DF Malan-skool: Stemming gehou ondanks teenkanting

‘n Betoging is vroeër die week teen die naamsverandering gehou. (Foto: Trots DF Malan/Facebook)

Daar is Vrydag vir ʼn nuwe naam vir die Hoërskool DF Malan in Bellville, Kaapstad, gestem.

Alle leerders en hul ouers, onder wie gr. 7-leerders se ouers wat reeds vir 2022 ingeskryf het, personeel en alumni kon Vrydag van 07:00 tot 21:00 vir hul voorkeurnaam stem. Slegs diegene wie se e-posadresse en selfoonnommers op die skool se rekords is, het ʼn stembrief ontvang.

“Ná afloop van die stemming sal die voorkeurnaam deur die skoolbeheerliggaam bekragtig word en voorgelê word aan die Wes-Kaapse onderwysdepartement vir finale oorweging en goedkeuring,” het André Roux, voorsitter van die beheerliggaam, gesê.

Daar is reeds in 2020 met ʼn proses begin om te herbesin oor alle aspekte van die skool se identiteit.

“Daar is wyd beraadslaag en leerders, ouers, onderwysers en alumni is uitgenooi om tydens verskeie werksessies saam te beplan aan die skool waarvan ons droom. Tydens die proses is die kernbeginsels van die skool se identiteit bevestig en die skool se simboliek, wat die naam insluit, is hersien.”

Belanghebbendes is in Augustus uitgenooi om voorstelle te maak vir ʼn nuwe naam vir die skool. Daar is 626 voorstelle ontvang wat deur ʼn subkomitee van die beheerliggaam oorweeg en verkort is.

“Ná ʼn proses van oorweging en bespreking het die skoolbeheerliggaam op 22 September besluit om twee name aan die skoolgemeenskap voor te lê om uit te kies. Die twee finale keuses is Protea Akademie en DF Akademie.”

Volgens Roux is daar tydens die proses ook ondersoek ingestel na die behoeftes van die gemeenskap en of hulle gereed is om ʼn naamverandering te verwelkom.

“Die skoolbeheerliggaam wil benadruk dat die besluit om die skool se naam te verander met omsigtigheid geneem is ná ʼn deeglike en inklusiewe proses waartydens soveel moontlik leerders, ouers, personeel en alumni betrek is.”

Hoërskool DF Malan (Foto: Facebook)

Die drukgroep Trots DF Malan, wat teen die naamverandering gekant is en vroeër die week ‘n betoging gehou het, het gesê hy sal nie aan die stemming deelneem nie. Die groep meen die voorgestelde nuwe name is deur middel van ʼn ondemokratiese proses bekom.

“Hierdie transformasieproses gaan lei tot ʼn groot aanslag teen die huidige getoetste waardes van die Hoërskool DF Malan en die uiteindelik voorspelbare uitkoms is die diskriminasie en uitsluiting van Afrikaanse en Christenkinders.”

Volgens die groep blyk dit dat ʼn klein minderheid belanghebbendes gevra het vir ʼn naamverandering. “Ons is ook van mening dat die beheerliggaam oneerlik is oor die uitkoms van die beraadslagingsproses en dit wegsteek vir lede van die publiek, terwyl die indruk van die teendeel gewek word. Die feit dat die beheerliggaam voortstoomroller, beteken ons meen dat hulle hul mag misbruik en belanghebbendes boelie.”

Die motiverings vir die twee name is:

Protea Akademie

  • Daar is ʼn sterk verbintenis met die skoolwapen.
  • Die natuur is inklusief en objektief.
  • Die protea is inspirerend, eg Suid-Afrikaans, eie aan die Wes-Kaap en ʼn duidelik herkenbare simbool.
  • Dit is ʼn blom wat veerkragtigheid teen terugslae toon deur sy vermoë om in geharde toestande te oorleef. Dit kan ʼn metafoor wees vir die skool. Ons is aangepas by ons omstandighede EN ons is aanpasbaar.
  • Die metafoor kan verder gevoer word en verwys na die skoonheid van die blom, maar dit is nie broos nie en verwelk nie sommer nie. Daar is ʼn lewenskrag daaraan verbonde.
  • ʼn Protea het vuur nodig sodat sy sade kan ontkiem. Dit is weer ʼn metafoor: vanuit loutering kom lewe.

DF Akademie

  • DF Malan en Hoërskool DF Malan het twee verskillende identiteite. Die proses van ontkoppeling tussen dit waarmee die politieke figuur, dr. DF Malan, verbind word en dit waarvoor die skool staan, het reeds van nature plaasgevind.
  • Hoërskool DF Malan se identiteit is sinoniem met akademiese uitmuntendheid en ook met respek, omgee en inklusiwiteit om ʼn volronde jongmens te ontwikkel.
  • Ons is DF of Dee-Effers. Deur verskeie jare is daar geswoeg om tradisies en ʼn etos te bewerkstellig wat weerspieël word in ʼn trotse tradisie van sukses. Dié identiteit wil ons nie verloor nie.
  • Hierdeur behou ons die welbekende handelsmerk: DF.
  • Hierdie naam bewerkstellig kontinuïteit, wat standvastigheid en sekerheid bring en vertroue wek by huidige leerders, toekomstige leerders, ouers en oudleerders van die skool.
  • Die term DF verwys dan voortaan na ʼn Latynse term, Discimus Faciendo (Ons leer deur te doen).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Harley Davidson ·

Hoekom die naam verander hoekom nie ‘n nuwe skool bou en hom ‘n naam gee ,DF Malan is geskiedenis en die stembriewe moet vir elke oud leerlinge gegee word wat daar skoolgegaan het en nog lewend is.

