Deurbraak jare ná jong man se moord

Francois Swart. Foto: Verskaf.

Francois Swart (21) se vermeende moordenaar is meer as twee en ’n half jaar nadat hy gedurende ’n gewapende rooftog doodgeskiet is, eindelik in hegtenis geneem. Swart is tydens die rooftog met ’n gaspistool in die nek geskiet en het later in ’n hospitaal aan sy beserings beswyk.

Abraham Abebel Enrico (32) is op 20 Desember by ’n taxi-staanplek in Lichtenburg in Noordwes deur twee speurders in hegtenis geneem in verband met die moord. Daar word vermoed dat Enrico sedert die voorval in Vryburg, sowat 190 km van Lichtenburg, geskuil het.

Maroela Media het destyds berig Francois, die bestuurder by die plaaslike Spur-restaurant in Lichtenburg, het die betrokke nag in Mei 2018 omstreeks 01:00 ná werk saam met Jan Louw (21), ʼn kollega, gaan koeldrank koop by ʼn nabygeleë Shell-vulstasie.

Twee mense het met die man agter die toonbank van die winkel by die vulstasie gestry toe een van die mans skielik ʼn gaspistool teen Swart se nek gehou en drie skote afgevuur het. Die man agter die toonbank het gevlug en die polisie ontbied.

Abraham Abebel Enrico (Foto: SAPD)

Francois was vir langer as ’n week ná die voorval in ʼn medies geïnduseerde koma voordat hy aan sy beserings beswyk het. Een van die verdagtes, Jude Nnana Aghabanti (42), ʼn Nigeriër, is kort daarna in verband met ’n ander misdaad in hegtenis geneem en met die skietvoorval verbind.

Enrico was egter sedertdien soek.

Christie Theron, Francois se ma, vertel dat Jan se ma haar verlede week van die inhegtenisneming vertel het nadat sy in die plaaslike koerant daarvan gelees het.

Theron sê sy ervaar sedertdien gemengde gevoelens. “Níks sal ooit my kind terugbring nie.”

“[Sou Enrico skuldig bevind word] sal daar berusting kom in dié opsig dat hy sy verdiende loon kry, maar ek sal nooit daarin kan berus dat my onskuldige kind weg is nie.”

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat Enrico sedert sy inhegtenisneming in aanhouding is. Die saak is reeds twee keer vantevore uitgestel en dit is in dié stadium nie duidelik wanneer hy weer in die hof sal verskyn nie.

Hy staan tereg op aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Niklaas ·

Daai Enrico kerel se oë is kil en koud. Als was so onnodig en ek voel so jammer vir die moeder van Francois.

Casper ·

Weereens ‘n Nigeriër betrokke.Aan die Familie van Francois .,tyd sal aanvaarding bring maar laat hy altyd in julle harte voortleef en onthou hom vir die seun wat hy vir julle was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.