“Die begin van baie gevegte” – Malema

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, die leier van die EFF. Foto: Werner Beukes / SAPA

Julius Malema, leier van die EFF, het Dinsdag gesê sy party sal nie toelaat dat die verkiesing op 7 Mei deur mense met “twyfelagtige getuigskrifte” beheer word nie.

Malema het ondersteuners van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) toegespreek nadat die party se versoek om ʼn interdik te bekom teen die betaling van ʼn deposito aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), misluk het.

“Dit is die begin van baie gevegte,” het Malema gesê.

Die hof het die party se aansoek met koste van die hand gewys. Politieke partye moet ʼn deposito van R600 000 betaal wanneer hy sy kandidaatlys vir die verkiesing indien.

Die EFF het gepoog om dié vereiste te skrap of te verlaag. Die EFF is bereid om ʼn deposito van tussen R100 of R200 te betaal.

Volgens Malema gaan sy party versoek dat ʼn forensiese verslag, wat glo Pansy Tlakula, voorsitter van die OVK, impliseer, sonder versuim vrygestel moet word. Die EFF sal die hof nader om die OVK te dwing om die verslag vry te stel. “Wat sal gebeur indien die verslag eers ná die verkiesing vrygestel word en dit bevestig dat daar korrupsie in die OVK was en dat die voorsitter daarby betrokke was?” wou Malema weet. “Ons wil nie hê ons verkiesing moet beheer word deur mense met ʼn geloofwaardigheidskrisis nie.”

ʼn Forensiese ondersoek, wat deur die OVK van stapel gestuur is, het glo bevind dat Tlakula en die OVK-kommissarisse nie deursigtig te werk gegaan het toe ʼn huurkontrak vir die OVK se hoofkantoor in Pretoria bekom is nie. ʼn Ondersoek deur die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het glo tot dieselfde gevolgtrekking gekom.

Malema het gesê regter Joseph Raulinga se beslissing bevestig dat die hof die besluite van kapitaliste goedkeur. “Ons het vir julle gesê die rol van die howe is om kapitalisme te bevorder. Die hof het dit nou bevestig. Die hof sê die verkiesing is net vir rykes. Hulle moet skaam voel, en dit is ʼn skande vir die regstelsel van Suid-Afrika,” het hy gesê.

Raulinga het gesê hy sal Woensdag sy volle uitspraak lewer.

Partye moet hul kandidaatlyste op 12 Maart voor 17:00 indien en die deposito betaal. Malema het gesê sy party sal sy kandidaatlys Woensdag indien. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

alet ·

Soe die mannetjie vat nie twak vd regering laat hom toe om alles oop te maak sodat die mense kan sien waarmee die regering besig is waar gaan al die 600.000 heen seker nie na die mense van die land toe nie maar na die ANC se koffers toe blink motors blink huise pense vol elke dag ander sit op straat en vra kos kry vir julle skande

VerVanRyn ·

Die bedrag word aan die OVK betaal, nie aan die ANC nie, maar dan wat is die verskil tussen die twee? Die een regeer die land en die ander bewerkstellig dit…

Jasper ·

Daar is n gesegde wat lees : “Hond eet hond”. Hierdie spul gaan mekaar nou begin byt en dit gaan nie lekker wees nie.

Daleen ·

Hoe ook al. Ander mense moet R600 000 betaal, maar hy wat JM is, is bereid om iets tussen R100 en R200 te betaal. Belaglik! Wat goed is vir die een, is goed vir die ander een.

Grassie ·

Alles wat Malema kwytraak is min of meer in lyn met die beginsels van kommunisme. Indien die EFF `n groot impak in die verkiesing maak sal die SAKP waarskynlik oorstap na hulle toe. Al wat die SAKP moontlik kan terughou is eerstens die leierskap-posisie – wie gaan baas wees en wie klaas. Verder sal al die grootkoppe in die SAKP hul plekke op die soustrein kwyt wees. Daar lê vir ons interessante, maar ook kommerwekkende tye voor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.