Die ATKV kry nuwe besturende direkteur

Foto: Verskaf

Deidre Le Hanie . Foto: Verskaf

Die ATKV het bekend gemaak Deidre Le Hanie is aangestel as sy nuwe besturende direkteur van 1 Junie 2017 af. Sy sluit reeds op 1 April 2017 by die maatskappy aan.

Sy volg Japie Gouws, wat aan die einde van Mei 2017 die tuig neerlê, op.

Le Hanie was sedert 1998 verbonde aan Bytes Managed Solutions, deel van die Altron-groep. Sy was tot Desember 2004 die finansiële direkteur van die maatskappy en van Januarie 2005 tot Februarie 2016 die besturende direkteur.

Bytes Managed Solutions verskaf inligtingstegnologie-oplossings en dienste aan hoofstroomkleinhandelaars, banke, brandstofmaatskappye en die gasvryheidsbedryf in Suid-Afrika en Afrika. Le Hanie het ʼn belangrike rol gespeel in die vestiging en groei van die maatskappy tot ʼn instelling met ʼn omset van R1,5 miljard en ʼn personeelkorps van meer as 1 300.

Sy het verskeie toekennings ontvang en was die eerste vrou wat as finansiële direkteur en besturende direkteur in die Altron-groep gedien het. Le Hanie was betrokke by die suksesvolle regruk van drie maatskappye gedurende haar termyn as besturende direkteur.

Le Hanie skryf haar sukses by Bytes Managed Solutions toe aan onder meer die toewyding en die belegging in die personeelontwikkeling, asook die implementering van meganismes om vernuwing aan te moedig en uitnemendheid te beloon.

Sy het die ATKV se rol in Suid-Afrika beklemtoon en gesê sy sien baie uit daarna om by te dra tot die suksesse en die rol van die ATKV in die toekoms. Sy het vind diep aanklank met die visie van die ATKV en is opreg dankbaar vir die geleentheid om deel van hierdie besonderse omgewing te wees. Sy het geen twyfel dat dit haar lewe gaan verryk nie.

Anton Redelinghuis, voorsitter van die ATKV-direksie, het Le Hanie gelukgewens met haar aanstelling en haar sterkte toegewens in haar nuwe posisie by die ATKV.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

ABC ·

Dis goed en wel maar sal sy omsien na die Afrikaanse kultuur en dít bevorder dis mos waarvoor die ATKV staan. Kan sy Afrikaans praat.

Koggelmander ·

Jong, het haar aanstelling nie meer te doen met syfers as met die “visie van die ATKV” nie? Die artikel, asook die ATKV s’n waaruit hierdie een gespoeg en geplak is, laat dit juis klink asof sy vir haar sakevernuf aangestel is eerder as vir spesifieke bydrae tot die taal of kultuur. Of sy ‘n passie vir Afrikaans asook die Afrikaners het kan ek nie vir tereg vir jou sê nie, ‘n mens neem maar so aan.

Johann ·

Mooi advertensie vir haar vorige werksplek! En presies hoe en met wie se geld bekostig doe ATKV sulke “hoë vlak” verwysings? Regruk spesialis?

Klaas ·

Nou wat op aarde sou die rede wees waarom hierdie vrou se Afrikanerskap betwyfel word?

jaco ·

Meeste kleurlinge praat ook Afrikaans en is christene. So watse regstellende aksie is dít dat n wit persoon die pos kry?

JC ·

Korrek jaco, ons is die Afrikaanses, ‘n gemeenskap van broers en susters gebaseer op ons gedeelde taal en gedeelde geskiedenis, en blerrie trots daarop hoor!!Maar wat het die berugte RA nou op aarde met hierdie artikel te doen? Sommige bruin Afrikaanses is in hoe vlak poste in Afrikaanse kultuurorganisasies heel natuurlik en reg, en word vereer vir hul bydraes tot Afrikaans, en sommige Afrikaners is in soortgelyke poste wat ook natuurlik en reg is ens. Derhalwe; moet die gewraakte kwessie dan werklik opgebring word; indien in ag geneem word dat daar nou uiteindelik besef is; nadat Genl Hertzog dit reeds in die vroee 20ste eeu benadruk het; dat ons eintlik een nasie en kultuurgroep is. (en UITEINDELIK nou saamgesnoer word deur die gepoogde onderdrukking van ons taal en kultuur) Daar is bv. Akademia wat ‘n universiteit is vir ALLE Afrikaanses wat die instelling moet nader aangesien die staatsuniversiteite nie meer onderrig (behalwe vir 2 uitsonderings) in Afrikaans gee nie. Almal van ons Afrikaanses, Afrikaners en bruinmense, is BITTER lief vir ons gesamentlike taalskat.

Benita ·

Sy is ‘n puik keuse en voorwaar erg vir Afrikaans. Ek werk al 14 Jaar vir die Bytes Groep. Ek kan getuig dat sy beslis ‘n GROOT verskil in ATKV en ook vir elke Suid-Afrikaner gaan maak… Baie geluk Deidre ons is trots op jou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.