Dewani-moordverhoor: Hof hoor Shrien is biseksueel

shrien-dewani

Shrien Dewani op 6 Oktober 2014 in die Wes-Kaapse hooggeregshof Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA/Pool

Die Britse sakeman Shrien Dewani het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof onskuldig gepleit op die moord van sy vrou Anni in Kaapstad in 2010 en ander verwante aanklagte.

Dit het vroeër aan die lig gekom dat Dewani biseksueel is en dat hy seksuele omgang met mans en vroue het. “My seksuele omgang met mans was hoofsaaklik fisiese ervarings of e-posgesprekke met mense wat ek aanlyn of in klubs ontmoet het,” het Dewani in sy pleitverduideliking gesê. “My seksuele omgang met vroue was gewoonlik tydens die verloop van ʼn verhouding wat ander aktiwiteite en emosionele verbintenisse ingesluit het.”

Die hof het ook gehoor hy het hormoonprobleme en moes testosteroonvervangingsterapie ondergaan. “Ek het besluit om die behandeling te ontvang ondanks die newe-effekte,” het hy in sy pleitdokument gesê. “Dit was vir my baie belangrik om my eie gesin te hê.”

ʼn Endokrinoloog het in 2009 aan Dewani gesê hy het abnormaal lae vlakke van die hormoon en dat hy moontlik sal sukkel om kinders te kry. Hy is gewaarsku dat die hormoonbehandeling moontlik newe-effekte soos bloedklonte, slaapapnee, vergroting van borste, gewigstoename en aknee kan insluit. “Ek het my probleem met Anni bespreek, aangesien ek geweet het sy wil ook kinders hê.”

Dewani staan tereg op aanklag van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede en sameswering om hierdie dade te pleeg. Hy word ook aangekla van dwarsboming van die gereg.

Staatsaanklaer Adrian Mopp het die aanklagte aan die hof voorgehou. Dewani se prokureur, Francois van Zyl, het sy kliënt se pleitverduideliking aan die hof voorgelees.

Adjunkregterpresident Jeannette Traverso word deur twee assessore ondersteun.

Klik hier om die verloop van die gebeure op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.