Deurbraak ná moord op Limpopo-sakeman, assistent

Argieffoto: SAPD

Die polisie in Tzaneen het ʼn reusedeurbraak behaal toe twee verdagtes, onderskeidelik 32 en 53 jaar oud, in hegtenis geneem is in verband met die moord op ʼn sakeman van Limpopo en sy assistent. Die sakeman sowel as die assistent is ʼn dag ná hul verdwyning dood aangetref.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die eerste verdagte is Vrydag in hegtenis geneem en die tweede een Sondag.

Die twee verdagtes sal binnekort in die Nkoankoa-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en kaping.

Maroela Media het vroeër berig die liggame van Salim Vali Patel (44) en sy assistent, Victor Baloyi (31), is op 29 Desember in ʼn beboste gebied tussen die Morudjie- en Mavele-nedersettings buite Tzaneen gevind. Volgens Ngoepe het hul liggame tekens van “brutale aanranding” getoon.

Patel en Baloyi was van Giyani na Nwajaheni op pad, maar het nooit by hul bestemming aangekom nie. Daar is later uitgevind dat die twee mans se voertuig gekaap is en ʼn soektog na die mans is van stapel gestuur.

Patel was ʼn sakeman van die Dzumeri-nedersetting buite Giyani en Baloyi was van die Rwanda-nedersetting buite Tzaneen afkomstig.

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.