Tiptol ·

Jasper, hulle verander al die ou name van skole, dorpe, strate…… want hul kan dit nie self bou nie.

miavos ·

Indien DF Akademie gekies word verbind dan DF met die Latyn vir ‘ons leer deur te doen’ en maak die Latynse woorde die skool se motto.

Lesly ·

Wat is dit met SA en name? In die tye van finansiele swaar kry, is daar soveel meer betekenisvolle dinge on in te bele as naam verandering.

Jan Seerot ·

1978. DF Malan Crosby, Johannesburg. Hulle was toe bekend as Dr. DF Malan en het teen ons in Crosby kom rugby speel en ons Eerste Span ‘n goeie les geleer. Ek kon net die Vierde Span haal, maar ons het darem gewen. Ek sal natuurlik nooit vergeet nie.
Nou, na 44 jaar wil julle die trotse naam verander oor julle sterte jeuk?
DF Malan Crosby bestaan hoeka nie meer, en hoe minder ek daaroor sê, hoe beter.

Deon ·

Ek dink as hulle n skoolnaam verander dan moet alles rondom die ou naam weg gelaat word, maw, n nuwe leuse, nuwe klere, nuwe kleure, nuwe skool lied, als verbonde aan die ou skool. As julle wil verander doen dit goed en nie half half nie, daai DF akademie verwys weer terug na die ou skool….. Dit is in elk geval geld en tyd mors om skole se name te verander… Verander die naam na die voorstad waar die skool in is, en maak dan ook sommer seker dat die voorstad, of stad waarin hierdie area is, se naam na n dier of plant in SA vernoem word.

Kokkie ·

Totdat die ANC die voorstad se naam verander na Winnie Mandela……..of selfs Stompie Sepei.

JohanR ·

Waar kom hierdie nuwe tendens vandaan om net goed op jou af te druk? It’s our way or the highway manier!

Samuel ·

Hierdie naamsverandering is boos. Dit is om die Afrikaner/Afrikaanssprekende van sy identiteit te beroof. Die witmense moet niks hê wat vir hom kosbaar is nie.

piet ·

Wat’s die verskil tusse, DF…iets en die ou naam van DF Malan? Dit los nie die issue op myns insiens nie, dis steeds ‘n verwysing na DF Malan. Vreemd.

Mallie ·

Verander die naam en oor n jaar brand en plunder hulle die skool

Willem ·

En so gooi die afrikaner self sy eie erfenis en geskiedenis weg omdat hulle hul skaam vir die verlede. Ek het weliswaar nooit by df malan skoolgegaan nie maar ek sou skaamkry as ek n oud-leerling van df malan was. Gaan voort Afrikaners, gooi jul erfenis en geskiedenis weg. Moet net nie kom tjank as jul eendag boggerol oor het nie.

Samuel ·

Ek stem saam. Die Afrikaner gooi self sy naam weg en minag sy eie geskiedenis. Ons moet tog so inklusief wees. Hoe jammer. Gooi nog net julle taal ook weg. Dan sal Wim en kie gelukkig wees.

piet ·

Ek wil nie met mense ge-assosieer wees wat ‘n skande vir my volk, die land en die wereld was nie. DF Malan, een van die argitekte van Apartheid, verdien geen aansien of erkenning nie. Wat hy en sy makkers gedoen het, was ‘n skande en uit die bose.

Johan ·

Eerder wil jy geassosieer word met die skandes van die huidige regering.

Kokkie ·

En daar buig die beheerliggaam toe sover agteroor onder die druk van ‘n handjievol links-liberales dat hulle agterkoppe aan die grond raak. Dis ‘n skreiende skande dat die beheerliggaam ‘n trotse naam gaan verander wat vir so baie leerlinge oor die jare heen so baie beteken het. Maar hulle swyg in al die landstale oor die pre-primêre skool Jacob Zuma, Winnie Mandela Girls High, Stompie Sepei Brandweerskool en diesulkes. Julle is myns insiens pateties.

KB ·

Waar is die DF Malan oud-leerders se stemme? Hulle vra telkens die verkeerde mense om te stem. Tipies van Suid-Afrika.

Pietertjie ·

Naamsverandering is ‘n goeie manier om kultuur, identiteit en waardestelsels te vernietig, en daarmee saam die geskiedenis te herskryf sodat dit die huidige politieke agenda kan dien.

Pablo ·

n Skool is nou n Akademie, wonder wat n universiteit nou bekend staan. Die Akademie sal nou seker nou universiteit grade aan leerders toeken.

JJB ·

In eg eietydse Kaapse tradisie moet die naam nou verander na iets hoog Hollands soos “Der Hoochste Trapt”, dan moet die voertaal verander na Engels en intussen praat al die leerlinge eintlik Afrikaans by die huis. Hierdie resep werk net beter as mens jou beursie in gedagte hou, ‘smart’ wil lyk en uit die moeilikheid wil bly oor jou kulturele erfenis… Belaglik…

Jack ·

Naamsverandering is ‘n katarsis, ‘n proses om die (beweerde) onaangename uit die verlede uit te vee en te vervang met iets heroies of groots. Ongelukkig word die verlede en die mooie wat ook daarin gebeur het ook uitgevee en verloor ons die inligting waaruit ‘n mens kan/moet leer. Daar is darem een troos: As naamsverandering die norm word kan ons in die toekoms al die plekke wat na terroriste vernoem is weer verander.

David ·

Die drukgroep se nie stemming is eerder ‘n oorwinning vir die wat die verandering wil hê. Selfs in die politiek maak stemgeregtigdes dié fout.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.