Dewani besoek gaywebwerwe ure ná vrou se liggaam gevind is

shrien-dewani

Shrien Dewani op 6 Oktober 2014 in die Wes-Kaapse hooggeregshof Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA/Pool

Shrien Dewani het ure nadat sy vrou, Anni, se liggaam gevind is, op ’n gay-afspraakwebwerf aangemeld.

Die inligting is vervat in ʼn dokument van bekentenisse wat Maandag deur Dewani se regsverteenwoordiger, Francois van Zyl, by die hof ingedien is, maar nie voorgelees is nie. In die dokument word daar bevestig dat Dewani op die webtuistes Gaydar en Recon geregistreer was. Sy gebruikersnaam op albei webtuistes was ‘ASIANSUBGUY’.

Dewani het erken dat hy Gaydar vroeg die oggend op 15 November 2010 besoek het. Anni se liggaam is op 14 November 2010 gevind. Dewani het dié webtuiste weer op 15 en 16 November besoek. Hy het ook Recon, ʼn fetisj-webtuiste vir mans, op dié twee dae besoek.

Dewani het verder erken dat hy Gaydar besoek het terwyl hy en Anni op 12 November 2010 gewag het op hul vlug van Johannesburg na Kaapstad. Hy het sy profiele op Gaydar en Recon op 21 November 2010 gesluit.

Dewani se moordverhoor het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof begin. Dewani het in sy pleitverduideliking erken dat hy biseksueel is en dat hy al seks met mans en vroue gehad het.

Dewani word daarvan beskuldig dat hy Anni op 13 November 2010 tydens hul wittebrood laat vermoor het. Hy voer aan dat hulle slagoffers van ʼn kaping was. Dewani het onskuldig gepleit op aanklag van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede, sameswering om hierdie misdade te pleeg en dwarsboming van die gereg.

Klik hier om die hofgebeure op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marietjie ·

Grillerige ventjie. Kan nie glo ‘n mooi, opgevoede vrou soos Anni het met hom getrou nie en dan nog terwyl hulle op wittebrood is en vir ‘n vlug wag die webwerwe besoek. Dis mos ‘n duidelike teken dat hy geen respek vir sy vrou gehad het nie en net aan sy siek, perverse “verslawing” gedink het. Was sy bewus van die dubbele lewe wat hy gely het?

Rieks ·

Marietjie – dit was ‘n gereelde troue – geforseerd op mense wat geen verweer het nie behalwe om te doen wat die ouers sê… Hoop hierdie is een van die oog oopmakers vir alle gereelde huwelike. Dit is net ‘n resep vir ongelukkigheid en soms die alle wreedste dinge wat hierdie onskuldiges mee opgesaal word. Kyk ook na die hoeveelheid kinder bruide wat daar is! Hulle voor ouers het dit gedoen, hulle ouers doen dit en hulle gaan dit ook doen :-(

pop ·

Jys reg Rieks, ek wonder hoe voel haar ouers nou met hulle kind was dood is. Hopenlik sal ander nou 2 keer dink voor hulle ook hulle kinders vir die wolwe gooi.

Babs ·

Die mannetjie het alles haarfyn beplan. Baie geld betrokke by Annie se dood. Hoekom skielik nou gay pleit. Snaaks hy het nie ook dronk gepleit. Dan kom hulle mos weg met moord.

Marietjie ·

Rieks – ek hoor wat jy sê. Gereël deur die families miskien, maar afdwingbaar twyfel ek. Anni het dit oorweeg om die verlowing te verbreek en was hulle gedurende die 17 maande van hulle verhouding tog op ‘n keer uitmekaar?? Ek twyfel tog of haar Pa of enige een haar sou forseer as sy haar redes vir die verbreking van haar verlowing gronde gehad het. Shrien het haar oortuig om tog nie die verlowing te verbreek nie en het die troue voortgegaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.