Dewani-moordverhoor: Besonderhede van moord nooit bespreek nie

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Besonderhede oor hoe die wittebroodtoeris Anni Dewani vermoor moet word, is glo nooit vooraf deur haar huurmoordenaars bespreek nie, het die Wes-Kaapse hooggeregshof Woensdag gehoor.

Die veroordeelde moordenaar Mziwamadoda Qwabe getuig tans in Shrien Dewani se moordverhoor.

“Jy het ʼn opdrag aanvaar om iemand vir R15 000 te vermoor, maar jy het nooit eers daaraan gedink hoe die persoon vermoor sou word nie?” wou Francois van Zyl, Dewani se prokureur, onder kruisondervraging by Qwabe weet.

Qwabe dien tans tronkstraf van 25 jaar uit vir sy aandeel in die moord op 13 November 2010.

Hy het gesê hulle het nie vooraf die metode bespreek of bevestig wie dit sou doen nie. Hy het egter net daarna erken hy het sy vuurwapen aan die veroordeelde skieter, Xolile Mngeni, gegee. Volgens Qwabe het hulle geweet hulle sal ʼn vuurwapen gebruik, maar nie wanneer of waar nie. “Dis waarom ek geskok was toe die skoot afgegaan het,” het hy verduidelik.

Hy het vroeër getuig dat ʼn skoot in die bussie geskiet is terwyl hy en sy medepligtiges saam met Anni tussen Ilithapark en Ndlovini in Gugulethu, Kaapstad, gery het.

Hy het ook aan Van Zyl gesê hy het nie geweet of die geld vir die huurmoord in ʼn sak van die agtersitplek se oortreksel geplaas is, soos daar aanvanklik gereël is nie. Hy het gesê Mngeni het die geld uit die sak gehaal voor Anni geskiet is. Van Zyl wou weet waar die R15 000 vandaan kom. Qwabe het gesê Mngeni het dit voorgestel toe hulle uitgevind het ʼn huurmoordenaar word gesoek.

Mngeni is tot lewenslange tronkstraf gevonnis omdat hy die sneller getrek het en sy medepligtige, Zola Tongo, is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.

Die kruisverhoor hervat Donderdag.

Qwabe is die tweede staatsgetuie in die verhoor.

Dewani word daarvan beskuldig dat hy Anni op 13 November 2010 tydens hul wittebrood vermoor het. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte teen hom en voer aan die egpaar was slagoffers van ʼn kaping terwyl Tongo hulle rondgery het.

Volg die verloop van gebeure op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.