Dié belangrike tussenverkiesings vind vandag plaas

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Vyftien tussenverkiesings vind Woensdag landwyd plaas en die fokus om te bepaal hoe die politieke wind waai, sal veral op die vier oorwegend Afrikaanssprekende wyke val, asook op enkele wyke in KwaZulu-Natal.

In die Noord-Kaap sal die DA hoop om die jare lange ANC-greep op wyk 2 van die Nama-Khoi-munisipaliteit te verbreek. Die munisipaliteit setel in Springbok en die wyk strek van die verarmde dorpie Steinkopf af, al met die N7-hoofpad en omliggende plase heelpad tot by die Namibiese grens by Vioolsdrif.

In die 2016- munisipale verkiesing het die ANC die DA net-net geklop in hierdie wyk. Sou die DA die bordjies verhang, word die munisipaliteit ʼn DA-beheerde raad.

Die ANC sal egter kliphard veg om die wyk te behou, met die EFF en ʼn onafhanklike kandidaat ook in die veld. Stempunte is by Vioolsdrif Primêr, Rooiwal Primêr en die Immanuelsaal in Steinkopf.

Nog ʼn geleentheid vir die DA om ʼn ANC-stadsraad oor te neem doen hom voor in Beaufort-Wes wyk 4, wat die middedorp, Die Walle en KwaMadlenkosi insluit.

Die ANC verdedig die wyk teen die DA nadat die sittende ANC-raadslid geskors is. Die geskorste raadslid staan nou as onafhanklike. Nog ʼn aspek wat die slaai lelik deurmekaar kan krap, is dat die voormalige ANC-burgemeester, Truman Prince, nou by die Patriotic Alliance (PA) aangesluit het.

Foto: Demokratiese Alliansie/Facebook

Die PA is die party wat die DA verlede jaar ore aangesit het in die oorwegend bruin Johannesburgse woonbuurt Riverlea, en die teenwoordigheid gister in Beaufort-Wes van die PA-leier, Gayton McKenzie, wys hoe hard dié party probeer wen.

Stempunte is by die Beaufort-Wes-sportterrein en die Khanyisa Educare-sentrum.

Knysna

En daar is ʼn derde stadsraad wat die DA met ʼn wenslag kan oorneem, naamlik Knysna. Die tussenverkiesing is in Hornlee, die verarmde oorwegend bruin gemeenskap wat jy sien as jy die steil heuwel uitry op pad na Plettenbergbaai op die N2.

Die wyk het vakant geraak toe die DA-raadslid, Lorraine Opperman, skielik in Januarie na die ANC oorgeloop het. Sy staan nou as ANC-kandidaat teen die DA.

Die interessantste aspek van Hornlee is dat dit die laaste werklike sterk Cope-ondersteuningspunt in die land is. Cope het nie ʼn kandidaat gestel nie, maar die party se enigste raadslid in Knysna, Ricky van Aswegen, sal burgemeester bly as die ANC die tussenverkiesing wen.

Stempunte is by die AGS se Koinonia-gemeente in Hornlee, asook die Primêre Skool Sunridge.

Die DA sal met kommer wonder of hy Kaapstad wyk 20 (Delft) sal kan behou teen ʼn verbete aanslag van die Cape Coloured Congress (CCC). Die ANC, die EFF en die Groen Party neem ook deel.

Stempunte is by die Primêre Skool Eindhoven, die Primêre Skool Delft, die Primêre Skool Vergenoegd, die Primêre Skool Delft-Suid, die Hoërskool Simunye, die Delft-gemeenskapsentrum en die tent op die hoek van Fabriekstraat en Delft-hoofweg.

‘Gevaarlike’ verkiesing in KZN

Die potensieel gevaarlikste tussenverkiesing van die dag vind plaas in KwaDukuza wyk 5 aan die KwaZulu-Natalse noordkus wat pragtige gebiede soos Ballito, Salt Rock en die voormalige Stanger insluit.

Wyk 5 is nie deel van hierdie bevoorregte strook nie. Dit is die township Lindelani, tuiste van die voormalige IVP-krygsheer wyle Thomas Tshabalala. Die IVP verdedig hierdie wyk; in die onlangse verlede is kandidate wat die IVP-meerderheid bedreig het al aangerand en doodgemaak, maar tot dusver was dit nog nie in hierdie tussenverkiesingsveldtog die geval nie.

ʼn Entjie noord daarvandaan vind ons die Maphumulo-munisipaliteit, waar twee tussenverkiesings in die diep landelike wyke 5 en 7 plaasvind. Wyk 5, wat die hoofpad tussen KwaDukuza en Greytown oorspan, is sterk IVP-wêreld en wyk 7, selfs verder die vergetelheid in, is sterk ANC-gesind.

In die Durban-gesetelde Ethekwini-metro verdedig die ANC een van sy sterkste wyke, naamlik wyk 6, in die heuwels buite Hammarsdale. Twee ander sterk ANC-wyke in die suide van die provinsie hou ook tussenverkiesings, te wete Umzimkhulu wyk 20 (uiters landelik, weerskante van die hoofpad tussen Ixopo en Kokstad) en uBuhlebezwe wyk 4 (die dorp Ixopo en omstreke).

In die Oos-Kaap behoort die ANC gemaklik te wen in Buffalo City wyk 20 (ʼn landelike strook naby Zwelitsha buite Oos-Londen), asook in Lekwa wyk 11 (ʼn landelike gebied buite Standerton in Mpumalanga).

Hiér kies jy tussen die ANC en die EFF
In Noordwes hou Madibeng wyk 40 tussenverkiesing. Die wyk is geleë tussen Brits en Marikana. Opvallend is dat die stempunte by Sonop en Pansdrif, waar die VF Plus en die DA voorheen goed gevaar het, in hierdie wyk is, maar dat die DA en VF Plus nie deelneem nie, wat beteken daardie kiesers kry nou ʼn keuse tussen ʼn raadslid van die ANC of die EFF.

Vreemd genoeg neem nóg die VF Plus nóg Good trouens aan enige van vandag se tussenverkiesings deel.

In die oorblywende twee wyke behoort die ANC te wen en die EFF tweede te eindig. Dit is in die Groter Letaba-munisipaliteit (wat setel in Modjadjiskloof/Duiwelskloof) se wyk 15, bestaande uit die landelike gebied Sekgosese, en die Ga-Segonyama-munisipaliteit in die Noord-Kaap (gesetel in Kuruman) se wyk wat setel in die township Bankhara net buite die dorp.

Uitslae word teen Donderdagoggend verwag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ovelia ·

In Parys Vrystaat is die kantore waar ons moes registreer toegehou. Hul ht n brief teen venster geplak wt se hul os besig mt n onderhoud. Dit is dieov kantoor. Op di stadium is anc aan bewind en dis gaos in di dorp ons is baie wt DA wou stem dan ht ons geweet hoe dit sal wees om in n skoon dorp te bly

Nie Verbaas ·

Enige wyk waar ANC of EFF wen sal n gemors bly agv hulle totale onbevoegdheid. So jammer vir die mense wat daar woon.

Tanniepetoors ·

Vandag stem hul ANC, môre betoog hul en brand als af want ANC verskaf nie dienste nie. Ag hoe dom kan mens wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.