Dewani dagvaar moordenaar se prokureur

Shrien Dewani op 8 April 2014 in Kaapstad Foto: Leigh-Anne Jansen/eNCA/SAPA

Shrien Dewani op 8 April 2014 in Kaapstad Foto: Leigh-Anne Jansen/eNCA/SAPA

Die moordbeskuldigde Shrien Dewani dagvaar die prokureur van een van sy vrou, Anni, se moordenaars in ‘n poging om sy telefoonstate te bekom, het Beeld Maandag berig.

Volgens die dagblad dagvaar Dewani vir William da Grass, die prokureur wat taxibestuurder Zola Tongo verdedig het. Tongo is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Anni.

Tongo het tydens sy moordverhoor in 2010 getuig dat Shrien die meesterbrein agter Anni se moord was.

Shrien eis dat Da Grass se telefoonrekords vir die tydperk van 14 November 2010 tot 30 November 2010 aan sy prokureurs oorhandig moet word. Dit behels alle state van selfoon- en landlynnommers wat in Da Grass, of sy regpraktyk ENS, se naam geregistreer is.

Beeld en Die Burger is in besit van ʼn afskrif van die dagvaarding. Da Grass het geweier om kommentaar te lewer.

Hy het tot 15 Augustus tyd om sy foonrekords by die Wes-Kaapse hooggeregshof in te dien.

Anni (28) is op 13 November 2010 gedurende haar wittebrood tydens ‘n kaping in Gugulethu doodgeskiet. Haar liggaam is die volgende dag opgespoor. Haar man Shrien is in April van Engeland na Suid-Afrika uitgelewer.

Hy ondergaan tans sielkundige waarneming by Valkenberg-hospitaal. Hy word aangekla van sameswering tot ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, ontvoering en dwarsboming van die gereg.

Hy kan in Oktober verhoor word indien ʼn mediese paneel hom bevoeg verklaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SNEL ·

Goeiste, sal die saak ooit afgehandel word? Ek wonder hoe moet Anni se pa en familie voel oor die verloop van die saak. Hul sê altyd jy is onskuldig tot jy eers skuldig bewys is, maar hier is nie net n rokie en n stank nie, ons almal weet waar Dewani eintlik hoort….., maar oor die een of ander onverklaarbare rede kry die skelm en skurk dit altyd reg om die regstelsel om hul vinger te draai. Eers speel hy siek en nou lyk dit wil hy die saak so laat sloer tot in ewigheid in, en almal dans as hy praat. Watse nonsies is dit, waar kry n beskuldigde in n saak so baie regte. Dis twak. Wat het die prokureur se telefoonrekords met hom iets uit te waai, dis belaglik. Kry hierdie saak tog afgehandel en kry Dewani waar hy hoort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.