Deurbraak vir pa om kind te kan sien

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

’n Pa van Hammanskraal buite Pretoria wat vir byna drie jaar lank hand en tand baklei het om sy sewejarige dogter te sien, is in die wolke nadat hy vandeesweek ’n oorwinning in die hof oor sy dogter se ma behaal het.

Die hooggeregshof in Pretoria het bevind dat dit in die dogter se beste belang is om toegang tot albei haar ouers te hê. Die kind se ma en ouma is boonop opgeskorte tronkstraf opgelê, nadat hulle ʼn vroeëre bevel van die hof verontagsaam het deur te weier dat die dogter haar pa sien.

Die dogter se ma, met wie die applikant tot Februarie 2019 in ʼn verhouding betrokke was, het geweier dat die applikant sy dogter sien nadat hul paaie geskei het. Hy het hom gevolglik in 2019 tot die kinderhof gewend om kontak met sy dogter te kan kry. Die saak is egter herhaaldelik uitgestel weens verskeie redes. Die pa het gefrustreerd geraak en die hofsaak voorlopig laat vaar.

ʼn Jaar gelede het hy egter besluit om die regsfirma Ulrich Roux & Associates te nader om die saak verder te voer. Vanessa Fernihough en Matthew Gary Temlett is as regsverteenwoordigers aan hom toegewys.

“Ons is terug na die kinderhof, maar die saak is weer herhaaldelik uitgestel. As daar nie tegniese probleme was nie, was die landdros nie beskikbaar nie of daar was allerhande verskonings van die ma se kant af,” sê Fernihough aan Maroela Media.

Volgens Fernihough was die kinderhof se beslissing dat die pa nie kontak met die kind mag hê nie, nie in die beste belang van die kind nie.

“Die ma het verskeie bewerings teen die pa gemaak as rede waarom hy nie kontak met sy dogter mag hê nie. Sy kon egter nie een van dié bewerings bewys nie.”

Dié bewerings sluit in dat die pa kwansuis tradisionele rituele op die dogter uitgevoer het en dat hy aggressief kan voorkom. Sy het ook beweer dat hy sy dogter verlaat en verwerp het. Geen van die bewerings is egter met konkrete bewyse gestaaf nie.

Volgens Fernihough het die dogter nie tydens die hofsaak by die ma gewoon nie, maar by haar ouma.

Fernihough het middel verlede jaar besluit om die saak direk na die hooggeregshof te neem. “Ons het die hooggeregshof op ’n dringende basis genader om ’n tussentydse bevel te kry in verband met die pa se kontak met die kind.

“Die hooggeregshof het goedgekeur dat die pa sy dogter twee keer per week – onder die toesig van ’n maatskaplike werker – mag sien.”

Teen daardie tyd het die pa sy dogter vir amper drie jaar nie gesien nie.

Volgens Fernihough het die ouma die eerste kontaksessie glo geweier. Met die tweede sessie kon nie pa nie veel tyd saam met sy dogter deurbring nie omdat die ouma en ma die kind glo laat by hom afgelaai het.

“Tydens die tweede sessie het die dogter uit haar eie vir haar pa ’n drukkie gegee. Dit was vir hom ’n groot oorwinning.”

Dit was egter die laaste sessie wat hy met sy dogter gehad het, want daarna het die ma en ouma weer eens alle kontak tussen pa en dogter verbied.

Fernihough sê die regspan het in Oktober verlede jaar weer die hof genader, waarna die hof die kontaksessies weer goedgekeur het.

“Die ma en ouma het egter versuim om die dogter na die sessies te neem. Hulle het elke keer ’n ander verskoning gehad waarom sy nie haar pa mag sien nie.”

Fernihough het in Januarie vanjaar ’n hofaansoek by die hooggeregshof ingedien waarin sy gevra het dat die ma en ouma van minagting van die hof aangekla moet word.

Die hof het Dinsdag die ma en ouma skuldig bevind op aanklag van minagting van die hof. Hulle is tot 30 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is, mits hulle die hooggeregshofbevel wat die pa se kontak met sy dogter reguleer nakom.

Regter Justice Mabuse het gesê lasbriewe vir die ma en ouma se inhegtenisneming sal uitgereik word indien hulle die hofbevel weer verontagsaam.

“Dit is menslik onverstaanbaar waarom een ouer die ander ouer se reg van toegang tot hul eie kind weier,” het Mabuse in die hof gesê.

