Dewani-moordverhoor: Shrien het ʼn helikopterrit vir Anni beplan

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Anni Dewani Foto: Facebook (Bron: dailymail.co.uk)

Die Britse sakeman Shrien Dewani het Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê hy en sy vrou Anni het Suid-Afrika as hul wittebroodsbestemming gekies, omdat die land se afkorting soortgelyk is aan die voorletters wat vir hulle name gebruik word.

“Nie een van ons was al vantevore in Suid-Afrika nie, en die akroniem ‘SA’ is soos ons voorletters [Shrien en Anni],” het Dewani se prokureur Francois van Zyl uit sy kliënt se pleitverduideliking voorgehou.

Dewani het vroeër onskuldig gepleit op aanklag van moord op Anni en ander verwante aanklagte. Hy voer aan hulle is tydens hul wittebrood gekaap toe hulle op Saterdag, 13 November 2010 in ʼn minibustaxi in Gugulethu in Kaapstad gery het. Volgens Dewani het die kapers hom gedwing om uit te klim voor hulle met Anni weggery het. Sy is die volgende oggend dood aangetref in die taxi.

Volgens Dewani se hofdokument het die twee pasgetroudes met eersteklaskaartjies op 8 November 2010 vir ʼn safari na Suid-Afrika gevlieg. Hulle het op Kaapstad se internasionale lughawe geland en Dewani het ʼn taxi gaan soek om hulle na die Cape Grace-hotel te neem terwyl Anni by die bagasie gebly het. Hy sê die eerste groep mense met wie hy in die land gepraat het, was ʼn groep taxibestuurders. Een van hulle, Zola Tongo, het gevra of hulle ʼn rygeleentheid soek, aangesien hy BBP-oordragte hanteer. “Hy het gesê hy is ʼn toergids en hy het al vantevore ʼn hele paar belangrike gaste vervoer,” aldus Dewani. “Hy was eintlik net besig om sy dienste te verkoop.”

Tongo het glo op pad vir hulle gesê hy is enkellopend en geniet sy leefstyl. “Ons het hom vertel van my ramparty wat in Las Vegas was en die helikopterrit wat ek saam met my vriende gereël het. In hierdie stadium was ek van plan om iets soortgelyk vir Anni te reël, omdat ek gedink het dit sou ʼn lekker verrassing wees.”

Dewani het in sy pleitverduideliking gesê hulle het Tongo betaal toe hulle by die hotel aangekom het en hom uitgevra oor ʼn privaat helikopterrit. Hy het glo vir hulle gesê hy kan dit reël vir tussen R20 000 en R25 000. Dewani het R15 000 aangebied en Tongo het gesê hy sal sien wat hy kan reël.

Dewani wou ook by Tongo weet waar hy sy Britse ponde vir rande kan ruil en Tongo het aangebied om hom na ʼn spesiale plek in die stad te neem.

Tydens aandete het Dewani egter ontdek hy het nie sy selfoon by hom nie. Hy het dit later in sy hotelkamer opgespoor en gesien Tongo het hom ʼn paar keer probeer bel en toe ʼn teksboodskap gelaat. Hy sou die egpaar die volgende dag om 12:00 oplaai. Hy het aan Dewani gesê die helikoptervlieënier wil R15 000 kontant hê sodat hy dit nie hoef aan te teken nie. Dewani het ingestem.

Tongo en twee medepligtiges is reeds verhoor en is tronkstraf opgelê. Tongo het in sy pleitooreenkoms aangevoer Dewani het hom R15 000 aangebied om Anni te vermoor. Hy is in Desember 2010 tot 18 jaar tronkstraf gevonnis.

Mziwamadoda Qwabe en Xolile Mngeni, wat Anni geskiet het, is elk in 2012 tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Dewani staan tereg op aanklag van moord, ontvoering, roof met verswarende omstandighede, sameswering om hierdie dade te pleeg en dwarsboming van die gereg.

Klik hier om die verloop van die gebeure op Maroela Media te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.