Dewani geskik om verhoor te word

Shrien Dewani op 8 April 2014 in Kaapstad Foto: Leigh-Anne Jansen/eNCA/SAPA

Shrien Dewani op 8 April 2014 in Kaapstad Foto: Leigh-Anne Jansen/eNCA/SAPA

Die moordbeskuldigde Shrien Dewani is Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof bevoeg verklaar om verhoor te word vir die moord op sy vrou, Anni.

“Die beskuldigde is nie geestelik siek nie. Hy is nie sertifiseerbaar kragtens die Wet op Geestesgesondheid nie,” het Rodney de Kock, die direkteur van openbare vervolging, gesê.

Francois van Zyl, Dewani se prokureur, het gesê die paneel wat sy kliënt se geestestoestand moes bepaal, het ʼn eenparige besluit geneem. “Ons stem saam met hul besluit, en het geen besware nie,” het Van Zyl gesê. Dewani het sielkundige waarneming by Valkenberg-hospitaal ondergaan.

Dewani se verhoor begin op 6 Oktober. Hy moet weer op 9 September in die hof verskyn tydens sy formele voorverhoor.

Anni (28) is op 13 November 2010 gedurende haar wittebrood tydens ‘n vermeende kaping in Gugulethu doodgeskiet. Haar liggaam is die volgende dag opgespoor. Shrien is in April van Engeland aan Suid-Afrika uitgelewer.

Hy word aangekla van sameswering tot ontvoering, roof met verswarende omstandighede, moord, ontvoering en dwarsboming van die gereg.

Xolile Mngeni, Zola Tongo en Mziwamadoda Qwabe is in 2012 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir Anni se moord. Mngeni is ook 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, en is tot ʼn verdere vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Die vonnisse word gelyktydig uitgedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.