Deurbraak na moord op bekende dokter

Dr. Michael Isabelle (Foto: Facebook)

Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die voorval waar ʼn mediese dokter tydens ʼn gewapende rooftog in sy praktyk doodgeskiet is.

Dr. Michael Isabelle is verlede maand in sy praktyk in Dobsonville, Soweto, doodgeskiet. Drie verdagtes het by die praktyk opgedaag en voorgegee dat hulle mediese bystand vir ʼn vriend benodig. Nadat die ontvangsdame hulle by die spreekkamer ingelaat het, het hulle die dokter geskiet.

Die verdagtes het twee selfone gesteel waarna hulle ʼn motor op die perseel gesteel en daarin van die toneel gevlug het. Isabelle is na ʼn hospitaal geneem waar hy die volgende dag aan sy beserings beswyk het.

Volgens brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, is die twee verdagtes Saterdagoggend by hul huise in Alexandra in hegtenis geneem. Van die slagoffer se besittings is in hul besit gevind en daar is op twee ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê.

“Die twee beweer dat hul makker tydens die rooftog deur die dokter geskiet is en dat hy in die motor gesterf het toe hulle van die toneel gevlug het. Hulle beweer verder dat hulle van sy liggaam ontslae geraak het en sy familie ingelig het waar om hom te kry en dat hulle die gesteelde motor agtergelaat en aan die brand gesteek het.”

Die ondersoekspan volg inligting oor die derde verdagte sowel as die voertuig op, het Muridili gesê.

Die verdagtes sal Maandag in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklagte van moord, roof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peach ·

Gierigheid het tot die dood van twee persone gelei. Sou beter gewees het as die Dr hulle almal kon skiet om homself te beskerm en, sodoende vandag steeds lewendig kon gewees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.