Deurbraak na moord op bekende lodge-eienaar

Patrick Pedlar (Foto: Facebook)

’n Verdagte sal na verwagting vandag in die Manguzi-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn in verband met die moord op Patrick Pedlar (57).

Pedlar, ʼn bekende lodge-eienaar van Kosibaai, is op 10 November deur twee gewapende mans oorval toe hy hout by ʼn padstalletjie wou koop. Hy is in die kop geskiet. Hy is na die Manguzi-hospitaal geneem waar hy die volgende dag aan sy beserings beswyk het.

Lede van die provinsiale georganiseerdemisdaad-eenheid en speurders van Manguzi het die 27-jarige verdagte Vrydag tydens ’n intelligensiegedrewe operasie in hegtenis geneem. Hy sal op twee aanklagte van moord teregstaan, het kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, gesê.

Pedlar en sy vrou, Cathy, was die afgelope vier jaar die eienaars van die welbekende Palm Tree-lodge in Kosibaai.

Pedlar het elke tweede week na spesifieke padstalletjies, sowat 50 km van die lodge af, gegaan om vragte hout te koop. Hy is op die dag van die aanval van sy vuurwapen beroof waarna die verdagtes hom in die voorkop geskiet het. Pedlar kon tydens die aanval ook skote afvuur en een van die aanvallers, ’n 28-jarige man, is op die toneel dood.

Die ander verdagte wou na die aanval in Pedlar se bakkie vlug, maar het ʼn paar meter verder teen ʼn boom vasgery voor hy verder te voet gevlug het.

“Hy was tot die einde toe ʼn vegter,” het Elize Ellis vroeër aan Maroela Media gesê na die moord op haar swaer. “Hy sal onthou word as die stil introvert wat baie geliefd was onder die mense van die gemeenskap. Hy was altyd bedagsaam, hulpvaardig en het geglo in regverdigheid.”

Pedlar word oorleef deur sy vrou, twee volwasse kinders asook twee stiefkinders. Hy was ook ʼn oupa van twee kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ES ·

Dis moontlik dat die hof hom skuldig sal bevind vir die dood van sy medepligtige. Daar was ‘n saak in KZN van ‘n man wat op sy kapers geskiet het, en toe per ongeluk sy dogter raakgeskiet het wat nog in die kar was en die hof het die kaper skuldig bevind vir die dogter se dood, alhoewel dit was a.g.v. die pa se afvuur van sy vuurwapen. Die hof se mening was dat die dogter nooit dood sou gewees het as die man nie sy vuurwapen moes gebruik uit selfverdediging nie.

ES ·

So tragies dat hy moes sterf vir paar sakkies hout en sy vuurwapen. Ek hoop geregtigheid sal geskied.

Hennie J ·

Dis darem vreemd hoe die ou lewe afspeel. Die wat ander mense(our people) goedgesind is en deernis betoon boet met hulle lewens. LEWENSLES: As jy deernis betoon met hulle sien hulle jou as n swakkeling en n maklike prooi.

Anthony ·

Ek kry daai selfde idee Hennie. As mens humanity of empathy toon word jy onmiddelik as n moontlike teiken gesien.

Werner ·

Dit is gewoonlik die boere of mense wat nie n vlieg sou seermaak nie wat vermoor word.Jy is 100% reg hulle word as swakkelinge gesien.Maar Nico was nie n swakkeling nie hy het terug baklei partykeer werk dit net nie reg uit nie.

jzjz05 ·

As hy skuldig gevind word sal hy net tronkstraf kry ,lekker vry kos en verblyf TV en nog baie ander regte maar as die doodstraf terug gebring kan word sal die moordenaars n bietjie anders laat dink.

Regverdigheid ·

Hartseer sterf vir hout mens se lewe is niks werd in Suid Afrika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.