Dewani-moordverhoor: Patoloog is eerste getuie

Vinod Hindocha, Anni Dewani se pa kom op 6 Oktober 2014 by die hof aan. Hy word vergesel deur familielede. Foto: Nardus Engelbrecht, SAPA

Vinod Hindocha, Anni Dewani se pa kom op 6 Oktober 2014 by die hof aan. Hy word vergesel deur familielede. Foto: Nardus Engelbrecht, SAPA

Die staat het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof die patoloog, wat die nadoodse ondersoek op Anni Dewani uitgevoer het, as sy eerste getuie geroep.

Dr. Janette Verster het aan die hof gesê sy is na Khayelitsha in Kaapstad ontbied waar ʼn liggaam op die agterste sitplek van ʼn verlate taxi die oggend van 14 November 2010 opgespoor is. Sy het bevind dat Dewani dood is weens verskeie skietwonde.

Shrien Dewani het vroeër onskuldig gepleit op aanklag van moord op sy vrou Anni en ander verwante aanklagte. Hy voer aan die egpaar is tydens hul wittebrood gekaap toe hulle op 13 November 2010 in ʼn taxi deur Gugulethu in Kaapstad gery het. Volgens hom het die kapers hom gedwing om uit te klim en hulle het met Anni weggery.

Verster het ʼn voorlopige ondersoek op die toneel gedoen. Anni het op haar regtersy gelê en al twee hande was onder haar ken. Die liggaam was reeds koud.

ʼn Video van die misdaadtoneel en Anni se liggaam is op groot televisieskerms in die hofsaal gewys net voordat Verster begin getuig het.

Verster het aan staatsaanklaer Adrian Mopp gesê Anni het ʼn geweerskoot in haar linkerhand en linkerkant van haar nek gehad.

Haar hande is met bruin papiersakke toegebind en haar liggaam is versigtig in ʼn lyksak geplaas. Verster het toe opgemerk dat Anni ook in haar regtersy geskiet is.

Volgens haar het Anni binne ʼn paar oomblikke gesterf ná die skietwond in haar nek. Indien sy die aanval oorleef het, sou sy moontlik verlam gewees het.

Daar was geen teken van seksuele aanranding nie.

Onder kruisondervraging het Verster aan Dewani se prokureur, Francois van Zyl, gesê sy het al meer as 200 nadoodse ondersoeke gedoen wat verskillende tipes skietwonde insluit.

Die saak hervat Woensdag.

Klik hier om die verloop van die saak op Maroela Media te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.