Deurbraak ná moord op Koffiebaaise polisielid

(Argieffoto)

Vier verdagtes is tydens ʼn intelligensie-gedrewe operasie in hegtenis geneem skaars drie dae ná die moord op ʼn polisiekonstabel van Koffiebaai in die Oos-Kaap.

Konst. Lonwabo Soga (26) is Dinsdag doodgeskiet terwyl hy en ʼn kollega, konst. Siyabonga Nani (41), gereageer het op ʼn klagte. Vier mans in ʼn wit Isuzu-dubbelkajuitbakkie het voorgegee dat hulle hulp nodig het.

Kapt. Anelisa Ngcakani, polisiewoordvoerder, het gesê lede van die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, lede van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en die nasionale intervensie-eenheid was by die inhegtenisnemings betrokke.

ʼn 37-jarige verdagte is in Mqanduli aangekeer en sy drie vermeende makkers in Mthatha.

Hulle verskyn na verwagting Maandag in die Mthatha-landdroshof, het Ngcakani gesê.

Twee mans het Soga, wat die polisievoertuig bestuur het, genader en twee mans het aan Nani se kant nader beweeg. Een van die verdagtes het Soga summier doodgeskiet. Nani is gedwing om uit te klim, sy kollega se liggaam agterin die polisiebakkie te laai en ook daar in te klim.

Een van die verdagtes het daarna met die bakkie na ʼn nabygeleë winkel gery waar die sekuriteitswag gedwing is om die hek vir die polisievoertuig oop te maak.

Die verdagtes is in die winkelier se huis in en het hom van ʼn ongenoemde bedrag geld en alkohol beroof. Hulle het in die winkelier se Nissan Navara gevlug en die oorlewende polisielid in die bakkie agtergelaat. Die Navara is later verlate op die pad na Mqanduli gevind.

Soga is van sy dienspistool beroof en Nani, wat nie gewapen was nie, is van sy foon beroof.

Die polisie se 72 uur-aktiveringsplan is kort ná die moord in werking gestel. Ingevolge dié plan word bykomende hulpbronne beskikbaar gestel om so gou moontlik enige leidrade op te volg.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, het die spoedige deurbraak verwelkom. “Ons lede het gehoor gegee aan my oproep om nie te rus voordat die verdagtes gevind is nie. Dit wys ʼn vasberadenheid om misdadigers vas te vat,” het hy gesê.

“Ons wil ook ons dank betuig aan die gemeenskap vir hul bydrae om misdaad te bekamp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ryan ·

Baie mooi julle. Ek wens julle kon so spoedig ook help met ander moorde..

DEE ·

Kan ons al die plaas moorde ook so vinnig oplos???????????????

Ekisnboer ·

Dit is presies wat ek ook gedink het. Duidelik is ons boere gladnie so belangrik nie.

Elle ·

Nou toe mou, so die polisie is in staat om vinnig op te tree. Hoekom dan al die ander sake wat nie ondersoek en n positiewe uitslag kry nie? Een swaeltjie maak nie n somer nie.

George in Bloem. ·

Ongelukkig is die vang van die gespuis een ding en geregtigheid vir die slagoffers iets heeltemal anders. Die regstelsel laat ons gruwelik in die steek. En alhoewel die Polisie in die geval geluk gewens moet word met hul spoedige optrede kan mens met reg vra waarom die spoed ontbreek as dit by plaasmoorde kom?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.