Diabeet ná 45 dae eindelik van ventilator

Sampie Verster (Foto: Verskaf)

Die familie van Sampie Verster (74) het ’n sug van verligting geslaak toe sy vroeër vandeesmaand ná 45 dae eindelik van ’n ventilator gehaal is nadat sy in Julie met Covid-19 én dubbele longontsteking in ’n Pretoriase hospitaal opgeneem is.

“Dit is wonderlik om weer haar stem te hoor,” vertel Natasja Theron, Sampie se dogter, Sondag aan Maroela Media.

Verster, wat op ’n kleinhoewe in die omgewing van Hammanskraal noord van Pretoria woon, het sowat twee maande gelede siek geword waarna sy op 21 Julie in die Eugène Marais-hospitaal opgeneem is.

Hiér het Verster positief getoets vir die koronavirus en daar is vasgestel dat sy ook dubbele longontsteking opgedoen het. Om sake te vererger is Verster boonop ’n diabeet.

Verster se toestand het met verloop van tyd al meer versleg waarna sy op 29 Julie aan ’n ventilator gekoppel is. Haar familie is kort voordat sy aan die ventilator gekoppel die kans gegun om met haar in ’n video-oproep te gesels.

Sampie Verster (Foto: Verskaf)

Nooit sou Theron kon dink dat sy eers weer ’n maand en ’n half later haar ma se stem sou hoor nie. Die familie kon sowat twee weke gelede weens regulasies een keer met vergunning vir Verster in die hospitaal gaan kuier het.

“Dit was verskriklik. Ek was so bang elke keer wanneer die foon gelui het.”

Theron vertel dat haar ma se toestand weke lank onveranderd gebly het. Sy het in die 45 dae twee bloedoortappings en ’n voedingsbuis ontvang.

Die draaipunt het egter net meer as ’n week gelede gekom waarna Verster op 11 September eindelik van die ventilator gehaal is. “Sy was aanvanklik baie deurmekaar nadat sy van die ventilator gehaal is, maar sy is nou baie beter.”

Dit is nie in dié stadium duidelik wanneer Verster uit die hospitaal ontslaan sal kan word nie, maar daar word verwag dat dit nie gou gaan wees nie. Sy sal ook ná die hospitaal vir ’n ruk lank in ’n rehabilitasiesentrum moet aansterk.

“Daar lê nog ’n lank pad voor, maar ons stap dit saam met haar. Ek kan nie wag vir die dag wanneer sy ontslaan word nie. Ek, my sussie, ons mans en die drie kleinkinders sal almal daar wees. Sy is nie net [my en my sussie] se ma nie. Sy is ook ’n ma vir die skoonseuns en vir die kleinkinders. Ons mis almal ons geselsies met haar.

Sampie by haar dogter Natasja, kleindogter en kleindogter. (Foto: Verskaf)

“Ek is die Here ewig dankbaar. Ons het elke dag lewe oor haar lewe gespreek. Alle eer aan die Here.”

Op die vraag oor hoe Covid-19 die familie se lewe verander het, antwoord Theron: “Ek dink nie mense besef die realiteit daarvan nie. Jy dink nie dit kan jou familie oorkom nie totdat dit aan jou deur kom klop. Dit is erg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Dan is daar nog mense tussen ons wat nie wil hê dat ander, vaksines teen hierdie verskriklike lyding mag gebruik nie. Vra enige iemand wat deur die hel van Covid-19 is of hulle ‘n vaksine sou geweier het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.