Dié banke het gelukkigste kliënte

Foto ter illustrasie. (Foto: Rupixen.com/Unsplash.)

Capitec het verlede jaar weer koning gekraai tydens Consulta se jaarlikse kliëntetevredenheidspeiling.

Dít terwyl Absa en Standard Bank onder die bedryfstandaard lê.

Volgens die Suid-Afrikaanse indeks vir kliëntetevredenheid (SA-csi) in bankwese, is Capitec die bank met die gelukkigste kliënte – selfs tydens die Covid-19-pandemie. Nadat 12 500 Suid-Afrikaners aan dié meningspeilings deelgeneem het, het Capitec ʼn tevredenheidstelling van 84,7% behaal.

“Die pandemie het mense gedwing om hul prioriteite te herevalueer. Capitec het egter besluit om ʼn vennoot te wees en kliënte in staat te stel om beter te leef deur betalingsverligting aan te bied,” sê Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec.

Naas Capitec het African Bank ʼn tevredenheidstelling van 83,4 % behaal, met Nedbank (81,1%) en FNB (80,2%) kort op hulle hakke.

Absa (78,6%) en Standard Bank (77,7%) het egter die laagste tellings van die ses grootste banke in Suid-Afrika behaal. Hoewel albei hierdie banke sedert 2019 verbeter het, is hulle steeds onder die bedryfstandaard van 79,6%.

“Absa en Standard Bank het die afgelope vyf jaar slegter gevaar as die bedryfstandaard. Dit dui daarop dat hulle steeds sukkel met hul waardeaanbod aan hul kliënte,” sê Ineke Prinsloo, hoof van kliënte-insigte by Consulta.

“Dit was ʼn onstuimige jaar wat kliëntetevredenheid en lojaliteit betref, aangesien banke se dienste radikaal verander het deur digitalisering en afstandswerksmodelle. Selfbedieningskanale, kunsmatige intelligensie-robotte en apps het die dinamika tussen banke en kliënte verander. Hoewel dit noodsaaklike maatreëls was, het dit ook beduidende gevolge vir kliënte se toekomstige ervaring, verwagtinge en tevredenheid.”

Volgens SA-csi het Capitec (76,7%), African Bank (76,2%), Nedbank (73,5%) en FNB (72,8%) die mees lojale kliënte. Dié banke se punte is boonop ver bo die bedryfstandaard van 71,6%.

“FNB het egter ʼn daling in sy telling van 2016 gesien. Vyf jaar gelede het hy ʼn hoogtepunt van 75,3% bereik en verlede jaar het dit tot 72,8% gedaal. Dit is duidelik dat daar ʼn gebrek aan innovasie of differensiasie is en sedert al die banke tegnologiese gelykheid bereik het, het hy sy waardeaanbod van die ‘digitaal gedifferensieerde bank’ verloor,” sê Prinsloo.

Nedbank het die grootste groei in sy lojaliteitsyfers getoon en hy het van 69,4% in 2016 gestyg tot 73,5% verlede jaar.

Absa en Standard Bank het weer die laagste telling in dié kategorie behaal met 70,4% en 69,3% onderskeidelik. Lojaliteit by dié banke het egter verbeter oor die afgelope vyf jaar.

Prinsloo sê dat Capitec tops is met die minste kliënteklagtes (11,9%) gevolg deur African Bank (14%), Standard Bank (22,5%) en FNB (23%).

African Bank het Capitec egter verbygesteek met sy persentasie opgeloste klagtes (59,7 %) en Capitec se 55,4 %. Dié tellings is glo in ooreenstemming met internasionale maatstawwe. Standard Bank het derde gekom met 51,9 % en FNB laaste met 49,8 %,

“Standard Bank en FNB is albei onder die industriestandaard en ongeveer die helfte van alle klagtes was slegs voldoende opgelos.

“Dit is duidelik dat hoewel die Suid-Afrikaanse banksektor wêreldklas is ten opsigte van kliëntetevredenheid, is daar steeds sommige banke wat wêrelde voor hul eweknieë is in die hantering van kliënte se behoeftes tydens die pandemie,” sê Prinsloo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Joe Olivier ·

‘N goeie vriend van my praat altyd van die bank kartel. Ek stem saam met hom. Wanneer die son skyn gee hulle vir jou ‘n sambreel en wanneer dit begin reën dan vat hulle hom terug.

La-di-da ·

Tipies hoe dit in die land gaan. As dit met jou goed gaan is hulle daar. As jy hulle jou nodig het verdwyn hulle soos mis voor die son

ES ·

Ek stem Joe, maar ek weet ook dat banke risiko-bestuur moet toepas. Die bank kan ongelukkig nie vooruit sien om verseker te weet dat dit weer met jou sal goed gaan in die nabye toekoms, as jy dalk in die moeilikheid is nie.

