Dewani-moordverhoor: Getuienis oor gay webwerf aangehoor

shrien-dewani

Shrien Dewani op 6 Oktober 2014 in die Wes-Kaapse hooggeregshof Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA/Pool

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Maandag die getuienis van twee staatsgetuies aangehoor in die Britse sakeman Shrien Dewani se moordverhoor.

Dewani se prokureur, Francois van Zyl het sy kruisondervraing van een van Anni Dewani se veroordeelde moordenaars, Mziwamadoda Qwabe hervat. Die saak is Donderdag uitgestel omdat Qwabe en Dewani al twee van maagprobleme gekla het.

Van Zyl het Qwabe daarvan beskuldig dat hy die sneller op 13 November 2010 getrek het, en nie Xolile Mngeni, wat tans lewenslange tronkstraf uitdien nie. Qwabe hou vol hy het die voertuig bestuur toe hy die skoot gehoor het.

Van Zyl het ook gesê die skietery was ʼn ongeluk en voer aan die plan het skeefgeloop om Anni as ʼn gyselaar te hou in ruil vir ʼn groot losprys. Qwabe het dit ontken.

Dewani word as die meesterbrein beskuldig agter Anni se moord tydens hul wittebrood in Kaapstad in 2010. Hy het onskuldig gepleit op vyf aanklagte teen hom en hou vol die egpaar was deel van ʼn kaping in Gugulethu op 13 November 2010.

Van Zyl het dit aan die lig gebring dat Qwabe ʼn vroeër parooldatum versoek het in ruil vir sy getuienis teen Dewani.

Die staat het hierna sy derde getuie, Simon Johnson (33), voormalige digitale produkbestuurder van die Gaydar-webwerf, het getuig oor Dewani se profiel, “ASIANSUBGUY”. Johnson het gesê die betrokke gebruiker het homself beskryf as ʼn “enkellopende gay man”. Die persoon het ook die opsie “enkellopende biseksuele man” gekies. Onder seksuele oriëntasie het die persoon “gay” gekies.

Volgens Johnson het Dewani in sy profiel aangedui hy is op soek na ʼn enkellopende gay man, ʼn enkellopende biseksuele man, of ʼn gay paartjie of ʼn groep.

Hierdie inligting is moontlik teenstrydig met Dewani se pleitverduideliking waar hy homself as ʼn biseksueel beskryf het.

Die staatsaanklaer het bevestig dat Dewani die webwerf in 2010 op 12 November, 15 November en 16 November besoek het.

Johnson het egter bevestig dat hy nie uit sy rekords kan sien wat Dewani op hierdie dae op die webwerf gedoen het toe hy ingeteken was nie. Die profiel is op 21 November 2010 gedeaktiveer.

Volgens Van Zyl sal hy getuienis kan lewer dat sy kliënt se suster, Preyal, die profiel met sy gebruikernaam en wagwoord verwyder het.

Johnson is ook verskoon.

Die verhoor hervat Dinsdag wanneer die staat na verwagting ʼn nuwe getuie sal roep.

Klik hier om alle vorige berigte oor Shrien Dewani te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.