Diamantdelwer-moordsaak: Sonnenberg op borgtog vrygelaat, begin van verhoor bekend

Argieffoto

Argieffoto

Johan Sonnenberg, ʼn 57-jarige diamantdelwer van die Hertzogville-omgewing in die Vrystaat wat verdink word van die moord op drie jong mans, is op borgtog van R100 000 vrygelaat.

Sonnenberg is in hegtenis geneem nadat drie liggame in Maart op sy wildsplaas, Diamant, gekry is. Die polisie vermoed dat dit die liggame van Michael Grant (20), sy broer Jerome Desmond (28) en hul vriend Riaan Ruiters (23) is wat op 15 Februarie in Christiana in Noordwes as vermis aangemeld is. Die polisie wag egter nog op uitslae van DNS-toetse om dit te bevestig.

Sers. Ian Gaobepe, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê Sonnenberg het Dinsdag weer in die Hertzogville-landdroshof verskyn om vir borgtog aansoek te doen nadat hy met sy vorige borgtogaansoek op 26 Maart in die aanhoudingselle ineengestort het.

“Hy is op borgtog vrygelaat op voorwaarde dat hy nie met die getuies of hofverrigtinge inmeng nie,” het Gaobepe gesê. Van die omstandighede wat tot sy borgtog gelei het, was sy gesondheid en omdat hy na die diere op sy wildsplaas moet omsien. “Volgens sy regsverteenwoordiger het hy hartprobleme en het hy ʼn pasaangeër, asook swaksinnigheid.”

Gaobepe het bygevoeg dat die ondersoekbeampte tydens hofverrigtinge getuig het dat die liggame wat op sy plaas ontdek is moontlik dié van die vermiste mans is. Een van die mans is aan sy vingerafdrukke uitgeken en een aan sy kleredrag.

Sonnenberg se moordverhoor begin op 12 Mei in dieselfde hof.

Maroela Media het vroeër berig Sonnenberg is op 10 Maart in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn hand uit ʼn vlak graf op sy plaas sien steek het. Die polisie se ondersoek na die vermiste mans het hulle na hom gelei aangesien hy glo een van die laaste mense was wat saam met hulle gesien is.

Die polisie het ook op ’n ongelisensieerde AK47-aanvalsgeweer en ammunisie in sy plaashuis beslag gelê. Sonnenberg en sy vrou, Elena, word gevolglik aangekla vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Elena is op 26 Maart weens dié aanklagte by die hof in hegtenis geneem en is op dieselfde dag op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Die polisie het ná die ontdekking van die eerste liggaam lasbriewe bekom om weer op Sonnenberg se plaas ondersoek in te stel, waarna die ander twee liggame gevind is.

Lees die vorige berigte oor Sonnenberg se saak op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

scalla ·

Hoe kom hul by die borgtog bedrag uit, die tydsverloop, ens, Die persoon het ten minste n vaste adres . Wat word alles in ag geneem deur die landdros/regter en word dit in alle gevalle konsekwent toe gepas ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.