DG betrek by ongerymdhede met staatsbegrafnisse

Winnie Madikizela-Mandela se begrafnis in April 2018. (Foto: Matthews Baloyi/ANA)

Die direkteur-generaal (DG) van die departement van openbare werke en infrastruktuur is een van die mense wat in ʼn forensiese ondersoek van PricewaterhouseCoopers (PWC) betrek word by beweerde betalingsongerymdhede en bedrieglike kontrakbestuur.

Die ondersoek hou verband met die staatsbegrafnisse van Winnie Madikizela-Mandela, die voormalige kabinetsminister dr. Zola Skweyiya en die ambassadeur en voormalige hoof van staatsprotokol Billy Modise.

Sunday Times het vroeër berig die drie staatsbegrafnisse het belastingsbetalers ʼn allemintige R76 miljoen uit die sak gejaag.

Die minister van openbare werke, Patricia de Lille, het daarna beveel dat bedrogsake aanhangig gemaak word sodat die uitgawes ondersoek kan word. Sy het glo ook voorgestel dat staatsbegrafnisse nie ʼn sekere bedrag mag oorskry nie.

Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) sê hy is diep bekommerd oor adv. Sam Vukela, DG van die departement, se vermeende betrokkenheid by die beweerde ongerymdhede.

Skoor sê hy verwag ʼn omvattende verslag van De Lille oor die inwerkingstelling van die aanbeveling dat korrektiewe stappe binne 14 dae teen Vukela gedoen moet word.

“Skoor het ook ʼn verslag van die minister aangevra oor die gesprek [met pres. Cyril Ramaphosa] oor die hersiening van prosedures vir staats- en amptelike begrafnisse om die kwesbaarheid daarvan vir bedrog en korrupsie te verminder,” het Mkhuleko Hlengwa, Skoor-voorsitter, gesê.

Die komitee wil dié verslag ook binne 14 dae op sy lessenaar sien.

Die minister van openbare werke, Patricia de Lille. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Die komitee het reeds beveel dat De Lille en Ramaphosa beraadslag oor die tugstappe teen die DG.

Hlengwa sê indien nodig sal Skoor vra dat die kwessie op kabinetsvlak bespreek word en dit gaan onder die speaker van die parlement se aandag gebring word.

“Die komitee gaan ook regsadvies van die parlementêre regsdienste inwin oor watter stappe gedoen kan word,” het hy gesê.

Madikezela-Mandela is in April 2018 ná ʼn lang siekte dood. Haar begrafnisdiens is in die Orlando-stadion in Soweto gehou. Duisende mense het dit bygewoon.

Die 75-jarige Skweyiya is ʼn paar dae ná Madikizela-Mandela in ʼn Pretoriase hospitaal dood. ʼn Begrafnisdiens is in ʼn Pretoriase kerk vir hom gehou.

Modise (87) is in Junie 2018 ná ʼn lang siekte dood. Verskeie hooggeplaastes, onder wie Ramaphosa, het sy begrafnisdiens by ʼn sportklub in Johannesburg bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nie Verbaas ·

Wat nog? Net een verleentheid na die ander. Gee die land aan mense wat dit sonder korrupsie, wanbestuur en plundering kan bestuur. Dit is die enigste manier hoe Suid Afrika gered kan word.

Spook ·

Liewe ouers!! Gemiddeld R25 000 000-00 per begrafnis! Ek ken mense wat kan jou inspit vir R15 000-00! En ek praat nie groot nie, dis feite.

koos10 ·

Al ewig tug stappe!
CR, die enigste stappe wat SA wil sien die die stappe deur die tronk hekke!!!!

Jakes ·

Meer as n 3800 mense kon begrawe word met hierdie geld teen R20000 per persoon. Die begrafnisondernemers het miljoene in hul sakke gesteek. Daar is dus groot geld om te mask uit mense wat afsterf veral as jy die regte persone ken.

Yolandie ·

Ag liewe ouers dit om van naar te word. Nou skep die mense al sous met die begrafnis van VIP’s, as mens hulle dit kan noem!!!! Geen skaamte.

Jan ·

Hierdie is maar n druppel in die emmer. Daar is tientalle sulke begrafnisse, beginnende by die ander Mandela begrafnis. Kan my nie eers voorstel wat dit gekos het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.