Dewani-verdediging vra ontslag

shrien-dewani

Shrien Dewani op 6 Oktober 2014 in die Wes-Kaapse hooggeregshof Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA/Pool

Die Britse sakeman Shrien Dewani se prokureurs het Maandag aangedui dat hulle van plan is om’n aansoek om ontslag by die Wes-Kaapse hooggeregshof in te dien.

Dewani staan tereg op aanklag dat hy saamgesweer het om sy vrou Anni tydens hul wittebrood in November 2010 in Kaapstad, te vermoor.

Francois van Zyl, vir Dewani, het gesê die aansoek sal by adjunkregterpresident Jeanette Traverso ingedien word kragtens artikel 174 van die Strafproseswet.

Volgens Van Zyl was dit ʼn uitgerekte saak en die verdediging het tyd benodig om sy aansoek voor te berei, aangesien daar baie feite was wat hulle moes hanteer. Die verdediging sal Woensdag sy betooghoofde indien en die staat sal Vrydag hierop reageer.

Traverso het gesê die aansoek sal Maandag aangehoor word.

Volgens artikel 174 van die Strafproseswet kan die hof, nadat die staat sy saak afgesluit het en die hof meen daar nie voldoende bewyse bestaan dat die beskuldigde die misdaad gepleeg het nie, die beskuldigde vryspreek. Die staat het Maandag sy saak afgesluit.

Dewani word daarvan beskuldig dat hy met ʼn taxibestuurder, Zola Tongo, en ander saamgesweer het om sy vrou te vermoor. Hy het onskuldig gepleit op alle aanklagte insluitend ontvoering, moord en dwarsboming van die gereg. Hy voer aan die egpaar is gekaap terwyl Tongo op 13 November 2010 met hulle deur Gugulethu gery het. Hy is ongedeerd vrygelaat, maar die vermeende kapers het met Anni weggery. Sy is die volgende oggend dood aangetref in ʼn verlate minibus in Khayelitsha. Sy is doodgeskiet.

Die staat voer aan dat hy met ander saamgesweer het om die kaping te reël en R15 000 daarvoor te betaal. Dewani hou vol dat Tongo hom gehelp het om ʼn helikopterrit te reël vir die R15 000. Dit sou glo van plan om ʼn verrassing vir Anni te wees.

Tongo dien tans 18 jaar tronkstraf uit en Mziwamadoda Qwabe is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Xolile Mngeni is lewenslange tronkstraf opgelê, maar hy het op 18 Oktober 2014 weens ʼn breingewas in die tronk gesterf.

Die staat het Maandag, net voordat hy sy saak afgesluit het, ʼn lys van feite, waaroor die staat en die verdediging saamstem, ingedien. ʼn Tydlyn en selfoonanalise en -kartering is ook by dié dokument ingesluit. Alle oproepe en teksboodskappe tussen Dewani, Tongo, Monde Mbolombo, Qwabe en Mngeni asook die presiese datum en tyd van die oproepe en boodskappe word nie bevraagteken nie. Die verslag, wat deur dr. Peter Schmitz van die Wetenskaplike- en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) saamgestel is, wys dat Dewani meer as vyf minute lank met Tongo op sy selfoon gepraat het toe hy die dag in Kaapstad geland het. Hy het daarna weer twee keer vlugtig met Tongo op sy selfoon gepraat net voor die vermeende kaping die volgende aand. Dewani het ook sewe teksboodskappe aan Tongo gestuur.

Op 16 November 2010, die dag wat Dewani na Engeland teruggekeer het, het Tongo hom geskakel, maar weer afgelui. Dewani het Tongo toe vier keer gebel, die laaste keer kort nadat hy Tongo bedank en R1 000 aan hom oorhandig het.

Tongo het tussen 14 November en 16 November in die vroeë oggendure drie oproepe van ʼn landlyn by die Cape Grace-hotel ontvang. Dit is nie duidelik wie dié oproepe gemaak het nie.

Volgens die dokument het Dewani ook ʼn eenmalige betaling van R30 000 aan die Cape Grace-hotel betaal. R15 000 van dié bedrag was vir hul rekening en R15 000 was ’n fooi vir werknemers van die hotel.

Lees alle vorige berigte oor Shrien Dewani op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.