Devon-plaasmoord: Verdagte in struweling doodgesteek

Irene Vermaak. Foto: Facebook

Irene Vermaak. Foto: Facebook

Skaars ʼn uur nadat die plaasbeveiligingsgemeenskap van Devon die moordtoneel van die weduwee Irene Vermaak (66) skoongemaak het, het ʼn man met sy lewe geboet toe hy op die toneel betrap is.

Vermaak is Dinsdagaand in ʼn plas bloed in haar plaashuis tussen Devon en Endicott in Gauteng gevind. Sy het alleen op die plaas gewoon sedert haar man nege jaar gelede dood is. Haar liggaam is omstreeks 19:00 deur ʼn buurman gevind nadat sy nie op die plaaslike radiostelsel ingeskakel het nie. Haar keel is met ʼn mes afgesny. Die moontlikheid word ook ondersoek of sy verkrag is. Die polisie vermoed dat slegs ʼn paar rand gesteel is.

Dennis Grose, die voorsitter van die plaasbeveiligingsnetwerk, het Vrydag aan Maroela Media gesê Vermaak se huis is Woensdag omstreeks 00:30 opgeruim nadat die polisie die toneel vir leidrade gefynkam het.

“Ons het ʼn plaaslike landboubewaarder na die plaashuis gestuur om dit op te pas. Hy was skaars ʼn uur daar, toe hy twee verdagtes by die huis opgemerk het,” het Grose gesê. “Die bewaarder het dadelik die beheerkamer in kennis gestel, waarna hy deur die mans oorval is.”

Die verdagtes het na bewering te voet ʼn landery in gevlug en die bewaarder het hulle agternagesit.

“Hy kon een van hulle aankeer en ʼn bakleiery het glo ontstaan. Een van die mans het ʼn mes by hom gehad. Die bewaarder is tydens die voorval raakgesteek en gewond en die verdagte is noodlottig gewond.” Die ander verdagte kon daarin slaag om te ontsnap. Die bewaarder moes mediese behandeling ontvang.

Die Devon-polisie het die bewaarder in hegtenis geneem. Hy sal na verwagting Vrydag in die hof op Nigel verskyn. Ao. Tommy Tomlinson, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê die inhegtenisneming is normale prosedure wat gevolg is ná ʼn moord. “Die hof sal bepaal of dit ʼn saak van moord, strafbare manslag of selfverdediging is,” het hy verduidelik.

Tomlinson het gesê die moontlikheid word ondersoek of die oorledene met Vermaak se dood verbind kan word.

Niemand is nog in verband met Vermaak se moord in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Ek ·

Die einde van Suid Afrika is nader as die einde van die wereld mense…..

Tdw ·

Ek kan nie glo die vermetelheid van die moordenaars om weer terug te keer na die plek toe nie. Maar hoekom die bewaarder in hegtenis neem? Hy moet ‘n medalje kry!

tamboti ·

Hy moet defnitief beloon word, baie dapper om in die nag moordenaars te vang!

Delta Mike ·

Volgens die strafproses wet kan die bewaarder wat homself verdedig het nie in hegtenis geneem word nie, hy het opgetree in noodweer om sy lewe te beskerm teen n aanval. Die bewaarder het die reg om n poging tot moord saak teen die “dooie” aanvaller oop te maak. Die polisie sal in hul ondersoek bewyse moet indien om die teendeel te bewys. Lyk my deesdae word mense links en regs in hegtenis geneem voordat alle bewyse bekom is..

Lettie ·

Delta Mike jy slaan die spyker op die kop. Die ergste is die arme bewaarder wat homself probeer verdedig het is agter tralies en die skelm hardloop die strate vol – soos gewoonlik. Ai toggie wat is volgende.

Jacques ·

In so geval kan die bewaarder nie ‘n saak van ontvoering en/of saak van onregmatige arrestasie teen die polisie oopmaak nie?

clive ·

wets oortreeders het meer regte as ons wat net ons self, familie en eiendom wil beskerm.
die wette in die land is heel verkeerd.

Berhalet Beukes ·

Net in SA word jy in hegtenis geneem wanneer jy deur boewe oorval word want dis mos hoe dit hoort! Boonop is moordenaars al so arrogant, hulle doen dit kort nadat die een toneel skoongemaak is! Hulle behoort gehang te word! Nog beter, hang hulle waar almal hulle kan sien!

Grotman ·

Aandag Maroela Media. Ek het nou reeds n paar keer komentaar geplaas wat nie veel anders is as ander maar dis deur julle? Uitgewerp??? Ek wonder soms aan wat se kant van die wa julle werklik beweeg. Ek vra net!