Die kans is groter dat jy hulle dan nie sal kan terugbetaal nie.

Ongelukkig werk dit maar soos enige besigheid en hulle kan besluit of hulle vir jou wil geld gee of nie. Net soos enige familielid sou doen as jy by hulle wil geld leen.

Johan ·

Vir wie het hulle gevra seker net die top bestuur want Capitec is useless hulle block jou pemanent dan moet jy hulle gaan sien om kaart te aktiveer. Ook die enigste bank wat nie aan kwotas voldoen nie my vermoede. Persone gebruik hulle want diensgeld is min al rede. Die dag as hulle ATM nie werk nie moet jy ander bank gebruik want hulle het nie tellers vir ontrekkings nie. Capitec is n regte derde wereldse bank.

Johan ·

Terloops,ons leef in ń 3de wêreld,Johan 1. Gaan gesels met hulle en daar sàl ń antwoord wees. Johan11.

La-di-da ·

Ons werkende ouer mense (bo 60) wat nog moet werk om die pot aan die kook te hou, het die afgelope 2 jaar verarm. Derhalwe het ons banke verander en gekies met die minste koste en “red tape”. Capitec het elke keer bo uitgekom. Is hulle dalk die bank van die toekoms van armes?

Elsabe ·

Sjoe, het gewonder oor jou (eerste) reaksie. Ruk so bietjie FNB reg.

Elsabe ·

Dit hang natuurlik af van wat jy van jou bank benodig; Fondse en hulle wil nie help nie? Ens. Banke deesdae word beman, en bestuur, deur troppe ander as in die vorige … mellinnium. Natuurlik sal dit verander. Ons moet maar aanpas. Hoe ouer jy word, hoe minder lus het jy vir verandering. Ek vra nie baie van my bank, FNB en ek kry net baie goeie diens van hom (as dit ‘n ‘haar’ was, het sy beter gedoen ;) ). Ek het nie eens nodig om ‘n kaart aan te vra as die vorige byna verval, ek word per sms in kennis gestel die nuwe is oppad. Afgelewer per koerier. Awesome. Moet ook noem, ek is ‘n lojale ondersteuner, ‘n klient sedert 1975. Net EEN ding waaroor ek hulle nog gaan bevraagteken; Hoekom is ek nog nooit met ‘n goue horlosie vereer? Of wag hulle vir die 50jr merk? Sal hulle vra as ek oor bietjie jare die merk bereik.

Bolander ·

Ek is ‘n baie ongelukkige FNB kliënt en gaan poog om so spoedig moontlik my huislening by hulle af te handel. So paar jaar terug, het ons vir my vrou ‘n Capitec rekening oopgemaak, aangesien ons so baie probleme by FNB ervaar het met haar rekening – kaart wat nie by betaal punt werk nie, nuwe kaart wat “kom” maar nooit in die tak arriveer nie, ens, ens, ens. Ek het so paar jaar gelede vir my toe ook ‘n Capitec rekening oopgemaak oor my vrou op haar geld in ‘n paar maande meer rente onvang het as wat ek in jare nooit by FNB ontvang het nie. Dan word geld uit my FNB rekening getrek met ‘n aftrek order wat FNB al 4 keer geblok het in die verlede, maar ek kan dit nie dispuut tensy ek nie self fisies in die bank is nie. Ek is tans in isolatie en verduidelik dit aan FNB, maar met die mooi ironiese boodskap “hoe kan ons jou help” sê hulle dat hulle my slegs kan help as ek die tak bezoek.

Dirk Mostert ·

Stanlib het ook ‘n pyn in die nek geraak. Jy kry nie meer maandelikse state nie, nie eens per epos nie. Om by ‘n Standard Bank toonbank te vra vir ‘n saldo, moet jy eers oor die telefoon allerhande obskure vrae beantwoord om jou identiteit te bevestig.

ES ·

Capitec is die beter bank onder die bekostigbare banke.

Ek het egter ‘n gly gekry in Capitec to ek so 4 jaar terug geld binne ‘n Capitec-tak wou deponeer. Die bestuurder het vir my gevra om dit buite by die OTM te deponeer. Dit was ‘n enorme bedrag geld en ek wou dit vir veiligheidsredes binne die tak doen maar hy het die verskoning gebruik dat dit goedkoper is. Ek was tevrede daarmee om ekstra kostes te betaal ten gunste van my veiligheid maar hy het geweier.

Ek het onlangs ‘n Tyme Bank rekening oopgemaak en dit is baie goedkoper en makliker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.