DG daag nie op vir parlementêre sitting

Malusi Gigaba en Mkuseli Apleni, direkteur-generaal, tydens ‘n vorige mediakonferensie in Pretoria. Foto: Jonisayi Maromo/ANA

LP’s was Dinsdag warm onder die kraag nadat Mkuseli Apleni, direkteur-generaal (DG) van binnelandse sake, nie opgedaag het by ʼn voorlegging in die parlement oor waarom die Gupta-familie vroeë naturalisasie gekry het nie.

Lemias Mashile, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het die lede ingelig dat die DG by ’n ander parlementêre komiteevergadering was. Dit het gespanne woordewisselings tot gevolg gehad.

Haniff Hoosen, DA-LP, het gesê daar moet ʼn verduideliking gegee word oor hoe daar vroeë naturalisasie aan die Guptas geskenk is. Dié verduideliking moet volgens hom van die DG, maar ook van Malusi Gigaba, voormalige minister van binnelandse sake, af kom. Gigaba moet volgens Hoosen bewys dat hy onpartydig en binne die raamwerk van die wet opgetree het.

Hlengiwe Hlophe, EFF-LP, was ontsteld deur uitsprake wat sy aan Mashile toegeskryf het waarin hy na bewering gesê het hy sal nie enige versoek van die DA dat Gigaba voor die komitee gedaag moet word toestaan nie. “Dis nie reg van jou om alles te verdedig nie,” het Hlope gesê.

Maesela Kekana, ANC-LP, het gemeen die komitee moenie vir Gigaba en Apleni verdedig nie, maar hulle versoek om voor die LP’s te verskyn. “Almal van ons hier, as lede van hierdie komitee, is nie hier om ons integriteit prys te gee nie. Ons is hier as gevolg van hierdie mense en die feit dat die DG en die minister nie hier is nie, wys totale disrespek teenoor die komitee. Ons is nie hier om enige iemand te verdedig nie,” het Kekana gesê.

“Ek stel voor ons dagvaar die huidige minister, die voormalige minister en die DG om voor die komitee te verskyn. Hulle moenie dink hulle het ʼn keuse nie – hulle moet weet hier is hulle verantwoordbaar.”

Mashile het aangevoer die rede hoekom die DG eerste voor die komitee geroep is, is om die “harde feite” rondom die Gupta-familie te verduidelik. Die minister sal daarna eers geroep word.

LP’s het later saamgestem om eers ander sake op die agenda af te handel en ʼn boodskap na Apleni te stuur om later vandag voor hulle te verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann ·

Onaantasbare Hoof Handpoppe van die Zumaikia bastion!!!!!! Doen en sê NET wat hulle wil. En verwag dat hulle aksies met dieselfde dom astrantheid aanvaar word, ontneem van logika. Weereens n bewys dat al sou Zuma onttroon word, sy kaders wyd en dik gesaai is om klaar te maak met wat hy begin het.

Koos1 ·

Wat my nogal verbaas is die ANC lede se uitsprake op die komitees.
Eers het die SABC pakslae gekry by hulle eie ANC lede en nou maak hier die ANC lede weer hulle stem dik teenoor hulle eie party. Ek dink hierdie is ‘n duidelike bewys dat Zuma nie totaal in beheer is, soos hy dink nie.

Alida ·

Tipies van hulle. Dlamini het weggekom daarmee dan hy ook mos. Daag net nie op nie. MAKLIK.

My Vraag ·

Wat is die DOEL van al hierdie versoeke/dagvaardigings/wat ook al om voor die LP’s te verskyn??? Dis tog net ‘n gepraat en ‘n gelieg en ‘n gestry oor een of ander LP reken sy inteligensie word onderskat deur soveel leuens te moet aanhoor.
Wat is die DOEL? Daar is tog geen resultaat/gevolg/verantwoordbaarheid nie.
Behalwe natuurlik dat ek soos oorle’ Johannes Kerkorrel begin sing “sit dit af, sit dit af” wanneer ek daardie spul se blinkronde wange op die Nuus sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.