Dié bagasie nie meer op OR Tambo toegelaat

(Foto: Argieffoto)

(Foto: Argieffoto)

Nuwe bagasiereëls wat strook met die bagasieriglyne van die Internasionale Lugvervoervereniging word sedert Maandag op die OR Tambo Internasionale Lughawe toegepas.

Luidens ʼn mediaverklaring deur die lughawe veroorsaak sakke en tasse met lang bandjies of wat geen plat oppervlaktes het nie blokkasies in die bagasiehanteringstelsel. Die lughawe glo die implementering van dié nuwe reëls, wat bagasie van onreëlmatige vorms en groottes verbied, sal help om hierdie blokkasies te voorkom.

“Dié blokkasies kan afdelings van die bagasiehanteringstelsel laat stilstaan, wat daartoe lei dat bagasielewering na en van vliegtuie vertraag word en sodoende word passasiers en lugrederye verontrief,” lui die verklaring.

Die lughawe se bestuur oorweeg reeds sedert vroeg verlede jaar die nuwe reëls en daar is ná uitgebreide konsultasies met die lugdiensoperateurskomitee en ander liggame wat die lugdienste verteenwoordig ooreengekom om bagasievoorwaardes te aanvaar wat soortgelyk is aan dié wat op ander internasionale lughawens toegepas word.

“Ons besef dat hierdie nuwe bagasiereëls moontlik ongerief en addisionele uitgawes vir sommige passasiers tot gevolg kan hê. Daarom is dit nie ʼn stap wat ons ligtelik geneem het nie,” het Kris Reddy, assistentbestuurder vir operasionele dienste van die lughawe, gesê.

“ʼn Klein hoeveelheid sakke en tasse van onreëlmatige vorms en groottes wat stilstande in die bagasiehanteringstelsel veroorsaak, skep baie groter ongerief vir die meerderheid passasiers. Ons het die saak vir langer as ʼn jaar oorweeg en verskeie moontlikhede ondersoek.

“Dit is ons mening, en lugdienste en ander belanghebbendes is dit ook eens, dat die verandering van reëls oor onreëlmatige bagasie die algehele vlak van diens aan alle passasiers sal verbeter,” het Reddy bygevoeg.

Terminaal 1 van die Dubai Internasionale Lughawe het onlangs dieselfde soort bagasiereëls begin toepas.

Die nuwe bagasiereëls is soos volg:

– Slegs bagasie met reëlmatige vorms sal by inboektoonbanke toegelaat word. Dit beteken dat sakke of tasse ten minste een plat oppervlakte moet hê om aanvaar te word deur die inboekstelsel.

– Ronde of onreëlmatige bagasie en sakke of tasse met lang bande sal nie toegelaat word deur die inboekstelsel nie.

Passasiers wat bagasie wil inboek wat nié aan die reëls voldoen nie, sal die opsie gebied word om hul bagasie te laat toedraai met een plat kant by die lughawe se goedgekeurde bagasietoedraaistasies.

(Foto: Acsa)

(Foto: Acsa)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Mike ·

Is dit ook vir dra bagasies wat mens saamdra in vliegtuig? of net vir bagasies waar mens dit weeg en incheck?

Sandy ·

Mike ek dink dit is net vir tasse wat agter in die bagasieruim gesit gaan word. Die wat jy ingee vir weeg by die toonbank.

marous ·

Een plat kant ? Die bagasie word gegooi en die vervoerbande is skuins ! Kyk nou mooi wie van die beeee word aangestel om groot vierkantige tasse te verkoop reg by die inboek toonbank !

Retha ·

Ag jis.. dan moet hulle ophou mens se goed so te beskadig ek travel met die pep sakke reeds oor al my tasse al vlenters is agv airports .. en tasse is nie goedkoop nie ne

JohanL ·

Hoop hierdie nuwe riglyne word goed versprei deur reisagentskappe en ook op die webwerwe van instansies waardeur besprekings gedoen kan word. En natuurlik ook by lughawe self.

Dink net jy staan vir halfuur in tou om in te boek – net om weggestuur te word na die mense wat tasse toedraai. gaan jy weer in tou moet staan? Gan jy dalk jou plek op vlug verloor?

lvh ·

Dit is net makliker om in ‘n plat tas te krap. In n tas sonder ‘n plat oppervlak, sal hulle moet soek om iets te kry

tasse-behep ·

nou wonder ek as ek n GROOT rugsak het wat gemaak is vir toer bv backpackers sak. gaan dit aanvaarbaar wees?

Dieter ·

Bind die rugsak op ‘n stuk laaghout vas met tou.
Daar het hulle hul plat kant.

Bella ·

Moet n mens n lisensie he om goed by die lughawe te verkoop? Ek sien n besigheids Oppertunity :) :)
IVH….mal oor jou kommentaar hehehehe

Willem Grobler ·

Genade! Wat wil hulle nóg reguleer? Hoekom ontwerp hulle nie stelsels wat enige vorm van bagasie kan akommodeer nie?

Lee van Randburg ·

Karin, bagasie wat jy self dra, gaan nie op n vervoerband.

Amber ·

Dieter, jy maak my dag. Dra net eenvoudig n plank met jou saam. As jou tas nie voldoen aan die regulasies nie, ‘strap’ net die plank vas aan enige kant van jou tas met n rek, en siedaar daar gaan jy!

Sheryah ·

Daai foto maak nie sin nie, want die pep sakke het wel ‘n plat kant (alhoewel dalk nie hard nie) so ook die blou sak onder. Lyk soos ‘n k-way sak. Ek het een van hulle (by outdoor warehouse gekoop) en dit het ‘n harde onderkant waar die trekstang in en uit skuif. (Beslis vd gemaklikste bagasie om te gebruik)

Oud Possie ·

Dis ‘n goeie ding.
Ek het ‘n paar jaar in die possorteer afdeling gewerk. Dis ongelukkig so dat daar standaarde op groottes en vorms moet wees. In die Poskantoor het die briewe wat Reader’s Digest vroeër jare uitgestuur het met die sleutels en ander harde items in, die meeste oponthoude in die stelsels veroorsaak. Hulle pos was minder as 1% van die bruto maar hulle het omtrent 80% van van die probleme veroorsaak.

Andrew ·

En wie gaan vir die “mense” leer presies wat beteken die reëls?

Deloris ·

Die reels geld vir alle bagasie wat aan boord gaan. Hou by n tas of tasssie dan het jy geen probleme nie.

Koos ·

Werkskepping vir die ouens wat bagasie toedraai. Dit was mos ACSA wat hulle aangestel het en in die begin betaal het. Toe moet die passasiers betaal vir die diens, en daar daal hulle inkomste.

ek sê maar ·

Jis maar mense kan kerm en kla oor absoluut ALLES. Kry tog net ‘n tas en klaar liewe hemel… Die rugsak tipe moet julle maar met ACSA uitklaar, maar ek verstaan heeltemal hoekom hierdie stap geneem word.

Anti tas ·

Ja, n tas weeg tot 4 kilogram. Die plank plan klink beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.