DG van openbare ondernemings in die pad gesteek

Kgathatso Tlhakudi (Foto: Twitter)

Die departement van openbare ondernemings is amptelik op soek na ʼn nuwe direkteur-generaal nadat ʼn dissiplinêre ondersoek onthul het dat Kgathatso Tlhakudi wel die bepalings van sy dienskontrak oortree het.

Tlhakudi is intussen afgedank.

Tlhakudi se ontslag volg nadat pres. Cyril Ramaphosa minister Ronald Lamola aangesê het om ʼn dissiplinêre ondersoek van stapel te stuur na bewerings dat Thlakudi onder meer by die werwing van kandidate vir ʼn spesifieke pos ingemeng het.

Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Maandag bevestig dat die dissiplinêre ondersoek afgehandel is.

“ʼn Behoorlike proses is gevolg waarin al die bewerings aan mnr. Thlakudi gestel is. Die voorsitter van die dissiplinêre komitee, adv. Rathaga Ramawele SC, het al die getuienis wat aangebied is oorweeg en bevind dat mnr. Thlakudi sy kontrakbepalings oortree het.”

ʼn Ontslagbrief gedateer 2 Junie 2023 is sedertdien op Tlhakudi beteken.

Tlhakudi is reeds verlede jaar deur Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, voorlopig geskors nadat hy skuldig bevind is aan growwe wangedrag en onwettige werwing.

Ramawele het Tlhakudi nou skuldig bevind aan growwe wangedrag en onwettige werwing; die growwe wangedrag van oorskryding van sy regsgesag; en benadeling van kandidate wat vir ʼn pos gekwalifiseer het, berig City Press.

Luidens dié berig het Tlhakudi ingemeng by die werwingsproses van ʼn direkteur vir sekuriteit en fasiliteite deur na bewering die keurkomitee te beveel om ʼn onderhoud te voer met Mapitse Tladi. Thadi het egter nie vir die pos aansoek gedoen nie.

Tlhakudi het ook die bevoegdhede van die keurkomitee gebruik om aanbevelings te maak rakende die aanstelling. Tlhakudi het as direkteur-generaal aan die einde van die keuringsproses aanbeveel dat drie kandidate, onder wie Tladi, vir bevoegdheidsassessering verwys word.

Daar is ook bevind dat hy sy mag misbruik het deur Tladi vir die aanstelling in ʼn pos te bevoordeel en haar aanstelling te probeer beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Heinrich ·

Soos jy gewoontemisdadigers kry, kry jy ook gewoonte-kaders wat maar sukkel met die westerse wetgewing en nie kan verstaan nie…trotse alumni van die Zuma sakeskool.

Veritas ·

Ek ken die man, hy is ‘n gekwalifiseerde Engineer, het jare vir Atlas en SAA gewerk. Ek is nie ‘n vriend van die ANC nie, maar die man is nie ‘n kader nie. Ek het saam met hom gewerk vir jare by ‘n multinasionale maatskappy. Die ou is skerp, ek dink hy het die verkeerde vrae gevra, op tone getrap en nou is hy uitgewerk. Dis net my opinie en ek het geen bewyse nie.

Veritas ·

Hier is iets groot fout. Ek ken die man, het ‘n paar jaar saam met hom gewerk by ‘n groot, internasionale maatskappy. Hy kom van ‘n proses agtergrond, gekwalifiseerde engineer. SAA, die OU ATLAS in die ou dae, ens. Een van die skerpste mense was ek ooit al ontmoet het. Ek dink daar is baie meer agter die storie. Hy het baie te se gehad oor daai deal met SAA, ek dink hy het op tone getrap en is nou uitgewerk. Ek het geen bewyse nie. maar krap bietjie rond.

Philip ·

Baie mense het saam die presedent ook gewerk, ook gedink hy is skep. Maar hy gebruik sy sitkamerbank as n geldbank. Krap en jy gaan skrik

Sê maar net ·

En steeds is dit ten einde niet. So, so moeg vir hierdie korrupte regering, Abba Vader.

Sarel ·

” Onreekmatige Werwing ”
Maar onregmatige vermorsing en diefstal van fondse
Word onder die mat ingevee..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.