Dewani deur groep kenners waargeneem

Dewani se gesin verlaat die Wes-Kaapse hooggeregshof na sy verskyning Vrydag. Foto: Nardus Engelbrecht

Dewani se gesin verlaat die Wes-Kaapse hooggeregshof na sy verskyning Vrydag. Foto: Nardus Engelbrecht

Die moordbeskuldigde Shrien Dewani se verhoor kan moontlik so vroeg as Oktober begin indien ‘n paneel van kenners rakende geestesgesondheid bevind hy is geskik om verhoor te word, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Vrydag gehoor.

Rodney de Kock, direkteur van openbare vervolging, het ‘n aansoek gebring dat Dewani se geestesgesondheid amptelik waargeneem moet word in terme van die Strafproseswet. Hy sê die waarneming word genoodsaak deur die feit dat die geestesgesondheidverslag wat deur dr. Sean Baumann, ‘n psigiater by die Valkenberg-hospitaal, opgestel is verskil van prof. Tuviah Zabow, se verslag. Zabow tree namens Dewani op.

Die verslae is albei op 3 Junie saamgestel en is by regterpresident John Hlophe ingehandig. “In die lig van die geskiedenis van hierdie saak en die huidige konflik rakende die vraag oor of die beskuldigde aan ‘n geestesongesteldheid-siekte lei en die potensiële impak daarvan op sy geskiktheid om verhoor te word, is die staat van mening dat die saak finaal opgelos moet word,” het De Kock gesê.

De Kock het voorgestel dat ‘n paneel van kenners rakende geestesgesondheid hiervoor aangestel moet word. Die eerste kenner is prof. Sean Kaliski, Valkenberg se mediese superintendent. Prof. Zabow sal deur die hof aangestel word as ‘n sielkundige vir Dewani. Dr. Claudia de Clerq, wat voltyds in diens van die staat is, sal as ‘n derde sielkundige aangestel word. Tania Swart sal as ‘n kliniese sielkundige aangestel word.

De Kock het versoek dat die saak tot 15 Augustus uitgestel word en dat Dewani tot dan aangehou word vir waarneming. Hy sê die staat en verdediging het ook ‘n voorlopige datum van 6 Oktober vasgestel vir die verhoor om te begin.

Francois van Zyl, namens Dewani, het gesê die verdediging staan nie die staat se versoek teen nie. Hlophe het die versoek om uitstel toegestaan en aan Dewani verduidelik wat gaan gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.