Deurbraak ná 2 moorde wat Vrystaat ruk

’n Skermgreep van ’n kringtelevisieopname van die voorval waar ’n man op ’n parkeerterrein in Welkom geskiet is.

Die polisie in die Vrystaat het vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met twee opspraakwekkende moorde in dié provinsie.

Brig. Motantsi Sam Makhele, woordvoerder van die polisie, het gesê drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op die 54-jarige Shai Mikia Mohapi wat op 10 November in sy motor in ʼn parkeerterrein van ʼn winkelsentrum in Welkom koelbloedig doodgeskiet is.

Dié moord is deur veiligheidskameras vasgevang. Mohapi, ʼn hoofveiligheidsbeampte by die Beatrix-operasie van die goudmynmaatskappy Sibanye-Stillwater, het in sy motor vir sy vrou gesit en wag terwyl sy in die sentrum besig was om inkopies te doen. Mohapi se motor is gesteel nadat hy vermoor is, maar is later daar naby teruggevind.

Volgens Makhele is daar tydens die inhegtenisnemings op ʼn vuurwapen beslag gelê wat vermoedelik die moordwapen is. Makhele het gesê nog inhegtenisnemings word verwag en dat die drie verdagtes binnekort in die Welkom-landdroshof sal verskyn.

Die polisie het intussen ook twee verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op die pa van ʼn jong kind. Krishna Dad is Woensdagoggend in Odendaalsrus doodgeskiet nadat hy sy kind by die kleuterskool afgelaai het.

Volgens Makhele is Dad, ʼn 39-jarige sakeman, in die kop geskiet. Die moordenaars het met sy rooi Mini Cooper gevlug. Dad is na ʼn hospitaal gehaas waar hy aan sy beserings beswyk het. Die verdagtes sal binnekort in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Moeketsi Sempe, provinsiale polisiekommissaris, het die onderskeie ondersoekspanne geloof vir hul vinnige optrede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

ES ·

Sinnelose moorde… hulle skiet jou dood vir jou kar net om dit iewers verlate langs die pad te los. Dis mos te lekker in die tronk.

JJS ·

Dit klink vir my meer of hy in die pad van boosdoeners by die werk gestaan het en dat dit ‘n direkte “hit” was. Kar is net gevat om mee weg te kom en dit te laat lyk of dit ‘n kaping was…

Johan H. ·

Dankie polisie se ek baie huiwerig, kom ons kyk van middag wat se shenanigans haal julle weer uit!!!!

gaafster ·

Here vergewe ons want ons besef nie wat ons aan mekaar en die land doen nie…

Pieter ·

Zuma,Ace,Supra……ens se nalatingskap.
Geen orde was die modewoord.
Mag die paar “opregte” polisiebeamptes wat nog in die mag oor is geseën en beskerm word met die beveiliging van ons land en al sy mense.

swanna ·

Wens die plaasmoorde wil so vinnig opgelos word en deurbrake plaasvind.

JK ·

Jy besef plaasmoorde en dié is helemal verskillend? Ek wens Saffas wil dit besef en nie alles teen dit meet nie.

Mv ·

Dankie JK, jy haal die woorde uit my mond uit, plaas moorde is n baie groot probleem maar mense moet besef daar is ander probleme ook, help nie om elke keer plaas moorde op al die artikels te noem nie.

HESTER ·

Ek stem saam jou, het jy agtergekom dat dit na agter geskuif word, waar dit eintlikn prioriteit soos enige misdaad moet wees. Cele se verslag so 2 weke terug gee terugvoering van transito rowe , huisbrake ens , maar nie n woord van plaasmoorde nie.

Stokkies ·

Sal nie help nie, more word die wat gevang word net weer vervang met nuwe gesigte, mense sal enige iets doen vir geld

dolphin ·

kan dit nie glo nie welkomiet is oulik dorpie en stil omgewing nou skielik erger misdaad voorkom.bid dat die mense van die myn los kom en die daai mense .

Hendrik UAE ·

Jissie gewoonlik maak ek uit wat iemand bedoel maar Dophin jy klink onsamehangend.

Reinier ·

Met dit wat daagliks gebeur kan ek net nie dink dat daar enigsins nog plek in enige tronk kan wees nie.

LAJ ·

Stem saam met JK. Net opspraak wekkend sa jy na die slagoffer kyk

Petro ·

Die polisie doen goeie werk onder omstandighede. Hulle kan vir n slag bietjie krediet kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.