Deurbraak ses maande na man verdwyn

Kenneth Price (Foto: Brad Nathanson Investigations/Facebook)

Kenneth Price (73) is in Desember verlede jaar as vermis aangemeld en nou, ses maande later, is sy liggaam in ’n lykshuis gevind en is vier verdagtes in hegtenis geneem.

Price is glo op 17 November die laaste keer lewend gesien. Hy het alleen in ’n huis in Northdene in Durban gebly en nadat sy familie, wat oorsee bly, hom nie in die hande kon kry nie, is die hulp van ʼn private speurder, Brad Nathanson, ingeroep.

Op 12 Mei het Nathanson en sy span uiteindelik ’n deurbraak in die saak gemaak nadat inligting ontvang is oor ’n motorfiets wat te koop aangebied word. Dit het gelei tot die inhegtenisneming van Price se buurman en nog drie verdagtes nadat van die items wat tydens sy verdwyning uit sy huis vermis was in hul besit gevind is.

Verdere ondersoek het gelei tot die ontdekking van Price se liggaam in ’n lykshuis. Sy ontbinde liggaam is reeds vroeg in Desember gevind en was sedertdien in die lykshuis.

Daar word vermoed dat Price tuis deur die verdagtes oorval is en met ’n hamer aangerand is. Sy liggaam is toe glo in plastiek toegedraai voor hulle na Richardsbaai gery en die liggaam in digte bosse gestort het.

Die vier verdagtes het reeds in die Pinetown-landdroshof verskyn en die saak is tot 2 Junie uitgestel.

Nathanson het gesê Price was die slagoffer van parasiete wat sy besittings wou steel. “Hy het kort voor sy verdwyning ’n beroerte gehad. Hy is dus maklik oorrompel waarna hulle sy besittings gesteel en verkoop het. Hulle het selfs sy bankrekening vir weke lank na sy verdwyning leeggemaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Ek herhaal “die suurstofdiewe is altyd hier tussen ons”Wees waaksaam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.