Deurbraak ná sakerooftog by Silver Lakes

(Foto verskaf deur die SAPD)

Agt persone, tussen 26 en 39 jaar oud, sal Donderdag in die Mamelodi-landdroshof verskyn ná hulle in Nellmapius, oos van Pretoria, in hegtenis geneem is.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het gesê die inhegtenisnemings volg ná ʼn deurbraak gemaak is oor ʼn rooftog op 21 Februarie by ʼn winkel in Silver Lakes.

“Die verdagtes is opgespoor by ʼn huis in Mphoastraat, Nellmapius. Beamptes het toegeslaan en agt persone in hegtenis geneem,” het Peters bygevoeg.

Tydens die soektog het beamptes beslag gelê op skoene, sweetpakke, rugsakke en twee selfone. Die waarde van die vermoedelik gesteelde goedere beloop meer as R382 000.

Die polisie het ook beslag gelê op vyf voertuie – twee Mercedes Benz-voertuie (waarvan een ʼn huurmotor is), ʼn Toyota Quantum, Toyota Etios en ʼn Volkswagen Polo. Dié voertuie is vermoedelik tydens die sakerooftog gebruik.

Tydens die inhegtenisneming het beamptes ook beslag gelê op ammunisie vir verskillende vuurwapens en ʼn pistool wat intussen as gesteel bevestig is.

Die provinsiale ondersoekeenheid se ondersoek duur voort om die verdagtes moontlik ook met ander sakerooftogte in Gauteng te verbind. “Die agt verdagtes staan intussen tereg op aanklag van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en vermoedelik gesteelde eiendom.”

(Foto verskaf deur die SAPD)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alet ·

So dis waar die skoene vandaan kom wat mens so lekker cheap op die vlooimarkte kan koop…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.