Diamantdelwer-moordsaak: Sonnenberg stort ineen in aanhoudingselle

Argieffoto.

Argieffoto.

Johan Sonnenberg, ʼn 57-jarige diamantdelwer van die Hertzogville-omgewing in die Vrystaat, se borgtogaansoek is Donderdag uitgestel nadat hy glo voor die begin van die hofverrigtinge in die aanhoudingselle ineengestort het.

Sonnenberg sou in die Hertzogville-landdroshof verskyn waar hy tereg staan op drie aanklagte van moord nadat drie liggame op sy wildsplaas, Diamant, gekry is. Hy word ook aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Lt.kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig Sonnenberg is na ʼn hospitaal op Hoopstad geneem vir behandeling. Intussen is Sonnenberg se vrou, Elena, Donderdagoggend by die hof in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Sy het dadelik in die hof verskyn en is op R5 000 borgtog vrygelaat.

Mbambo kon nie dadelik aan Maroela Media meer inligting oor Sonnenberg se toestand verskaf nie.

Die saak is voorlopig tot 31 Maart uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Sonnenberg is op 10 Maart in hegtenis geneem nadat die polisie ʼn hand uit ʼn vlak graf op sy plaas sien steek het. Die polisie ondersoek die verdwyning van drie mans, tussen 19 en 25 jaar oud, op 15 Februarie in Christiana. Hulle is Michael Grant, Jerome Desmond Grant en Riaan Ruiters. Die polisie het Sonnenberg ondervra in verband met hul verdwyning, aangesien hy glo een van die laaste mense was wat saam met hulle gesien is.

ʼn Beampte het glo die hand, wat vermoedelik van een van die vermiste mans is, uit ʼn vlak graf sien steek tydens ondervraging. Die polisie het ook op ’n ongelisensieerde AK47-aanvalsgeweer en ammunisie in sy plaashuis beslag gelê.

Mbambo het verlede week aan Maroela Media gesê die polisie het ná die ontdekking van die eerste liggaam lasbriewe bekom om weer op Sonnenberg se plaas sowel as ʼn naburige plaas ondersoek in te stel.

Lede van verskeie polisiekantore en die polisie se honde- en duikeenheid is verlede Woensdag na die twee plase gestuur. ʼn Slegte reuk het polisielede na ʼn gebied gelei waar hulle begin grawe het en op ʼn kopbeen en ʼn hand afgekom het. Forensiese ontleders is na die toneel ontbied om die opgrawing te doen.

Volgens Mbambo is die opgrawing Donderdag gedoen en twee lyke is gevind. Sy het gesê daar is tydens die opgrawing klere gevind wat ooreenstem met die beskrywing wat die polisie ontvang het rakende die vermiste mans.

Mbambo het gesê forensiese toetse word gedoen om te bepaal of die lyke dié van die vermiste mans is en hoe hulle vermoor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Neptunus ·

Dis opvallend hoe baie voorheen tawwe of opgeruimde manne deesdae lam in die knieë raak sodra die water warm word. Nie net Selebi, Agliotti, Shaik of Krejmir nie, maar ook gewone sterflinge soos hierdie omie se gesondheid word erg aangetas daar!

AS ·

Dalk moes hulle bysit van die ‘omie’ se gesondheids verlede sodat oningeligte mense op korrekte berigting kan kommentaar lewer ;) Ek dink die personeel by aanhoudingselle kon tot die man se dood gely het!!

CHRISTA ·

Dink julle hy gaan dieselfde toegewing as Shaik ontvang as gevolg van sy gesondheid of gaan hy die toets dop omdat hy nie Zuma se tjommie is nie of omdat hy wit is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.