Deurbraak ná Orkney-moord, oorsaak van dood bekend

Beamptes by die verdagte wat in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

ʼn Taakspan van die polisie wat saamgestel is om die wrede moord op Anne Mary Erasmus (76), ʼn geliefde inwoner van Orkney in Noordwes, te ondersoek, het ʼn deurbraak gemaak.

Ao. Elize Kruger, woordvoerder van die Orkney-polisie, het Sondag aan Maroela Media gesê ʼn 31-jarige verdagte wat glo verbind kan word met verskeie inbrake, is Sondag omstreeks 05:00 in verband met Erasmus se moord in hegtenis geneem.

“Ons taakspan van ses lede, onder leiding van kapt. Montshiwa, het sedert die moord onverpoosd gewerk om die verdagte op te spoor en te verseker ons bewyse is op die hoë standaard wat van ons howe verwag word,” het Kruger gesê.

Kruger het gesê die verdagte is by sy huis in die Kanana-nedersetting in hegtenis geneem. “Sy huis is deursoek en die polisie het op twee televisiestelle, ʼn tas, ou muntstukke, afstandbeheerders en twee selfone beslag gelê.”  ʼn Selfoon, twee klein televisiestelle en ʼn onbekende bedrag geld is tydens Erasmus se moord gesteel.

Volgens Kruger het die verdagte glo op 14 Maart ʼn selfoon van ʼn bejaarde gesteel wat in die dieselfde straat as Erasmus woon. Dié selfoon is moontlik die ander selfoon wat in sy besit gevind is.

Anne Mary Erasmus. Foto: Verskaf

Maroela Media het Dinsdag berig Erasmus is verlede Saterdag omstreeks 09:00 die laaste keer lewend deur vriende en familie by ʼn kettingwinkel gesien.

“Sy moes Sondagoggend die kerk gaan oopsluit, maar het nooit opgedaag nie. Die kerkgangers en haar bure het maar aangeneem dat sy siek gevoel het en Sondag tuis gebly het,” het Kruger gesê.

Kruger het gesê die vrou se kinders en kleinkinders, wat verspreid oor die land woon, het Maandag begin bekommerd raak toe hulle haar nie in die hande kon kry nie.

“Hulle kon haar nie per selfoon in die hande kry nie en sy het nie oproepe oor haar huisfoon beantwoord nie. Die kinders en kleinkinders het die vrou se bure gebel en gevra om te gaan ondersoek instel.”

Volgens Kruger is die bure na haar huis en het hulle gesien die staalhek en voordeur staan oop. “Hulle het verder gaan ondersoek instel en gesien die huis is deurmekaar. Hulle het op haar liggaam in die stort by haar slaapkamer afgekom.” Die bure het die polisie Maandag omstreeks 13:00 ontbied. Die vrou se hande was met skoenveters vasgebind. Daar is aanvanklik vermoed dat sy verwurg is.

ʼn Nadoodse ondersoek is intussen uitgevoer en daar is vasgestel dat Erasmus ook verskeie kere met ʼn mes gesteek is, wat tot haar dood gelei het.

“Die polisie het intussen ook vasgestel dat die moord verlede Saterdag plaasgevind het. Die verdagte het die Vrydagaand in haar tuin geslaap en haar bewegings dopgehou. Voor dit het hy in die straat rondgeloop en stukwerk gesoek. Hy het nie die slagoffer geken nie. Hy het Saterdag toegang tot Erasmus se huis verkry deur die agterdeur terwyl sy in haar tuin gewerk het,” het Kruger bygevoeg.

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die Orkney-landdroshof verskyn.

Erasmus word oorleef deur haar dogters, Linda Sanders en Rika Odendaal, agt kleinkinders en ses agterkleinkinders.

Volgens Sanders het haar ma maar eers die afgelope ses maande alleen gebly. “My pa is byna twee jaar gelede oorlede, maar my dogter, Cheriese, het nog heeltyd by haar ouma gebly. Sy het eers so ses maande terug in haar eie plekkie ingetrek,” het Sanders aan Maroela Media gesê.

Sy sê die familie was egter nooit bekommerd oor Erasmus wat alleen gewoon het nie. “Sy was vreeslik veiligheidsbewus. Oral in haar huisie is daar net veiligheidshekke en slotte. Sy was ook so op en wakker en aan die gang, en ten nouste betrokke by die Metodistekerk. Almal in die omgewing het al die tannie met die 40 jaar oue blou Datsun-karretjie geken,” vertel sy.

Volgens Sanders het haar ma baie na aan die Here geleef en was haar kleinkinders en agterkleinkinders haar trots. “Ek sê altyd my kinders is ouma-kinders, want hulle was so erg oor hul ouma en sy oor hulle. Sy was my heldin, my idol. Die ruggie was maar skeef van die artritis en sy het al twee heupvervangings gehad, maar daar was nog so baie lewe in daardie lyfie. Sy was nie reg om te gaan nie.”

Erasmus se familie sal haar altyd onthou as ʼn kind van die Here wat altyd gereed gestaan het om ander te help. “Haar hart was van goud.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Muffin ·

Hoop hy kry lewenslank, alhoewel die doodsstraf meer gepas sou gewees het.

Michael ·

alles goed en wel hy is gevang dit gaan nie die tannie terug bring nie. en ook nie al die plaas boere nie . Al die hartseer wat altyd daar sal wees vir die famielies en hy gaan tronk toe vir n vakansie. Dit is baie sad.