Sune van Heerden ·

Dagsê Grotman

Tien van jou kommentare is die afgelope maand op Maroela goedgekeur en verskyn op die webwerf.
Slegs twee van jou kommentare op 13 November het ongelukkig nie aan ons bepalings en voorwaardes voldoen nie, en dit is afgekeur.

Kontak ons gerus by [email protected] indien daar spesifieke kommentaar is waaroor jy navraag wil doen.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Grotman ·

Wat anders verwag julle van die korupte stelsel? Jammer maar ek het geen respek vir enige van die nuwe suid afrika se SAP, regering of wette… Die man verdien n verdomde medalje nie die tronk nie en te hell met normaal proseduure GA!

Eddie ·

Dit is nou maar hoe dit werk in Suid Afrika. Jy is die een wat aangerand word of amper vermoor word en jy eindig in die tronk op om jou gesin en jouself te beskerm. Dit is hoe die lafarts dit wil he. Want in die eerste plek maak dit as hulle terug kom dit soveel makliker om verder te roof en te moor.

tamboti ·

Ek en almal wat hierdie lees moet aandring dat al die betrokkenes by Devon Polisie stasie onmiddelik geskors of terug gestuur word na die Polisie Kollege! Tommy Tomilson hoe kan jy verklaar dat dit standaard prosedure is om enigeen wat in self verweer optree, in hegtenis te neem totdat die hof bepaal of hy vervolg word of nie, waar het jy gedroom toe jy opleiding moes kry. As daar nog een regverdige landros of magistraat oor is, stuur hierdie klomp onbevoegde SAP na ‘n ver en warm plek!!!!!!
In die eerste plek moes daar spoorsny honde wees en hul sou verseker hierdie twee boosdoeners gekry het waar hulle laag gele het, natuurlik kan hul met die moord verbind word. Of het hul miskien weer “werk” gesoek 1 uur die nag by die vermoorde boer vrou????
Ek kan braak van hierdie storie, DIT MOET NOU GESTOP WORD.
Kom Devon se plaasbeveiligings netwerk doen iets, roep die boere en gemeenskap op om teen die SAP optrede te betoog by hof en vereis daardie SAP se skorsing!!! En hul bevelvoerder ook omdat hy nie die nodige stappe neem nie.

Henry McDonald ·

Indien die gebeure soos in die berig weergee feitlik korrek is, is dit onverstaanbaar dat die wag wat in die voorval betrokke was in hegtenis geneem is. Die korrekte prosedure is wel om ‘n dossier te open alle verklarings van betrokkenes te neem dan die dossier aan die staatsaanklaer of DOV voor te lê vir ‘n beslissing om te vervolg of nie. Die wag is bekend en indien hy uit selfverdediging opgetree het, waarom hom dan in hegtenis neem ?

Mary Irene van Staden ·

Baie Dankie dit was my vermoorde Niggie Irene Vermaak. Ja die wet so onregverdig met selfbeskerming. Ek en die 3 kinders skoonkinders en kleinkinders huil nog dag en nag. Sondag kranslegging op die plaas gehad. Maar niks kan ons troos. Ons was Naamgenote van Ouma groot se regte name sy Irene Mary Vermaak. Ek is Mary Irene van Staden

leonsnr ·

Ek stem saam die arrestasie is onwettig in my 35 jaar wat ek in die sapd was was so n saak eers volledig ondersoek en dan aan die nasionale vervolgingsgesag voorgele wat sal beslissis of daar strafregtelike vervolging moet wees.hierdie onbevoegheid vind plaas omdat die bevelvoerders ook nie weet wat die wet se nie en nie leiding kan gee nie

Peet Schabort ·

Lees die kommentaar van “Plaaslike plaas veiligheid Springs” in die vorige berig oor presies dieselfde ding wat met die wag gebeur het soos hier berig.
Neewat polisie oftewel SAPD daar is ‘n KORTSLUITING tussen julle en die publiek wat julle veronderstel is om te beskerm en dit maak mense bang en wantrouig teenoor julle.

Hennie ·

Mense, ek ken nou nie die polisie regulasies se voorvereistes van arrestasie nie, maar een logiese afleiding waar julle almal die pot mis sit, is dat dit nie tegnies selfverdediging was nie: in die huis of erf, ja, maar daarna het die verdagtes in die veld in gevlug en hy het hulle AGTERNA GESIT. Dit is moontlik waar die onderskeiding relevant raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.