Die ANC se Zuma-hoofpyn

Jacob Zuma (Foto: Nic Bothma, Pool via AP)

Die ANC sit met ʼn groter wordende hoofpyn in KwaZulu-Natal: ʼn Jacob Zuma wat terugveg.

Zuma kan moeilikheid van onseker dog gevaarlike omvang vir die ANC in sy tuisprovinsie beteken, waar hy sedert verlede Vrydag in die Durbanse hooggeregshof tereg staan op 16 korrupsieverwante aanklagte.

Duisende van sy ondersteuners (5 000 as jy die polisie se syfers glo, minder as 2 000 volgens gesoute joernaliste op die toneel) het by die hof opgedaag om die horlosie so 11 jaar te probeer terugdraai na twee geleenthede toe Zuma die klaarblyklike teenspoed van ʼn hofverskyning omgesit het in populistiese opsweepsessies – met die vorige korrupsie- en die verkragtingsklagte teen hom.

Op daardie manier het hy destyds soos Lasarus uit die politieke dood opgestaan nadat oudpres. Thabo Mbeki hom in 2005 as adjunkpresident afgedank het.

Soos destyds het hy verlede week alle aanduidings gegee dat hy ʼn mengsel van Zoeloe-nasionalisme en beweerde slagofferskap sou gebruik om die openbare sentiment in sy guns te probeer swaai.

Daar is twee aspekte wat dit vir hom moeiliker sal maak, en twee aspekte wat dit vir hom makliker sal maak om hierdie keer sukses te behaal met so ʼn poging.

Die twee aspekte waar Zuma nou swakker staan as met die verkragtingsaak en die vorige korrupsiesaak, is dat die SAKP en Cosatu hom nie weer steun nie en dat sy ouderdom en die tydsgees in die land dit baie moeiliker gaan maak om skenkings in sy guns te kry.

Voormalige pres. Jacob Zuma in die beskuldigdebank van die hooggeregshof in Durban (6 April 2018). Foto: ANA

Dit gaan dus baie moeiliker wees om opsweepbare skares aan sy kant te kry: Omdat die politieke gety teen hom gedraai het met al die bevindings wat reeds teen hom bestaan, en boonop omdat Cosatu en in ʼn mindere mate die SAKP se vermoë om skares byeen te kry, nie hierdie keer tot sy beskikking is nie.

Dit kos geld om busse te huur en kos te voorsien sodat mense bereid sal wees om aan nagwake in die nogal gevaarlike Albert Park naby die hof in die Durbanse middestad deel te neem. Daarvoor het jy beleggers nodig. Maar waar Zuma se politieke son met die twee vorige hofsake potensieel genoeg kon styg (en dit ook gedoen het) om ʼn borgskap en dus ʼn belegging te regverdig, is sy politieke son nou aan die sak, as dit nie reeds ondergegaan het nie.

Min sakelui sal nou die kans vat om in sy toekoms te belê.

Daar is egter ook twee aspekte wat in Zuma se guns tel. Eerstens is daar sterker wordende aanduidings dat Zoeloe-kiesers in KwaZulu-Natal algaande uitgesluit voel uit die Cyril Ramaphosa-geleide ANC.

Daar is vir die eerste keer sedert 1991 nie ʼn enkele ANC-lid uit KwaZulu-Natal in die party se top-ses nie, wat sedert Desember ʼn vreeslike geween en gekners van politieke tande in die Tuinprovinsie ontketen het.

Dit het verlede week neerslag gevind in twee plattelandse en een meer stedelike tussenverkiesing in KwaZulu-Natalse munisipaliteite. Naby Scottburgh aan die provinsie se Suidkus het die ANC 13% steun verloor en in Jozini aan die Noordkus het die party ʼn wyk aan die IVP afgestaan. In ʼn meer stedelike wyk (Camperdown tussen Durban en Pietermaritzburg) was die afname in ANC-steun slegs 2%.

Daar is ook toenemende gerugte van opsweping van landelike inwoners van KwaZulu-Natal aan Zuma se kant. Daar is groot dele van die provinsie waar die media se kolligte dikwels nie kom nie, en waar sentiment waarnemers dus maklik kan verras.

Tweedens is daar baie mense in die ANC wat met kommer sal toekyk hoe korrupsieklagte teen groot figure soos Zuma ingedien, en korrupsie-ondersoeke teen bekendes soos die party se sekretaris-generaal, Ace Magashule, van stapel gestuur word.

Die ANC het al self by monde van sy huidige nasionale voorsitter (en minister van minerale hulpbronne), Gwede Mantashe, toegegee dat omkopery en ander wangedrag tot op takvlak ingesuur het. Dit beteken daar is die potensiaal vir Zuma om simpatiseerders in sy party raak te loop wat bekommerd sal wees teen wie die teenkorrupsieswaard volgende opgeneem word.

Die terugvegpoging van Zuma gaan gewis kwaai eise aan die ANC stel, met potensieel groot gevolge vir aanstaande jaar se algemene verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper Labuschagne ·

Alhoewel Cyril Ramaphosa in Desember as president van die ANC verkies is vanweë letterlik honderde miljoene wat deur groot besighede in SA geskenk is om ANC afgevaardigdes mee om te koop, beteken dit nie dat daardie selfde afgevaardigdes vir CR sal steun nie. Inteendeel is CR besig om die geveerde nessies van die Premiersliga oop te krap en dit sal nie goed afgaan nie, veral nie omdat twee van die grootste luitenante in Zuma se Premiersliga nou baie na aan Cyril in die kabinet en ANC ampsdraers sit.

Dan is daar ook die etniese verskynsel dat die onvoorspelbare gebeur het – die Zoeloe nasie word nou in Suid Afrika deur ‘n etniese Venda gelei. Sulke dinge gaan histories glad nie in SA goed af nie. Na bewering was dit slegs die pleidooie en ingrype van die Zoeloe koning wat Zuma verhoed het om ‘n noodtoestand en effektief ‘n staatsgreep in Desember aan te kondig wat hom in ‘n magsposisie sou gehou het. En kyk net waar sit die Zoeloes nou, ‘n vergete meerderheid in ‘n onbelangrike provinsie met ‘n Venda as hul staatspresident.

En dit, liewe leser, is ‘n kruitvat waarop ons sit en is juis gevaarliker omdat daar ‘n hele paar politieke agente met ernstige griewe rondloop wat boonop sakke vol vuurhoutjies het om die lont mee aan te steek.

Omdat verskeie partye ‘n geweldige persoonlike baat sal vind by Ramaphosa se val, is so ‘n gebeurtenis ‘n wesentlike waarskynlikheid.

LB S ·

Baie goeie en interessante kommentaar wat sin maak, dankie.
Mag die Hemele ons behoed, maar eers, dink ek, dit sal swart teen swart wees.

HP ·

Laat my wonder hoe is dit moontlik dat aksies buite die hof regspleeging kan beinvloed. Is daar nie fout erens?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.