Dié 12 wil gholfrekord opstel

Die 12 gholfspelers wat die rekord vir opstel. (Foto: Verskaf)

Uithouvermoë gaan oor twee weke ʼn heel nuwe betekenis kry wanneer 12 gholfspelers van Nelspruit, Mpumalanga, probeer om altesaam 1 000 putjies in 12 uur te speel.

Die spelers hoop om dié uitdaging te voltooi sodat hulle ʼn nuwe wêreldrekord vir die meeste putjies kan losslaan. Hierdie soort poging is nog nooit deur iemand aangewend nie en sal dus die eerste van sy soort wees.

Kelvin Fincham, organiseerder van die geleentheid, sê die Grace Family Fellowship-kerk sal op 16 Maart gasheer speel vir die geleentheid.

Die plaaslike gholfspelers sal om 06:00 by die Mbombela-gholfklub aantree en het dan tot 18:00 om elk 84 putjies te speel. Saam sal hulle meer as 1 000 putjies gespeel het.

“Die spelers sal gelyktydig speel en twee-twee by elke putjie wees. Die gholfbaan het 18 putjies, daarom sal die pare elk met drie putjies geskei word,” sê Fincham.

“Onafhanklike skeidsregters sal elke speler se putjies wat gespeel word, tel, waarna die finale telling deur Stabilis-rekenmeesters bestuur word. Stabilis sal die hoogste telling bereken, asook die totale putjies wat gespeel is.”

Dié poging is nie ʼn amptelike Guinness World Record-poging nie.

Die uitdaging is wel só gestruktureer dat dit meetbaar is en dus deur ander organisasies of gholfklubs aangepak kan word. Só kan die hele Suid-Afrika met mekaar meeding om elke keer al hoe meer putjies te speel.

Volgens Fincham is hierdie dag egter nie net vir die opwindende uitdaging en vermaak nie, maar ook ʼn geleentheid om broodnodige geld vir drie organisasies sonder winsbejag in te samel.

“Die kerk wou die hele idee van die gholfdag herskep en hoewel ʼn gewone gholfdag steeds die dag daarna sal plaasvind, is dít die geleentheid vir mense om finansiële ondersteuning aan organisasies te verleen sodat hulle kan voortgaan met hul goeie werk.”

Die drie organisasies wat hierby sal baat vind, is die kerk en beradingsdiens Grace Family Fellowship, asook Grace Baby Haven en Ministry on Wheels. Grace Baby Haven is ʼn weeshuis in Nelspruit wat na babas omsien wat wees gelaat is. Dié babas word eindelik óf aangeneem óf na pleegouers gestuur. Ministry on Wheels is afhanklik van kosborge en slaag daarin om daagliks tussen 300 en 400 mense te voed.

Fincham sê hulle is nog op soek na mense of organisasies om elk van die spelers wat die wêreldrekord aandurf, te borg en saam die dag te geniet.

“As jy nie ʼn speler borg nie, is daar ook ander maniere om geld te skenk deur onder meer putjies vir die volgende dag se gholfdag te ‘koop’,” sê hy.

“Al kan mense nie finansieel betrokke raak nie, moedig ons elkeen aan om nietemin te kom en al die spelers toe te juig terwyl hulle probeer om die 1 000-putjiemerk te haal.”

Fincham en die spelers het nie tans enige ander wêreldrekordpogings in hul visier nie, maar skakel nie die moontlikheid van toekomstige uitdagings uit nie.

“Wie weet, dalk hou ons nie net by 1 000 putjies op nie,” sê hy.

  • Vind hier uit hoe jy by die geleentheid betrokke kan raak.

Ontmoet die spelers:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.