“Ongeag die probleme en konflik wat ouers met mekaar het, moet die kinders nooit as gevolg daarvan ly nie.”

Die pa kan voorlopig weer sy dogter twee keer per week sien – onder die toesig van ’n maatskaplike werker. “Hoe gemakliker die kind met die situasie word, hoe meer sal hy haar kan sien,” sê Fernihough.

Fernihough is van mening die regter se beslissing is ’n stap in die regte rigting ten opsigte van ouervervreemding.

“Dit is in die beste belang van die kind om albei sy of haar ouers te sien en dit is goed dat die hof dit besef. Ek is bly die regstelsel het nie hierdie pa in die steek gelaat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Marius ·

Die een wat die ergste seerkry met so ‘n skeiding is is die kind.

AWV ·

Dit is waar, dit is nie lekker om te sien hoe jou kind deur al die drama moet gaan net oor 2 volwasse mense kinderagtig aan gaan en n kind as n wapen gebruik teen die ander ouer

Kobus ·

Baie geluk. Verstaan nie waarom ma’s altyd hulle eie reg wil laat geld nie. Altyd die man wat die “vark” in die verhaal is. Kennis van my het ook deur jare lange hofsake gegaan om sy seuns te mag sien. Nie alle mans is slegte pa’s nie

lollapot ·

Wonderlik! Baie dankie Regter Mabuse! Kinders moet albei hul ouers Ken.

Johanna ·

Vroue kan vieslik raak nadat n verhouding opbreek.
Hulle straf nie die pa nie, die kind gaan deur baie trauma want hy/sy is ewe lief vir altwee ouers.
Vergeet van jouself mamma, doen wag inbelang van julle kind is..
Pappas is BAIE BELANGRIK in kinders se lewens..
Laat hom toe om sy kind te sien..

domheks ·

Gewoonlik die ma se suur druiwe. Dan lei die kind/ers daar onder. Die ma probeer almal sleg se en dan is sy gewoonlik agter die deur.

Francois ·

Hell hath no fury than a woman thinking she has been scorned… Maak nie saak hoe kwaad jy is nie. ‘n Kind moet albei ouers kan sien

AmY ·

Gevangenenisstraf: 30 jaar? Of 30 dae?
30 jaar klink rof. Nie eens verkragters en moordenaars kry soveel jaar nie.
Maar ek is bly vir die pa se oorwinning

Piet Snot ·

Jy’s reg, Amy. 30 jaar vir minagting? Hoogs onwaarskynlik.

Elmarie ·

Fantastiese nuus. Ek wens meer pa’s het hierdie tipe deursettings vermoe om te baklei vir hulle kinders.

Misky ·

Sulke ma’s het geen benul watse onreg hulle die kind eintlik aandoen nie. Geluk aan die pa en wens alle pa’s is bereid om so te baklei vir hulle kinders.

Wielspore ·

Ons is grootouers en maak twee kleinkinders groot. My dogter het na ‘n verhouding van 9 jaar met ‘n narsis hom verlaat. Die verhouding is gekenmerk deur jaloersie, mishandeling en geweld teenoor die ma en kinders. Die oudste kind is 90% van leeftyd by ons agv finansies en drankmisbruik van die pa se kind, die volgende kind is onbeplan en die pa het gedurende my dogter se swangerskap gesê hulle kan nie nog ‘n kind beskostig. Na die kind se geboorte het die situasie nog versleg, geen of min geld om die kinders groot te maak. Ten spyte daarvan nooi pa vriende oor om te drink, my dogter het geld weg gesteek vir die huis, hy het haar fisies mishandel om die geld te kry. Sy drank rekening een maand was R13K, sy inkomste R12K, my dogter se inkomste R9K. Al my dogter se geld het vir die huis gegaan, sy het haarself verwaardeloos want sy kon niks vir haarself koop. Basta met vroueslaners.

Herman ·

Ek hoop eintlik die ma en ouma verbreek die voorwaarde. Hulle moet tronk toe gaan en n les geleer werd.

Petra ·

Dit is baie goeie nuus. Pa en dogter kan mekaar nou leer ken. ‘n Les vir almal, as jy iemand van iets beskuldig moet jy bewyse hê in die hof. Goeie Nuus, sluit daai 2 toe as hulle weer toegang weier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.