Deurbraak ná moord op Pretoriase polisiebeampte

(Argieffoto: ER24)

Vyf verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n polisiebeampte wat sowat twee jaar gelede in sy huis noord van Pretoria doodgeskiet is.

Sers. Thomas Mashimbye (42) is in 2018 in sy huis in Winterveldt doodgeskiet toe drie gewapende rowers toegang tot die huis gekry het terwyl hy, sy vrou en twee kinders gelê en slaap het.

Mashimbye is destyds verskeie kere geskiet en op die toneel dood verklaar. Die rowers het met verskeie huishoudelike items en kontant gevlug en was sedertdien soek.

Sy vrou en kinders was ongedeerd in die voorval.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê lede van georganiseerde misdaad, die Gautengse polisie, die taktiese reaksiespan en die Ekhuruleni-metropolisie het Saterdag ʼn groot deurbraak in die saak gemaak toe hulle vyf verdagtes in Mogogelo, Winterveldt en Soshanguve in hegtenis geneem is.

Al vyf sal na verwagting Maandag in die Garankuwa-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en sameswering om moord te pleeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae