Diabetes: Kyk uit vir dié gevaartekens

Foto: Pixabay, Tesa Photography

Volgens navorsing van die Johannesburgse sentrum vir diabetes en endokrinologie ly meer as 14 miljoen mense in Afrika aan diabetes – ʼn chroniese siekte wat op 14 November gedurende Wêrelddiabetesdag onder die loep kom.

Verdere navorsing van dié organisasie wys dat sowat 78% van mense wat aan diabetes ly nié in hul leeftyd met die chroniese siekte gediagnoseer word nie.

Wêrelddiabetesdag word juis daarom in November gehou om bewusmaking oor die gevare en simptome van die toestand te bewerkstellig.

Diabetes is ʼn chroniese siekte wat ontstaan wanneer die pankreas nie genoeg insulien produseer nie. Dit kom ook voor wanneer die liggaam sy vermoë verloor om insulien wat deur die liggaam geproduseer word, vir die regte doeleindes aan te wend.

Volgens die Internasionale Diabetes-stigting (International Diabetes Foundation, IDF) kom drie tipes diabetes algemeen voor: Tipe 1-diabetes ontstaan tydens ʼn persoon se baba- of kinderjare, tipe 2-diabetes ontwikkel later weens die liggaam se tekort aan insulien of die onvermoë om insulien te benut, en swangerskapsdiabetes verwys na bloedglukosevlakke wat verhoog tydens ʼn swangerskap. Van dié gevalle is tipe 2-diabetes die algemeenste.

Diabetes, veral tipe 1-diabetes, word normaalweg behandel deur insulien-inspuitings. Gereelde oefening en lewenstyl- en dieetaanpassings word ook deur dokters voorgeskryf.

Jou risiko’s om diabetes te kry word verhoog deur vetsug en ʼn ongesonde dieet sonder enige gereelde oefening. ʼn Familiegeskiedenis en insulienweerstandigheid verhoog ook jou kanse om met dié toestand gediagnoseer te word.

Navorsingsuitslae van die IDF toon dat die grootste toename in die voorkoms van diabetes oor die volgende paar jaar in Afrika verwag word. Boonop sal die getal mense wat aan diabetes ly teen 2030 verdubbel.

Ineke van Huyssteen, ʼn ER24-woordvoerder, sê enigeen wat die simptome van diabetes ervaar, moet so gou moontlik ʼn mediese kenner gaan spreek.

“Hoe vroeër diabetes gediagnoseer en behandel word, hoe beter is dit vir die persoon se gesondheid. Lyers van diabetes wat nié gediagnoseer word nie, staan die kans om ernstige siektetoestande te ontwikkel soos hartsiektes, beroertes, blindheid en nierversaking. In die meeste gevalle kan dit vermy word deur vroeë diagnose en behoorlike behandeling,” sê Van Huyssteen.

Dít is die simptome van diabetes:

  • Oormatige dors
  • Oormatige urinering
  • Onverklaarbare gewigsverlies of -toename
  • Uiterste moegheid, tamheid en uitputting
  • Onduidelike visie
  • Konstante geïrriteerdheid
  • Onverklaarbare hongerpyne of ʼn verhoogde aptyt
  • ʼn Gevoelloosheid of tinteling in jou hande of voete
  • ʼn Gebrek aan konsentrasie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.