Dié bank SA se nommer een in klagteskikkings

Argieffoto

Standard Bank is as vanjaar se beste bank aangewys wat die oplos van geskille en klagtes wat by die ombudsman vir bankdienste gelê is, betref.

Dit sluit die bank se vermoë in om binne ʼn sekere tyd ʼn klagte na te gaan, eerlike terugvoer aan verbruikers te gee en die gehalte van die geskrewe terugvoer aan die ombudsman rakende ʼn klagte.

Dié bank het in kategorie A, wat ook Absa, FNB, Nedbank en Capitec insluit, met die louere weggestap, terwyl African Bank in kategorie B die prys ontvang het.

Reana Steyn, die ombudsman vir bankdienste, het verlede week by ʼn geleentheid in Johannesburg die toekennings oorhandig. “Ons stel sekere standaarde vir die banke wat ons waardes weerspieël. Dit help ons ook om ons beloftes om gratis, regverdige en spoedige oplossings vir geskille te vind, na te kom,” het sy gesê.

Die maatstawwe waaraan die banke gemeet word, verander egter elke finansiële jaar, in pas met veranderinge in wetgewing en regulatoriese raamwerke.

Die ombudsman gee ook erkenning aan individue vir uitstekende dienslewering. In hierdie kategorie het Karen Jonker van Absa en Rachel Grunstein van Bidvest Bank erkenning gekry vir die wyse waarop hulle klagtes hanteer en oplos.

Intussen het die ombudsman vanjaar twee nuwe kategorieë bygevoeg, naamlik ʼn toekenning vir innovasie en ʼn betrokkenheidstoekenning.

In die innovasie-kategorie word banke gemeet aan hul vermoë om innovering te gebruik om skikking vir klagtes en geskille te kry, terwyl die tweede kategorie kyk na die bank wat die ombudsman betrek by sy opleiding, uitdagings en oplossings. Weereens het Standard Bank in albei kategorieë in die eerste plek geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

SjN ·

Vergelyk appels met appels, wie het die meeste kliënte, verreken dan persentasie gewys tov klagtes

SêMaarNetEen ·

Ga verbasend standerd bank. Seker hul klientediens begin verbeter nadat ek weg is

Hein ·

Capitec het dit nie gemaak nie want hulle maak nie foute nie… Bevange bank!

JC ·

Ek verneem Absa het die prys vir innovering gewen… nie SBSA. Tikfout?

Pieter ·

Dis seker ‘n grap. Probeer ‘n organisasie se tekengemagtigdes by Standard Bank verander, dan sal hulle loshande wen as die swakste.

Attie. ·

Na mondelikse beloftes oor rentekoers vir ‘n 5 jaar belegging wat toe nie nagekom is nie het die ombudsman die kant van die bank gevat en die bank se hoofkantoor het nooit eers vir my verskoning gevra nie. Dit is die papierlose bank tussen die groot vyf. Omdat hulle papierloos is kon die amptenaar niks op skrif stel nie maar daar was getuies wat my saak kon bevestig. Ek het in die bankwese en hul ombudsman geen vertoue nie. Nou moet ek maar my laer rente-vonnis van 5 jaar uitdien. Daarna sal die kapitaal oorsee gaan, SA se banke laat ‘n bitter smaak in my mond agter. Veral die een wat roem dat hy papierloos is.

Koos ·

FNB en Capitec verloor. Absa het 2 categories gewen. Innovering en Best interne ombud.

Koos ·

FNB en Capitec verloor. Absa het 2 categories gewen. Innovering en Best interne ombud. Glo nie FNB en Capitec doen wat hulle se in die media nie.

riaan ·

Verbaas my glad nie dat FNB “verloor” nie want hulle is pateties in elke opsig met ‘n HUB wat net mooi niks omgee nie.

Hulle voel ook ‘n veer vir die Bank Ombud.

Piet ·

Nie eers die Gupta’s kon vir Capitec help om ‘n prys te kry nie. Dis seker hoekom hulle die aandeelhouding in Capitec wil verkoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.