Dié bank se kliënte glimlag breed

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

FNB se kliënte glimlag skynbaar al die pad bank toe.

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het Dinsdag in sy jongste bankkosteverslag onthul dat dié bank die meeste waarde vir geld bied wat beloningsprogramme betref.

Intussen verkeer die land se groot banke onder ál meer druk om hul pryse en beloningsprogramme aan te pas te midde van inflasie en rentekoerse wat aanhou styg.

“Banke se waarde-aanbiedinge pas duidelik aan by die sukkelende ekonomie en sukkelende verbruiker,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by SNI.

Volgens Du Buisson bied vlagskiprekeninge soos dié wat aan die gewone middelklasverbruiker bemark word, die beste waarde.

Du Buisson sê die Capitec-aanbieding sou interessant genoeg die wenner in hierdie afdeling van die verbruikersmark gewees het én in die laeinkomste-afdeling, indien dit alleenlik op die totale koste van ’n bankrekening gebaseer was.

Die ander banke se toegevoegde waarde (lojaliteitsprogramme) sorg egter dat FNB se Fusion Aspire-rekening vir ’n middelklasverbruiker die beste waarde vir geld bied.

Gesofistikeerde bankbehoeftes word ook omarm in die waarde-aanbiedinge van al die groot banke, sê die SNI.

Luidens die instituut se jongste verslag is die FNB Fusion Premier net effens goedkoper as die Absa Premium Package. “Maar vanweë die aantal gratis transaksies wat ’n FNB-kliënt kan doen, insluitend lugtyd-aankope, is dit die beste waarde vir geld. Absa haal die tweede plek in hierdie afdeling, vir juis daardie rede,” sê Du Buisson. Absa het wel begin om sy goedkoopste tipe rekeninge vanjaar te laat begin kwalifiseer vir sy beloningsprogramme.

Hierdie uitgebreide lys van gratis transaksies plaas FNB gemaklik in die eerste plek, met ABSA se Transact-rekening, verlede jaar se wenner, in die tweede plek.

Aanlyn banke

Argieffoto

Die SNI se jongste verslag sluit ook ʼn vergelyking in tussen die rentekoerse en spaarprodukvoordele van die land se vyf grootste banke, asook dié van aanlyn banke soos TymeBank en Bank Zero.

Volgens Du Buisson bied aanlyn banke soos TymeBank ʼn 7%-rentekoers vir verbruikers wat van sy spaarprodukte gebruik maak. En dié aanbod kan selfs tot 8% verhoog word indien ’n verbruiker sy of haar salaris in ’n TymeBank-rekening laat inbetaal.

Du Buisson glo dus dat aanlyn banke, veral vir kliënte wat nie ʼn behoefte aan kontanttransaksies of fisieke takke het nie, verreweg die beste waarde bied. Banke soos Bank Zero en TymeBank se aanbieding is van so ’n aard dat sommige rekeninge se koste vir 14 aanlyn transaksies minder as die helfte van dié van party tradisionele banke is.

“Terwyl verbruikers se beursies steier onder die druk van verhoogde rentekoerse en inflasie pas banke hulle waarde-aanbieding aan om te verseker dat hulle kompeterend bly. Hierdie mededinging verseker dat banke, veral in tye van ekonomiese druk, met mekaar probeer kompeteer ten opsigte van gunstigheid en waarde-aanbiedings. Hoewel aanlyn banke se rekeninge goedkoop bly, is dit die bykomende aanbiedings van groot banke wat ’n verskil maak aan waar verbruikers kan kyk vir wat hulle sakke werklik pas,” sê Du Buisson.

Om die volledige verslag te besigtig, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Alewyn ·

ABSA REWARDS lede kan brandstof ingooi by SASOL. Dit maak dat ons hier in die Wes Kaap nie daarin kan deel nie. Het al aan hulle geskryf om vir ons hier in die WK ook ‘n deelnemende vennoot te gee bv. BP, Caltex of Total, maar GEEN reaksie vanaf ABSA REWARDS. ????

Truman Burbank ·

Ek het ook al agter gekom dat menige keer is die “belonings” minder as die bank koste.

Harley Davidson ·

Capitec het miskien nie so baie belonings nie maar bly nog die beste bank in Suid-Afrika en ek baseer dit op my ondervindinge van die ander drie banke.

piet ·

Ongelukkig gesukkel toe ek ‘n vaste deposito wou doen. Eerste keer dat ek by Capitec was. Toe maar die deposito gelos vir ‘n ander dag.

Phillip ·

My huislening my simkaart van my foon en n begrafnispolis en my bankkaart en my lewenspolis als is by FNB (;-)

Ronél ·

Net wanneer jy bogemiddeld verdien en bestee. Ek kan egter nie kla oor FNB nie.

Cherokee ·

Ek deel met meer as een bank en het ‘n rekening by Absa wat ouer is as Absa. Miskien is dit deels sentiment wat die rekening behoue laat bly, want dit is ‘n oorspronklik Trustbank rekening.

Harley Davidson ·

Dit is nou goeie herinneringe Trust bank was ook my eerste rekening nog oopgemaak met begin van diensplig ,dit was nou goeie diens ,ek dink nie eers absa kan naby kom met diens en vriendelike mense nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.