Deurbraak ná drie moorde by inisiasieskool

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Dingeman, Wikimedia Commons)

Drie verdagtes verskyn na verwagting vandag in die landdroshof in Tsomo in die Oos-Kaap in verband met die naweek se moord op drie jong mans by ’n inisiasieskool in die omgewing.

Die drie slagoffers is Saterdagoggend dood aangetref in ’n tradisionele inisiasiehut in die Jojweni-nedersetting.

Kapt. Khaya Tonjeni, woordvoerder van die polisie, sê die slagoffers, tussen die ouderdomme van 19 en 20, is die betrokke oggend omstreeks 08:00 met skietwonde aan hul bolywe in die hut aangetref waarna ’n taakspan van die polisie ’n soektog na moontlike verdagtes van stapel gestuur het.

Drie verdagtes, onderskeidelik 27, 35 en 37 jaar oud, is Maandag en Dinsdag in Jojweni en Tsomo in hegtenis geneem in verband met die moorde. ’n Pistool, ʼn magasyn met 15 rondes en agt selfone is tydens die inhegtenisnemings in die verdagtes se besit gevind.

Die taakspan word geloof vir die inhegtenisnemings binne 72 uur ná die moorde, sê Tonjeni.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.