Deurbraak verwelkom in moorde by Fort Hare-universiteit

Die beskuldigdes in die hof (Foto verskaf deur die SAPD)

Die polisieministerie verwelkom die deurbraak in die ondersoeke na moord en poging tot moord by die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap. Die ministerie is ook bemoedig dat die ondersoekspan korrupsieverwante aanvalle by die universiteit ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig senior werknemers van die Fort Hare‑universiteit in die Oos-Kaap is onder die vyf verdagtes wat Dinsdag op aanklagte van moord en korrupsie in die hof verskyn het. Dit is nog nie bekend hoeveel van die verdagtes by die universiteit werksaam was en watter poste hulle beklee het nie.

Lirandzu Themba, woordvoerder vir die ministerie van polisie, sê die span ondersoek die moord op visekanselier prof. Sakhela Buhlungu se bestuurder en lyfwag, Mboneni Vesele.

Vesele is in Februarie 2023 in die Buhlungo se voertuig doodgeskiet.

Die span ondersoek ook die moord op die instansie se vlootbestuurder, Petrus Roets. Roets is in Maart verlede jaar doodgeskiet.

Die beskuldigdes in die hof (Foto verskaf deur die SAPD)

Die span ondersoek ook pogings tot sluipmoord op verskeie ander personeellede van die universiteit.

“Vyf mans het Dinsdag vir die eerste keer in die Alice-landdroshof verskyn vir hul rol in die rits aanvalle op personeel van Fort Hare-universiteit, insluitend die twee moorde,” sê Themba.

Die polisie het die vyf mans oor die langnaweek in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklag van moord, poging tot moord, bedrog en korrupsie. Twee van die beskuldigdes staan ook tereg op aanklagte wat met die besit van ʼn vuurwapen en ammunisie verband hou.

Buhlungu het intussen namens die bestuur van die universiteit die deurbraak verwelkom. Die universiteit is egter geskok oor die nuus dat sommige van die beskuldigdes voormalige en huidige werknemers van die universiteit is.

Een van die beskuldigdes is ʼn voormalige studenteraadslid. Hy het later ʼn sakeman geword wat deur die universiteit as diensverskaffer aangestel is.

Polisieminister Bheki Cele en die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, het Dinsdag die hofverrigtinge bygewoon.

Hulle het die ondersoekbeamptes gemaan om geen steen onaangeroer te laat nie om al die kolletjies te verbind en almal op te spoor wat verantwoordelik is vir die rits aanvalle op personeellede van die universiteit.

Die vyf beskuldigdes sal na verwagting op 4 Mei formeel aansoek doen om borgtog. Hulle bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frederik C ·

Soos die verhoor aangaan, sal ons sien hoe maklik die kabinetslede graad vang.

Lillian ·

Siek om te dink dat ‘n mens se lewe niks werd is nie veral nie in die land nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.