‘Devilsdorp’: Krugersdorp-moorde oopgevlek in nuwe reeks

(Foto: Verskaf)

In die vier jaar tussen 2012 en 2016 het ʼn vlaag wrede moorde die inwoners van Krugersdorp in Gauteng in vrees en paniek gedompel.

Die berugte Krugersdorp-afspraakmoorde het veral mense in die sakebedryf die skrik op die lyf gejaag met talle verkoopsagente en -konsultante wat bang was om afsprake te reël ingeval hulle in ʼn dodelike strik sou trap.

Speurders se ondersoek het in dié tyd 11 onopgeloste moorde verbind en later vasgestel dat die string misdade deur ʼn kultusgroep, Electus per Deus (Uitverkies deur God), gepleeg is.

Devilsdorp, Showmax Originals se eerste ware misdaaddrama, deel benewens buitengewone beeldmateriaal van sogenaamde duiweluitdrywings, kerkvergaderings en hofgetuienis en regsuitsprake, ook die verslae van die senior ondersoekbeampte, kapt. Ben Booysen, die adjunkdirekteur van openbare vervolging, Gerrit Roberts, Shane Chatzkelowitz, ’n eis-spesialis van Discovery, asook die verslaggewing van die joernalis Marizka Coetzer.

Die slagoffers se naastes deel hul ervarings en só ook kerklede wat die oortreders geken het. Jana Marx, ʼn joernalis en die skrywer van The Krugersdorp Cult Killings: Inside Cecilia Steyn’s Reign of Terror, tree op as die reeks se verteller.

Devilsdorp wys weer dat die waarheid vreemder as fiksie is – veral in Suid-Afrika,” sê David Enright, regisseur van die reeks, oor die eindproduk van ʼn 18 maande lange navorsingsproses.

“Dit vertel die verhaal van ʼn gemeenskap wat geruk is, asook hoe die lewens van die betrokkenes onherroeplik verander is, veral dié van die slagoffers se gesinne. Wat begin het as ʼn groep toegewyde Christene wat ʼn voormalige satanis uit ʼn sataniese kerk wou help ontsnap, het geëindig in ’n moordtog waarby ʼn ma, haar twee kinders en ʼn kultus met meer slagoffers as lede, betrokke was.”

“Ons weet dat ons gehoor met plaaslike ware misdaadstories behep is,” sê Candice Fangueiro, Showmax se inhoudshoof, en wys op die gewildheid van die Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisie-toekennings (SAFTA)-bekroonde rolprent Griekwastad en die SAFTA-benoemde reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas.

“Daar is iets diep ontstellend aan ’n program wanneer die slagoffers – en die skuldiges – soos jou bure lyk en klink en jy die omgewing herken.”

“Jy dink jy weet wat gebeur het, maar jy is verkeerd,” sê Wim Steyn van IdeaCandy, die produksiehuis wat dié reeks vervaardig het.

“Dit is ’n verhaal waar dinge selde is soos dit voorkom, en waar die pad na die hel met goeie bedoelings geplavei is.”

Kyk al vier episodes van Devilsdorp vanaf 29 Julie op Showmax. Die ouderdomsbeperking is 16.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.