Die Boer-teater in Durbanville, Kaapstad, het aangekondig dat dit na 15 jaar sy deure gaan sluit omdat dit nie meer die groot las veroorsaak deur die Covid-19-regulasies kan dra nie.
Margit Meyer-Rödenbeck en Jurgen Human het in 2005 die teater geopen nadat dit ʼn jarelange droom was. Dit is met ʼn swaar hart dat hulle die besluit geneem het om hul geliefde teater toe te maak.
“Onder die huidige regulasies is dit half onmoontlik vir ons om oop te bly,” sê Human. “ Jy kan jou koste sny so ver soos jy kan, en ons verstaan hoekom die beperkings ingestel is, maar dan maak dit nie sin om oop te bly nie.”
Meyer-Rödenbeck sê hulle het reeds verlede jaar koste probeer sny so ver as hulle kon om die teater te red, maar toe pres. Ramaphosa Maandagaand aangekondig het dat die regulasies onveranderd bly, het hulle binne twee minute besluit dit is tyd om Die Boer se deure te sluit.
“Die Boer is nou onbepaald toe. Voorheen kon ons nog ons vertonings aanskuif en uitstel, maar dit bring eintlik net frustrasies en dit frustreer ons kliënte ook. So ons het al die vertonings gekanselleer en betaal al die kliënte se kaartjiegelde terug,” sê sy.
Hulle sê dit was een van die aakligste besluite ooit, veral omdat hulle hul personeel in die steek laat.
“Ons bedryf is regtig hard geslaan deur hierdie virus. Ons het probeer red waar ons kon en ons het die teater oopgehou vir die kunstenaars en ons personeel, maar ons het besef ons moet sluit. Want as ons so aangaan, is daar op die einde niks meer oor om te red nie,” sê Meyer-Rödenbeck.
Human en Meyer-Rödenbeck sê hulle is wel hoopvol dat die sluiting nie die einde van Die Boer gaan beteken nie, maar dat hulle mettertyd weer sy deure gaan kan oopmaak.
“Hopelik, as ons nou ons koste drasties sny, kan ons dalk oor ses maande weer oopmaak. Ek dink dit gaan afhang van beskikbaarheid van inentings en die regulasies. Maar voor daar nie inentings is nie, kan ons nie ʼn stabiele terugkeer sien nie,” sê Meyer-Rödenbeck.
Sy sê dit is hartseer dat teaters nie as ʼn noodsaaklikheid gesien word nie, maar eerder as ʼn luukse. En daarom staan die kunstebedryf ver agter in die ry om vergunning te kry om oop te wees.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Dit is mos wat die regering wil he.dat alle wit instansies moet toemaak.
Sterkte vir julle, die akkommodasie bedryf is besig om dieselfde padjie te stap. Oorde verhuur chalets al permanent uit om te oorleef.
Dit is só jammer. Dit was ‘n gewilde teater en het goeie vertonings gehad. So gaan alles ten gronde. Dit is nie net Covid-19 se skuld nie.
Hierdie dinge hoef nie te gebeur nie! Dit is die resultaat van ‘n magsbehepte, kommunistiese staat se belaglike regulasies in hulle eie belang, nie die besigheidsektor se belang nie. As die staat enigsens ernstig was om die ekonomie te probeer red en werke en besighede te beskerm sou hulle met beter regulasies ten vore gekom het. Daar sou ook genoeg fondse beskikbaar wees om besighede te ondersteun. Maar terloops, die biljoene Rande in noodfondse het verdwyn in swart gate van bedrog en korrupsie. Die laaste is nou om die entstof se aankope te sentraliseer sodat die fondse soveel moontlik geplunder… Lees meer »
Dis so hartseer om dit te hoor! Die Boer is legandaries en een van die beste kuierplekke. Ek bid dat hulle weer eendag hul deure sal kan oopmaak.