroue op Maroela se forum sal kommentaar lewer en fiercely die polisie verdedig al sien ons daagliks berigte oor die kriminele dade wat hulle aanvang. Eers was dit net ‘n paar vrot appels, nou is al die appels omtrent vrot. Daar is so min van die ‘ou polisiemanne’ oor, en daarmee verwys ek nie na ras nie maar na mense wat nog ‘n passie vir die beroep het.

Verkeerd ·

Stem Willie, ek glimlag net, e is nie 1 van die 2 nie. Nie beampte en ook nie ‘n eggenoot. Ek sien net die mense wat wel hul werk doen en dit mag nie misken word soos enige ander beroep. As jy heeltyd beledig word en onder dieselfde kam, sal jy later ook voel, om dieselfde te doen of te loop. Dit gaan in elke beroep so, die beroep is net meer in die nuus. Sou jy happy voel om met die verkeerd geassosieer te word.

Johan ·

Welgedaan aan Anita, haar man en die span wat hulle gehelp het. Ek sou dieselfde gedoen het en ek verstaan dat julle voel julle is dit aan Ruan verskuldig.

Sterkte nou op die pad vorentoe – wat natuurlik weer sy stel uitdagings gaan bied.

Jeanette Visser ·

Anita, ek het die grootste bewondering vir jou met jou deursettingsvermoë.
Mag daardie man gestraf word vir sy ongevoelige dade. ‘n Drukkie vir jou. Ek wens
jou die beste toe. Prys die Heer.

Rina ·

Wat het gebeur dat ouers self hierdie ondersoek moes doen en nie die polisie nie. Hoe regverdig is ons reg en polisie ondersoeke nog.?Mens lees baie oor sake soos die en ek wonder hoeveel statistieke of gevalle daar werklik is oor traag ondersoeke of geensins nie. Hierdie dame het tot die uiterste gegaan om eindelike die skuldige te kry en groot koste ook aangegaan wat nie almal kan bekostig nie. Dis verskriklik om te weet as so iets kan gebeur en jy nie regverdigheid kry van die reg en daardeur ook nie afsluiting nie.

Rina ·

Wat het gebeur dat ouers self hierdie ondersoeke moes doen en nie die polisie nie. Hoe regverdig is ons reg en polisie ondersoeke nog.?Mens lees baie oor sake soos die en ek wonder hoeveel statistieke of gevalle daar werklik is oor traag ondersoeke of geensins nie. Hierdie dame het tot die uiterste gegaan om eindelike die skuldige te kry en groot koste ook aangegaan wat nie almal kan bekostig nie. Dis verskriklik om te weet as so iets kan gebeur en jy nie regverdigheid kry van die reg en daardeur ook nie afsluiting nie.

Anni ·

Hell has no fury, like a mother fighting for her children…

Ek weet ek sal ook tot die uithoeke van die aarde gaan, as iemand een van my seuns moet skade aandoen, en nie die ruggraat het om verantwoordelikheid te vat nie. Anita se harde werk en volharding sal beslis nie haar kind terugbring nie, maar deur die lafaard voor die hof te bring, spaar sy dalk ander ouers dieselfde hel.

Oorgroote padgebruikers daar buite het nie die mees basiese van basiese vaardighede of mentaliteit om ‘n voertuig te bestuur nie. Ek hoop van harte dat daar van die lafaard ‘n ordentlike voorbeeld gemaak gaan word.

Nin ·

Wat ek nie verstaan nie is hoekom is hy nie gearresteer nie? Hulle arresteer almal lings en regs vir klein goedjies, maar nou dat moord betrokke is stuur hulle ‘n dagvaarding. Gaan my verstand te bowe.

kas ·

Nin,ek stem heelhartig saam met jou.As hulle vir hom ‘n dagvaardiging kon “stuur”dan het hulle mos sy adres en dan kon hulle hom gearresteer het.hom hof toe gevat het en dan kon hy om borgtog aansoek gedoen het.Hoe stuur hulle ‘n dagvaardiging vir jou.Dit is ‘n dokument wat persoonlik bedien word waarvoor daar geteken moet word.Dit klink nie vir my of daar ‘n dossier ge-open is nieDit lyk ook nie of die man formeel aangekla is nie.As iemand meer weet deel met ons asseblief.

Skuus ·

Ek dink Anita is nou n spesialis op die gebied. Dalk moet sy nou haar kennis aanwend en n praktyk stig waar sy mense help en raad/rigting gee in sulke sake. Ek dink sy sal een van die gesogste mense wees in Suid Afrika. Dink daaraan Anita.

Johann ·

Maroela Media. Nader asseblief die minister van polisie oor hierdie saak en vra ‘n klompie indringende vrae. Bv. Waarom moes die ouers en vriende self die ondersoek doen – teen groot koste! Laat ons hoor wat sy kommentaar is.

chris ·

As dit ek was sou ek die mannetjie self laat boet het, en nie gewag het het vir die patetiese polisie wat ons het nie. hy sal baie spyt gewees het dat hy nie maar eerder gestop het nie
Baie sterkte aan die familie

Hannelie ·

Anita jy is ‘n baie dapper mamma. Soos jy sê dit gaan nie jou pragtige seun terugbring nie, maar die skuldige wat nou so ongeerg deur die lewe gaan, sal moet boet. Net die feit dat hy weggery het sonder om Ruan te help, maak hom klaar skuldig. Ek hoop hy sit in die tronk en kry nie net ‘n boete nie. Want hy moet mos nou aangekla word vir MOORD. Sterkte Anita, om jou seun op so ‘n wyse te verloor is nie lekker nie. Maar nou gaan jy in die hof jou kind se moordenaar sien, en ek glo as hy nie die regte straf kry nie, sal sy straf eendag van God kom. Baie sterkte aan jou.

kas ·

Jammer mede lesers ek wil net iets regstel rakende die vonnis vir strafbare manslag;daar is nie ‘n minimum of maksimum vonnis vir die misdryf nie maar daar is wel ‘n vonnis.Dit hang af van die aard van die misdryf.Geen berou van die oortreder, hy hou nie stil en help nie maar vlug.Dit is verdag en dit gaan swaar teen hom tel tydens die verhoor.

v ·

Ek het altyd gewonder of hulle ooit die skuldige sou vastrek en hier kom die ma met uithouvermoê en trek die moordenaar self vas. Die polisie en owerhede moet hulle koppe in skaamte laat sak omdat hulle nie krediet hiervoor kan vat nie, SIES!!!!!!! ñ Duisend medaljes aan hierdie ma. Nou kan Ruan rus want sy moordenaar is vasgetrek, ek glo hy het rondgehang tot sy ma geslaag het om die skuldige vas te trek. Alle eer aan die Here om te help dat geregtigheid kan seëvier

LHS ·

Alles ontsettend tragies en hartseer maar kom ons kry maar eers al die feite in die hof voor iemand veroordeel word. Gekyk na die gebeure vooraf wat gelei het tot die voorval, mag daar dalk net n paar realiteite uitkom oor hoe presies dit gebeur het. Die wegry van die toneel klink verdag, maar weer kom ons kry eers feite. Onthou n onskuldige persoon het in sy regte kant van die pad aangery gekom en dan moontlik skielik loop iemand voor hom in of so iets, uit skrik en skok hou hy aan ry, ek het nie die ware feite nie, daarom moet dit maar eers uitgewys word voor veroordelings op grond van emosies gemaak kan word. Verseker het daardie persoon nie doelbewus daar gery om iemand raak te ry nie. Hy moes gestop het ja of dit ten minste gaan aanmeld het. Dit was n fout.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.