$ ·

Ek is dankbaar saam met die familie en gemeenskap dat die verdagte vasgetrek is.

Wat nie vir my lekker sin maak nie is die volgende: Daar is aanvanklik vermoed dat sy verwurg is. ‘n Nadoodse ondersoek is intussen gedoen en daar is vasgestel dat sy verskeie kere met ‘n mes gesteek is, wat tot haar dood gelei het.

Ek probeer hierdie so sensitief moontlik vra uit respek teenoor haar geliefdes, maar hoe lei meswonde tot ‘n vermoede dat ‘n persoon verwurg is? Hoe word oorsaak van dood deur verskeie meswonde eers tydens ‘n nadoodse ondersoek vasgestel? ‘n Moordtoneel en beserings waar meswonde betrokke is, lyk darem mos heeltemal anders as ‘n moordtoneel waar iemand verwurg is?

Gert ·

En wat maak dit saak? Die arme tannie is vermoor, dit is al?

T ·

EK KEN DIE FAMILIE. HAAR HANDE EN VOETE WAS VASGEMAAK EN DAAR WAS SOOS EK VERSTAAN N TOU OM HAAR NEK-DIT DALK HOEKOM DAAR N VERMOEDE WAS SY WAS VERWURG

Nettie ·

@Gert, nee wat, om die berig te lees, gaan nie duidelikheid gee oor waarom daar nie aanvanklik gesien is dat die tannie met ‘n mes gesteek is nie. Dit lees daar is aanvanklik vermoed dat sy verwurg is en eers later, tydens ‘n outopsie, is daar vasgestel dat sy met ‘n mes gesteek is.

Nou, as ‘n mens verwurg word, kan dit nie onmiddellik en outomaties summier gesien word nie. Met messteke is dit ‘n ander saak – daar moet tog êrens bloed wees?

Ek glo $ het dit reg gehad to hy/sy so subtiel as moontlik gevra het hoe dit moontlik is dat die ondersoekbeampte/SAPD-lid/lede nie aanvanklik kon SIEN dat die tannie doodgesteek is nie.

ferdi ·

Uitstekende werk lede van Di SAPD da is nog baie van julle wat trots is op wat jul doen hoop di bestuur sien dit raak en beloon julle

Hoe standaard? ·

Watse hoe standaard van ons howe?? Praat ons van die howe wat moordenaars na enkele maande vrylaat, of in eerste plek nie eers in tronk sit nie? Nee, dis tyd dat ons ons eie land voor onderhandel, ons kan en mag nie meer n land deel met die wat moordenaars verdedig nie.

Wanda ·

Ek weet nie meer hoe ons moet maak nie. Jy moet wasgoed ophang met n vuurwapen by jou. Jy moet gras sny en tuinwerk doen met n vuurwaoen by jou. Jy lewe alreeds in n tronk. Lyk my nou moet jy jouself uit jou huis uit sluit sodat die antichris nie in jou huis sluip as jy buite besig is nie???? Hoe de hel ……

Andrea ·

Ja Wanda, dis presies wat ek en my man doen. As ek bv. in die tuin werk, is my hond, paniekknoppie en rewolwer by my. Die huis is gesluit sodat daar niemand ongesiens kan inglip terwyl die kinders alleen binne is nie.

Estelle ·

Jy dra miskien jou vuurwapen….maar jy mag nie skiet nie! Dan is dit JÝ wat aangekla word en skuldig is…. nie die aanvaller nie… HOW WARPED IS OUR SYSTEM?

Sons ·

Bly die skuldige is gevang, net n jammerte dat die regering nie die doodstraf wil terug bring nie, die tronke is oorvol en hulle word vet gevoer in tronke.

Amanda Boshoff ·

Dai dierbare tanie, was my tanie, sy sou nie n vlieg skade kon aandoen nie. RIP tanie Toekie

Banie ·

Eerste stap na veiligheid is om te identifiseer dat jy ‘n sagte teiken is en so te leef as jy wil oorleef.

Marianne ·

Dis onsettend hartseer dat hy die tannie vermoor het. Sy is broos, hy kon haar eerder vasgebind het en haar mond toegeplak het as om haar te vermoor.
Rowers word moordenaars dis vreesaanjaend.
My innige simpatie aan haar familie, vriende en kennisse. Mag God julle krag en bemoediging gee.

Michael ·

hulle mag nie hulle gesigte wys nie. Want moordenaars is beskermde spesies in ons land en dit is so.!!!!

Fanie ·

Andrea dit noem ek peraat welgedaan mag meer mense dit doen dit is ongerieflik maar n mens kan maar daardie bietjie opoffering doen sn lewend bly

Ansie Gower ·

Mooi werk SAPD. Aan Rika, Linda en julle gesinne wil ek se ons innige meegevoel. Ek onthou vir Toekie my buurvrou van jare gelede as n omgee mens. Ek vergeet ook nie haar bystand aan ons fam met my seuntjie Duncan se afsterwe jare gelede nie. RIP Toeks

DinkBietjie ·

Jammer maar die tronke loop klaar oor. Die ” deurbraak ” gaan nie die vermoorde dame haar lewe teruggee nie. Waar ons bly, vertrou ons nie die SAPD nie, punt. Ongelukkig is die SAPD nie in staat om landsburgers te beskerm nie. Die regering gee ook nie om nie. My empatie met die familie en met die oorledene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.